Koerant moet jammer sê oor Zille se “kabinet vol wit mans”

Helen Zille

Helen Zille

Die persombudsman het Maandag beslis dat The New Age-koerant om verskoning moet vra aan Helen Zille oor ʼn berig dat haar kabinet deur wit mans oorheers word.

Johan Retief, die adjunk-persombudsman, het die koerant opdrag gegee om ʼn verskoning op bladsy 2 te publiseer, met ʼn verwysing op die koerant se voorblad na Zille en die verskoning.

The New Age het op 24 Mei vanjaar ʼn artikel op sy voorblad gepubliseer met die hoofopskrif “Zille under fire over cabinet” [Zille in die spervuur oor kabinet], en ʼn sub-opskrif “ANC blasts majority white male composition but premier dismisses criticism as hot air.” [ANC kritiseer meerderheid van wit mans maar premier maak dit as snert af].

Zille, leier van die DA en die Wes-Kaapse premier, het ʼn klag by die persombudsman ingedien dat die berig aanvoer dat haar kabinet deur wit mans oorheers word, maar dat dié inligting foutief en misleidend is.

Volgens Retief het die koerant berig Zille is weer gekritiseer deur die ANC omdat haar provinsiale kabinet deur wit mans oorheers word.

Pierre Uys, die ANC se hoofsweep in die Wes-Kaapse wetgewer, het in die berig gesê die heraanstelling van agt voormalige kabinetlede dui daarop dat Zille nie belangstel in die belange van armes nie.

Michael Mpofu, Zille se woordvoerder, het die bewerings verwerp. Mpofu het verduidelik dat die nuwe kabinet uit vier wit mans, drie bruin mans, twee swart en twee wit vroue, waaronder Zille, bestaan.

Volgens Mpofu het die berig se opskrifte ʼn persepsie by lesers geskep dat Zille gekritiseer word omdat sy ʼn rassis is.

Phatisani Moyo, The New Age se redakteur, het in die koerant se verdediging gesê die berig het oor die ANC se kommer oor wit oorheersing gegaan. “Die artikel het op die ANC se kommer oor die saak gefokus, en die artikel is ʼn ware aanduiding daarvan,” het Moyo gesê.

Volgens Retief het die sub-opskrif die indruk by hom geskep dat dit as ʼn feit weergegee word, en nie as die ANC se mening nie. “As dit die ANC se mening was, sou ek verwag het dat die sub-opskrif in aanhalingstekens gebruik word,” het Retief bygevoeg. Hy het gesê die sub-opskrif dui op rassisme.

“Dit is redelik om dié teks as ʼn feit te aanvaar, en dit kom neer op ʼn verbreking van die Perskode. Wat my betref is dit nie ‘n feit dat die kabinet deur wit mans oorheers word nie. Vier uit 11 mense kan skaars ‘oorheers’,” het hy bygevoeg. Klik hier om die volledige uitspraak te lees. – SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.