Koerant moet jammer sê vir SAL

Argieffoto

Argieffoto

Die persombudsman het The Times beveel om die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) om verskoning te vra oor ʼn artikel wat in die koerant verskyn het.

Die koerant het in Julie ʼn artikel gepubliseer waarin daar beweer is dat ʼn verteenwoordiger van SAL ʼn 12-jarige seun in die sorg van ʼn vreemdeling gelos het by ʼn lughawe in Hong Kong.

Die lugredery is glo deur die seun se ma versoek om hom van die vliegtuig af te vergesel tydens die vlug van Hong Kong na Johannesburg.

Die koerant het egter berig dat die seun alleen gelos is vir amper vyf ure. ʼn “Besorgde passasier” het glo vir die volgende twee dae na die seun omgesien.

SAL het ʼn klag by die persombudsman ingedien en beweer dat die artikel feitelik onakkuraat en ongebalanseerd is, dat die bewerings in die artikel as feite voorgehou is en dat die opskrif misleidend was.

SAL beweer dat die seun met Asiana Airlines na die Hong Kong Internasionale-lughawe gevlieg het en dat hy van daar met SAL na Johannesburg sou vlieg.

Die vlug van Asiana Airlines is egter vertraag en volgens SAL was dit dié lugredery se verantwoordelikheid dat passasiers, insluitend minderjariges, nie hulle aansluitingsvlugte mis nie.

SAL voer aan dat ʼn verteenwoordiger van Asiana Airlines die SAL-toonbank genader het en ingelig is dat die vlug gekanselleer is. SAL het aan die verteenwoordiger gesê dat hulle die seun eers kan help wanneer daar ʼn alternatiewe vlug beskikbaar is.

Asiana Airlines was dus verantwoordelik vir die seun se veiligheid. SAL beweer dat The Times se artikel onakkuraat en onregverdig was en dat daar hoofsaaklik op die getuienis van die ma en seun gefokus is en dat slegs ʼn gedeelte van SAL se kommentaar aan die einde van die artikel bygewerk is.

Die koerant is beveel om SAL om verskoning te vra en ʼn opsomming van die persombudsman se bevinding te publiseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.