Koerierwerkers buite winkelsentrum ontvoer

misdaadtoneel

Argieffoto

ʼn Bussie van ʼn koeriermaatskappy is Maandagoggend buite ʼn winkelsentrum in Port Elizabeth gekaap, waarna die kapers die werkers van die maatskappy glo in die bussie ingeboender en met hulle van die toneel weggejaag het.

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, het gesê die voorval het buite die Walmer Park-winkelsentrum gebeur.

Volgens Naidu was die bestuurder en sy passasier besig om pakkies wat afgelewer moes word af te laai, toe drie kapers hulle oorval het. Twee van die kapers was gewapen. Die bestuurder en passasier sê hulle is in die bussie in gedwing en een van die verdagtes het met die bussie weggery. Sy twee makkers het die bussie in ʼn bakkie gevolg.

“Die gekaapte bussie het in Charlo stilgehou waar die verdagtes selfone uit die bussie oorgelaai het in die bakkie in. Die bestuurder en die passasier se selfone is ook geroof. Die geraamde waarde van die selfone wat gesteel is, is R150 000,” het Naidu gesê.

Die slagoffers is saam met die bussie langs die pad agtergelaat.

Sake van kaping en ontvoering word ondersoek.

Naidu het namens die polisie ʼn beroep op motoriste gedoen om te alle tye bewus van hul omgewing te wees en dadelik alarm te maak indien hulle verdagte persone of gedrag opmerk, veral wanneer hulle besig is om goedere in of uit ʼn voertuig te laai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

JM ·

Die selfone gaan nou weer op die swart mark hul verskyning maak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.