Koerant moet jammer sê vir Zuma se vrou

Pres. Zuma en sy vrou, Thobeka. Foto: GCIS

Pres. Zuma en sy vrou, Thobeka. Foto: GCIS

Die persombudsman het ‘n koerant beveel om president Jacob Zuma se vrou, Thobeka Madiba-Zuma, om verskoning te vra na aanleiding van ‘n onakkurate artikel wat deur die koerant gepubliseer is.

Johan Retief, die ombudsman, het gelas dat Isolezwe, ‘n Zoeloe-koerant, die volgende op sy voorblad moet publiseer: “Isolezwe vra onvoorwaardelik om verskoning aan mev. Thobeka Madiba-Zuma – sien bladsy vyf”. Retief het gelas dat die sin direk onder die mashoof gepubliseer moet word en dieselfde grootte moet wees as die oorpronklike artikel wat op 23 Maart gepubliseer is. Die koerant moet ook ‘n opsomming van Retief se bevindinge en die sanksie sowel as ‘n toepaslike apologie publiseer.

Isolezwe het die artikel gepubliseer met die opskrif: “Zuma se vrou en vermoedens van roof – verkoop glo motor wat nie bestaan nie”. Madiba-Zuma het gekla dat die storie vals bewerings bevat, dat die verslaggewer haar nie genoeg tyd gegee het om te reageer nie en dat die koerant haar reputasie en waardigheid skade aangedoen het met die ongegronde bewerings.

Volgens Retief het die artikel beweer dat Mbali Khumalo van Mpendle, KwaZulu-Natal ‘n saak teen Madiba-Zuma aanhangig gemaak het omdat sy glo R40 000 by haar gesteel het. Madiba-Zuma het glo ingestem om ‘n Toyota Raider vir R46 000 aan haar te verkoop. Khumalo sou glo die uitstaande R6 000 betaal het nadat sy die motor in ontvangs geneem het. Sy het egter glo nooit die motor of ‘n terugbetaling ontvang nie.

Die verslaggewer het Khumalo in die berig aangehaal waar sy glo gesê het die motor behoort aan Madiba-Zuma se ma en dat sy die geld in CA Dlamini, glo Madiba-Zuma se ma, se rekening in betaal het. Maddiba-Zuma het in haar klag gesê sy weet niks rakende die inhoud van die storie of Khumalo nie. Sy het ook ontken dat CA Dlamini haar ma is.

Sandile Mdadane, naweekredakteur van Isolezwe, sê daar is ‘n opvolgartikel gedoen en dat Madiba-Zuma se reaksie hierin weergegee is. “Ek is bang dat Mdadane verkeerdelik gedink het dat dit genoeg was vir hom om Madiba-Zuma se” kant “van die saak in te sluit – sonder om dit duidelik en onomwonde te stel dat die koerant dit in die eerste plek verkeerd gehad het. Dit is kommerwekkend,” het Retief gesê.

Retief sê daar is ‘n verskil tussen om te erken dat jy verkeerd was en om oor die ander “kant” van die storie verslag te doen. Hy het bevind dat die artikel onnodiglik Madiba-Zuma se reputasie en waardigheid skade berokken het. “Nie net was dit onakkuraat nie; dit was ook in wese onregverdig teenoor haar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.