Koerant vra Kleinfontein om verskoning

Kleinfontein. Argieffoto.

Kleinfontein. Argieffoto.

Die Sunday Times het die Kleinfontein-gemeenskap, oos van Pretoria, Sondag in ’n berig om verskoning gevra en erken dat hy op 9 Februarie foutiewe inligting en stellings wat nie gestaaf kan word nie, oor die Afrikanergemeenskap gepubliseer het.

Kleinfontein se regsverteenwoordiger het, nadat daar in Februarie oor die gemeenskap berig is, ’n klag by die persombudsman gelê en die ombudsman het gevolglik die koerant opdrag gegee om die verskoning te publiseer.

Die koerant het onder andere publiseer dat Kleinfontein op die punt staan om gelikwideer te word, maar moes dié stelling terugtrek nadat dit aan die lig gekom het dat Kleinfontein se finansiële state toon dat hy ’n positiewe kontantvloei genereer.

Die aantyging dat Jan Groenewald, voorsitter van die direksie van Kleinfontein, aan korrupsie skuldig bevind is, is ook teruggetrek. Die koerant het gesê daar is geen feite om dié uitlating te staaf nie.

Sunday Times het ook erken dat hy aantygings van bedrog, wat deur ’n splintergroep op Kleinfontein gemaak is, aan die Registrateur van Koöperasies toegedig het. Hy maak dit ook duidelik dat Kleinfontein se direksie demokraties verkies word en dat daar nie sprake van “diktatorskap” is soos wat hy beweer het nie.

“Ons is verlig oor die regstelling. Die koerant het sonder teenstand ingestem om dit te publiseer, wat bewys die aantygings van hierdie splintergroep op Kleinfontein hou geen water nie,” het Groenewald in ʼn persverklaring gesê. “Die oorgrote meerderheid van die Kleinfontein-gemeenskap bou entoesiasties aan die ideaal van Afrikanerselfbeskikking. Ons en ons stads- en streeksbeplanners werk volstoom aan ʼn formele status vir Kleinfontein. Dit het ’n hupstoot gekry toe Gauteng verlede jaar erken het Kleinfontein is ’n kultuurgemeenskap ingevolge artikel 235 van die Grondwet.” 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Ria M ·

“Die oorgrote meerderheid van die Kleinfontein-gemeenskap bou entoesiasties aan die ideaal van Afrikanerselfbeskikking. Ons en ons stads- en streeksbeplanners werk volstoom aan ʼn formele status vir Kleinfontein. Dit het ’n hupstoot gekry toe Gauteng verlede jaar erken het Kleinfontein is ’n kultuurgemeenskap ingevolge artikel 235 van die Grondwet.”

Dit is waarna ons strewe, selfbeskikking.

Dannie ·

Vir almal wat omgekrap was na die Sunday times se leuens is die welkome verligting. Kom kyk gerus wat op kleinfontein aangaan. Huise vanaf 400 000-1.3m beskikbaar. Ons spog met n aftreeoord, siekeboeg, skool en selfs n pragtige wildpark. http://Www.kleinfontein.net

Ina ·

My pa het n hele paar jaar terug daar gebly en is daar begrawe. Sal wat wil gee om daar te bly want dit is die oulikste plekkie. Vir interessantheids-onthalwe… weet enige iemand of daar al enige misdaad was???

Dr Ben van Tonder ·

My liewe Maroelamedia: Julle skryf: “……. deur ’n splintergroep op Kleinfontein . . .. ”
Het jul joernalis vir ons ‘n definisie van ‘splintergroep’ asb?
. . . is sowat 40% ‘n splintergroep? Dis hoeveel hul etlike kere al in die verlede uitgespreek het teen bepaalde handelinge en versuime van die bestuur / Direksie. (Daardie hoeveelheid is boonop groeiend na baie negatiewe skriftelike voorlopige bevindinge van ‘n onafhanklike ondersoekspan van die Registrateur van Kooperasies wat Okt 2013 uitgereik is na maande lange ondersoek en wat in Januarie 2014 bekend geword het onder lede.)
Ook daardie 40% is Afrikaner-mense wat aandring op selfbeskikking en vryheid, maar net ook met ‘n eerste wêreldse manier van bestuur en met handhawing van ware volksdemokratiese beginsels.
Het julle joernalis hoegenaamd ondersoek ingestel? Vra daardie gevolgtrekkings van die eksterne ondersoekspan en ander onafhanklike opinies en besprekings daaroor aan – meeste joernalistieke huiswerk is klaar vir julle gedoen – en praat eers dan weer. Maar praat dan tog asb soos goeie ingeligte geloofwaardige ‘waghond-joernaliste’ wat soos van ‘n selfstandige onafhanklike pers verwag word, druk uitoefen dat ook ons eie instellings uitnemend moet word en wees. As dit verkeerd is om Inkandla toe te smeer, dan is dit mos ook verkeerd om ander verkeerdhede toe te smeer – of hoe?
Het julle al gehoor van ‘lojale verset’? Stem julle saam dat dit nodig en goed is vir die Afrikaner? Gaan ontmoet genoeg uit daardie “40% + opposisie” dan sal julle dit daar vind.
Net so terloops: Julle weet tog mos waarheid en reg word nie met opsteek van hande beslis nie. Ewe min elders as by die stembus in RSA geld: “Truth does not become more true by virtue of the fact that the entire world agrees with it, nor less so even if the whole world disagrees with it.” Sal julle in die lig daarvan weer verkleinerend praat oor ‘splintergroep’ waar ook al?? In hierdie geval is dit nie eers naastenby so iets nie en maak jul jul skuldig aan verspreiding van disinformasie.
Geld julle kommentaar by:
http://maroelamedia.co.za/blog/nuus-in-konteks/nuuskommentaar-nkandla-verslag-wat-nou/
net vir die ANC?
Of geld dit ook vir enige ander meerderheids en minderheidspartye – in RSA verkiesing en elders – wanneer hul ‘n “reeks kommerwekkende optredes en uitsprake” agter hulle het? Julle skryf mos:
“Of andersom gestel. Al manier waarop die kieserspubliek die president kan straf vir die reeks kommerwekkende optredes en uitsprake, is om die ANC self te straf. “

Johan Ferreira ·

Vir die doel van hierdie kommentaar haal ek Martin Luther aan: You are not only responsible for what you say, but also for what you do not say.
Martin Luther
Overgeset synde: indien iets verkeerd is versaak jy jou verantwoordelikheid deur stil te bly.Dit is ook die geval indien ‘n persoon nie alle standpunte oorweeg en beredeneer nie.
Kleinfontein is my tuiste en sal dit bly, daar is ongelooflike groot potensiaal wat wag om ontgin te word. My strewe is om ontslae te raak van dit wat Kleinfontein stroop van daardie potensiaal.
Johan Ferreira

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.