Koerant ontslaan politieke redakteur

Matuma Letsoalo was CNN se Afrika-verslaggewer van die jaar in 2004 en die SA joernalis van die jaar in 2011. Foto: M&G

Die Mail & Guardian (M&G) het sy bekroonde politieke redakteur wat reeds 14 jaar lank by die gesaghebbende weekblad werk, ná ʼn onafhanklike ondersoek ontslaan.

Matuma Letsoalo is weens botsende belange afgedank nadat die koerant se bestuur die aanbevelings van ʼn ondersoek na hom toegepas en ʼn tugverhoor gehou het waartydens Letsoalo ʼn regsverteenwoordiger gehad het.

Die voorsitter van die tugverhoor het bevind Letsoalo het die weekblad se gedragskode oortree, berig M&G op sy webwerf.

Die webwerf Daily Maverick het einde Oktober berig Letsoalo het in 2010 sake met die Passasierspooragentskap (Prasa) in ʼn onreëlmatige tendertransaksie gedoen.

Dit het aan die lig gekom nadat Prasa se raad talle forensiese ondersoeke gelas het na aanleiding van die vorige openbare beskermer se verslag van 2015 ná onreëlmatighede en wanadministrasie waarop die ouditeur-generaal afgekom.

Blykens getuienis het Letsoalo nie die volle waarheid gepraat toe hy beweer het hy het sy sakebelange vir die tydperk 2010 tot 2012 verklaar nie. Die weekblad se huidige leierskap onder aanvoering van Khadija Patel, die hoofredakteur, het die saak daarna laat ondersoek.

Patel het aan Daily Maverick gesê sy neem die aantygings baie ernstig op.

Die regsfirma Werkmans het in sy ondersoek bevind Letsoalo was ʼn sleutelfiguur in wat eindelik geblyk het ʼn onregmatige tender was. Dit het verband gehou met ʼn gesamentlike onderneming tussen XL Nexus Travel en Kgomomorareng Travel (Nexus/KMM), wat op 5 Augustus 2010 ʼn driejaartender van Prasa aanvaar het. Letsoalo se handtekening verskyn op die aanvaardingsbrief in sy hoedanigheid as besturende direkteur van KMM.

Die tender het agterdog gewek nadat dit maand ná maand hernieu is nadat dit verval het. Ook moes dit na regte nie toegeken gewees het nie omdat die gesamentlik onderneming nooit saam daarop gebie het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Geregtigheid ·

Wonder hoeveel geld het hy uit die transaksie gemaak? Daar is meer agter die saak.

Jerry ·

Die plunderaars is soos n plaag wat orals skade aanrig. Dit strek wyd vanaf die laags besoldigdes tot die hoogsbesoldigdes.

Johann M van Heerden ·

Wat kan ons nog verwag? Alles is buite beheer. Ons moes dit voorsien het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.