Koelkop vlieënier land veilig ná slang kop uitsteek

Rudolf Erasmus moes Maandag ’n noodlanding met sy Beechcraft Baron 58 maak nadat hy ’n slang gewaar het. (Foto: Verskaf / Brian Emmenis)

ʼn Jong vlieënier van Mpumalanga word as ʼn held geloof nadat hy kalm gebly en ʼn noodlanding uitgevoer het toe ʼn slang hom Maandag in sy Beechcraft Baron 58 verras het.

Rudolf Erasmus (30) het met vier passasiers van Worcester na Mbombela gevlieg toe hy die slang – vermoedelik ʼn uiters giftige Kaapse Kobra – reg by hom gewaar en selfs teen sy lyf gevoel het.

Brian Emmenis, lugskoukommentator en lugvaartkenner, het Woensdag aan Maroela Media gesê Erasmus het koelkop gebly en eindelik ʼn noodlanding by ʼn klein lughawe op Welkom in die Vrystaat gedoen nadat hy kort tevore op Bloemfontein brandstof ingegooi het.

Dít boonop in gure en onstuimige weerstoestande.

Die vlieënier Rudolf Erasmus saam met twee van sy passasiers, Carl Potgieter en Christo Strydom. (Foto: Verskaf / Brian Emmenis)

“Hy [Erasmus] word nou wyd as ʼn aboslute held beskryf,” het Emmenis gesê.

“Hy is deur die hoof van burgerlike lugvaart geloof as ʼn uitmuntende vlieënier en ʼn ware lugvaartheld. Hy het nie net sy lewe nie, maar ook dié van sy vier passasiers, gered. As hy paniekerig geraak het, kon daai vliegtuig neergestort het, ook bo-op huise wat naby die lughawe geleë is.”

Emmenis, wat meer as 40 jaar ondervinding op verskeie lugvaartgebiede het, was self uiters beïndruk met die jong vlieënier wat hy Maandag vir die eerste keer ontmoet het.

Johan de Klerk, slangvanger, soek na die slang op die vliegtuig. (Foto: Verskaf / Brian Emmenis)

“Ek werk met honderde vlieëniers en weet waartoe hulle in staat is.

“Hy was kalm en het homself nie as held grootgepraat nie. Hy het gesê ‘ek het gedoen wat ek moes doen’. Ek, wat bang is vir slange, sou dalk uit daai vliegtuig gespring het.”

Emmenis, wat op Welkom woon, sê hy het hom “boeglam geskrik” toe hy Maandag deur ʼn senior amptenaar van Kishugu-lugvaart [in Mbombela waar Erasmus werksaam is] na die toneel ontbied is met nuus dat een van Kishugu se vlieëniers ʼn noodlanding moes doen nadat “ʼn Kaapse kobra in sy hemp beland het”.

Emmenis het dadelik ook ʼn plaaslike slangvanger, Johan de Klerk, na die toneel ontbied.

Volgens Emmenis het Erasmus iets “koud en nat” teen sy heup gevoel en aanvanklik gedink dis dalk sy waterbottel wat lek. Toe hy kyk, het hy die groot slang gewaar.

“Hy het kalm gebly en die vliegtuig veilig geland. Dit ten spyte van die weer én ʼn dodelike slang.”

In ʼn onderhoud met Laevelder, die Mpumalanga-koerant, sê Erasmus dat die slang onder sy sitplek ingeseil het en dat hy vir ʼn paar minute doodstil gebly het, voordat hy sy passasiers in kennis gestel het.

Brian Emmenis, lugskoukommentator en lugvaartkenner. (Foto: Verskaf)

“Toe hulle land, het hulle blitsvinnig by die vliegtuig uitgeklim. Ek het toe by hulle aangesluit en ons het vir die slangvanger gewag,” het Emmenis verder gesê.

Volgens hom het die slangvanger en sy span tot laataand na die slang gesoek en lokvalle probeer stel, maar niks gevind nie.

Na verneem word, het Erasmus tot Woensdag in die Welkom-omgewing gebly terwyl tegnici ook die vliegtuig gefynkam het op soek na die slang – weer sonder enige sukses. Erasmus is Woensdag terug Mbombela toe – moontlik met sy ongenooide passasier steeds aan boord.

“Ons weet die slang het saamgekom van Worcester af. Waar die slang hom tans bevind, weet niemand nie.”

Die slang is in Worcester by die wiel van die vliegtuig gewaar. Die enjins en vliegtuig is glo egter deursoek voordat die vliegtuig opgestyg het, en daar is aanvaar dat die slang nie op die vliegtuig is nie.

Op dié foto kan die slang by die vliegtuig se wiel gesien word. (Foto: Verskaf deur Brian Emmenis)

Chris Hobkirk van Lowveld Venom Suppliers sê hy is bewus van die voorval, maar dat daar nog nie bevestig is of dit inderdaad ʼn Kaapse kobra is nie. Hy sê indien dit wel die geval is, is dit een van die giftigste slange.

Hy sê hoewel dit ʼn uiters intimiderende slang is, is dit nie aggressief nie, en sal waarskynlik net pik as dit bedreig voel.

Hobkirk sê Erasmus het die regte ding gedoen deur kalm te bly en stil te sit.

Die vliegtuig sal vermoedelik in Mbombela verder deursoek word.

  • Hou Maroela Media dop vir meer inligting oor dié storie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Annelize ·

Ek klim net daar uit en gaan sit op die vliegtuig se vlerk vir die res van die vlug!

Cherokee ·

Daardie slang gaan in die veld opkyk na vliegtuie en vir sy kinders sê hy het al in so vliegtuig gevlieg. Dan gaan hulle na mekaar kyk, hul koppe skud en onderlangs lag. Terkoops, ek het ‘n jakkals saam geneem op ‘n vlug. ‘n Troetel silwer jakkals.

Eugene ·

Ek klim net daaruit. In die lug of nie. Jy is braaf Erasmus. Wel gedaan.

sonneblommekie ·

O liewe aarde…
Ek sal myself beskuie en Sommer op slang Se kop ook…
Glo Nie Ek sal lewendig daar uit Kom Nie?

Wat ñ Held….have yourself a bells!!!

Sandra ·

Daardie vlieenier is ‘n baie beter en kalmer mens as ek. Ek kan nie eens na ‘n uitgedroogde dooie slang so lank soos ‘n wurm kyk sonder om die horribale piep te kry nie (laasgenoemde was op ons grasperk en ek het tot die honde ingeroep uit vrees dat die ding weer lewend gaan word), wat nog te se hoog in die lug met ‘n lewendige een teen my rug. Nee dankie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.