“Koester jou kinders elke oomblik” – sê Centurion-tiener se pa

Catelin en haar boetie

Catelin en haar boetie

Daar het ʼn somber atmosfeer geheers toe Catelin de Witt (14) se ouers Dinsdag met Maroela Media gepraat het ná ʼn skiettragedie haar lewe Vrydagmiddag in Amberfield Glen in Centurion geëis het.

“Die mense in Centurion is wonderlik en die ondersteuning wat ons ontvang is onbeskryflik,” het Okker en Gizela de Witt, Catelin se ouers, aan Maroela Media gesê. “Daar word so baie blomme by ons afgelewer dat ons nie meer weet wat om daarmee te doen nie. As ʼn mens nou iets positiefs uit dié negatiewe ervaring kan kry dan is dit die gemeenskap se ondersteuning. ʼn Mens kan nie vir iets beter vra nie.”

Okker sluk emosioneel trane weg wanneer hy terugdink aan Vrydag se tragiese gebeure. “Dit was die naweek my beurt dat ons kinders by my kom kuier. Ek het nog vir Catelin, haar boetie (10) en hul jonger sussie by hul onderskeie skole gaan oplaai. Sy was opgewek, ek het nie onraad vermoed nie. Ons sou nog die aand braai. Net toe ons by die huis gestop het, het sy vir my gevra of sy en haar boetie by die parkie oorkant ons huis kan gaan speel. Hulle het altyd daar gaan speel, dit was hulle spesiale plekkie waar hulle baie tyd saam spandeer het.”

Volgens Okker was Catelin baie lief vir haar boetie en hulle was beste vriende. “Hulle het omtrent alles saam gedoen,” het hy gesê.

Gisela de Witt, Catelin se ma, het gesê dit ontstel die gesin om vals gerugte oor die skietvoorval te hoor. “Catelin se boetie was nie saam met haar toe die skote gevuur is nie. Ons dink sy het hom na hul spesiale plekkie geneem om hom persoonlik te groet. Sy het hom voor die voorval na haar pa toe teruggestuur,” het Gisela gesê.

Okker sê hy was by sy buurman toe sy seun van die parkie, sowat 500 meter van sy huis af, aangestap kom. “Kort daarna het ons twee skote gehoor en toe ek gaan ondersoek instel, het ek haar daar sien lê.” Hy sê Catelin het nog nooit voor Vrydag ʼn vuurwapen hanteer nie. “Ons is in die duister oor die rede vir die skietery. Sy het geen nota agtergelaat nie.”

Gisela was op pad na haar eie huis toe, toe sy oor die tragedie ingelig is. Sy sê Catelin sal vir altyd onthou word as ʼn energieke kind met baie maats, wat altyd besorg was oor haar medemens. “Sy was baie liefdevol en tog net ʼn doodgewone tiener wat baie van haar musiek en televisieprogramme gehou het. Haar gunstelingkleur was pers: alles moes pers wees,” sê sy met ʼn liefdevolle glimlag.

Catelin was ook kunstig en ʼn kranige poësieskrywer wat goed op skool presteer het. Okker het gesê sy was baie lief vir seelewe en haar grootste droom was om eendag ʼn fotograaf vir National Geographic te word.

Op ʼn vraag of Okker en Gisela raad vir ander ouers het, antwoord Okker passievol en vinnig: “Treasure jou kinders elke oomblik!”

Gisela pleit by elke ouer om gedurig met hul kinders te kommunikeer. “Praat, praat en praat. Praat oor alles.” Sy voeg by dat kinders moet omsien na hul vriende en enigiets verdag by hul ouers, vriende se ouers, of onderwysers moet aanmeld, maak nie saak hoe gering dit voorkom nie.

Maroela Media het Vrydag oor Catelin se skietdood berig, en hoe die gemeenskap die ouers ondersteun deur ruikers by die landgoed waar die tragedie hom afgespeel het, af te laai. Baie lief was vir haar en sy gaan baie gemis word…

Kaptein Tsekiso Mofokeng, ʼn polisiewoordvoerder, het Saterdag bevestig die tiener het moontlik haar pa se vuurwapen tydens die voorval gebruik. Die polisie doen ʼn geregtelike nadoodse ondersoek.

Catelin word Vrydag tydens ʼn private diens begrawe.

Lees ook:
Skool bied berading ná leerling se dood
Blomme om saam met ouers te treur
PTA-skolier pleeg glo selfmoord

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Nina ·

Innige simpatie aan elkeen wat hierdeur geraak word. :( Dit is tragies.

Hester ·

My innige simpatie. Ek wonder net waar het sy die pistool gekry?

Kay-Lee ·

My hart breek vir hierdie ouers. Baie sterkte vir die pad vorentoe sonder jul kind.

linda ·

Koester mekaar elke oomblik dit kan jou laaste wees of hulle s’n!

Ware woorde – sterkte aan almal betrokke!

Elizabeth ·

Nou hoop ek eerstens die skinderbek-kritici wat sommer die arme kind as selfsugtig beskryf het omdat sy dan nou haarself voor haar boetie sou geskiet het kry skaam! Alles leuens! Dis hoekom ek skinderstories so haat – mense wat niks weet versprei leuens en gerugte en las stertjies by stories en dit in so ‘n hartseer tyd! Mense moet DINK voor hulle skryf/praat oor ander! Die Italianers het ‘n gesegde dat die tong nie bene inhet nie maar dit kan bene breek! Ek bid die familie baie sterkte en vrede toe. Dis ‘n moeilike pad en ek persoonlik sal jul in my gebede opdra.

Mariette ·

Die mees hartseerste onderwerp in die lewe is dat komunikasie tussen ouers en kinders nie meer vandag bestaan nie..kyk maar self om jou rond oral loop gesinne waar ouer en kind ewe hard besig is met hul fone, lag en gesels?? nie eers aan ‘n taffel by wimpy nie….
Ouers vandag is net te besig..kinders word ouerloos groot in hul eie huise

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.