Koeler weer, reën vir naweek voorspel

Argieffoto

Die kwik daal na verwagting van Donderdag af geleidelik oor groot dele van die binneland van Suid-Afrika wat die afgelope paar dae onder ʼn hittegolf gebuk gaan.

“Dit gaan beslis effens koeler raak oor Gauteng en omstreke,” sê Victoria Nurse, weervoorspeller by die Suid-Afrikaanse Weerdiens, “met die temperature wat teen Donderdag tot die lae 30’s sal daal en oor die naweek tot die middel tot hoë 20’s.”

Sy sê hulle verwag reënbuie oor die provinsie van Donderdag tot Maandag met die beste kans van sowat 80% Vrydag. Die weersomstandighede oor die aanliggende Noordwes, Limpopo en Mpumalanga sal feitlik eenders wees.

“ʼn Kouefront tref die Suidwes-Kaap na verwagting Donderdag,” sê Nurse, “wat ligte reën oor die suidweste en later die sentrale dele van die Wes-Kaap tot gevolg kan hê.”

Ook in die Wes-Kaap lyk Vrydag se 60%-kans op reën die beste, waarna dit afneem tot 30% vir Saterdag en Sondag namate die kouefront ooswaarts na die Suid-Kaap beweeg. Teen Maandag behoort dit op te klaar oor so te sê die hele provinsie, voorspel Nurse.

“Oor die westelike dele van die Oos-Kaap is daar Donderdag ʼn 30%-kans op reën en Vrydag ʼn 60%-kans,” sê sy, “en dan nog ʼn geringe kans Saterdag en Sondag terwyl die kouefront verbygeweeg.”

Wat die Vrystaat betref, voorspel die Weerdiens reën van môre af met ʼn 60-80%-kans Vrydag oor die Oos-Vrystaat. “Oor die Wes-Vrystaat verwag ons ʼn geringer kans op reën met net verspreide donderbuie. Dit sal van Donderdag af koeler wees, maar die temperatuur bly heelnaweek in die omgewing van 30 °C.”

Noordwes se naweekweer is feitlik dieselfde as die Vrystaat se voorspelling, maar oor die Noord-Kaapse binneland daal die kwik Vrydag skerp van plek-plek amper 40 °C tot sowat 30 °C vir die res van die naweek. Nurse sê die kans op verspreide donderbuie is bra gering.

In KwaZulu-Natal begin die kwik Vrydag na verwagting daal tot ʼn skamele 22 °C Sondag in Durban met enkele donderbuie elke dag tot die einde van die naweek.

Anderkant die Oranjerivier bly Windhoek kurkdroog, al daal die kwik Vrydag met drie grade tot 32 °C, die hele naweek se verwagte maksimum temperatuur. Aan die kus word die gebruiklike 19-20 °C vir Swakopmund en Walvisbaai voorspel, maar op Lüderitz wissel die temperature van 22 °C Donderdag tot 25 °C Sondag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Willie ·

Ons het Ellisras weer hier in Pretoria… die Kraaie gaap nie net nie, hulle slaap al..

Baardbek ·

Ag nee man vrind Willie?! Daar in petoorsdorp kan dit mos onmoontlik nie vergelykbaar wees met ons hier in Ellsras nie?! Hier moet jy ‘n vuurhoutjie in die koelte van die yskas trek, anders brand hy nie; die hitte laat hom vrek! :-))

Willie ·

@ Baardbek- Ek moes die vierietjie hier in n vrieskas se koelte trek :-))

riana ·

Ja nee kyk mense hierin die Wes Rand is dit net so warm. Sal maar nie eerder rook nie want as jy jou sigaret buite in jou mond hou brand hy van self.
Kan ons maar nie die ou dae se 7 dae perke reen kry nie.

Stephan de S ·

Ek geniet die spitsvondigheid oor die hitte……..laat kom nog n paar!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.