Kokaïen van R14 miljoen by Ngqura-hawe gevind

Argieffoto (Foto: Steve Buissinne/Pixabay)

Kokaïen met ʼn geraamde waarde van R14 miljoen is by die Ngqura-hawe, ’n diepwaterhawe sowat 20 km noordoos van Port Elizabeth, onderskep.

Kapt. Khaya Tonjeni, woordvoerder van die polisie, het gesê die vonds is op 29 Januarie gemaak. “Die koopvaardymeester is deur ʼn tegnikus in kennis gestel van onwettige vrag op die skip,” het hy gesê. “Die tegnikus het tydens sy roetine-ondersoek opgemerk die houer ondervind ʼn probleem om koue temperatuur te sirkuleer om seker te maak dat kos vars gehou kan word vir die res van die reis. Toe hy ondersoek instel, het hy op onbekende pakkies in die betrokke houer afgekom.”

Die voorval is op 30 Januarie by die wetstoepassers by die hawe aangemeld vir die nodige aandag.

“Polisiebeamptes het die bokse geïdentifiseer en teruggehou vir fisiese ondersoek deur hawe-sekuriteit. Daar is bevind die houer is van Brasilië na China op pad en daar was gevolglik nie enige individue wat uitgeken of aangekla kon word vir die inhoud van die verdagte vrag nie.”

Alle rolspelers is in kennis gestel, insluitend Transnet-veiligheidsbestuurders, die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke, die departement van binnelandse sake, hawe-gesondheidsbeamptes en misdaadintelligensie.

“Tydens die ondersoek is die inhoud positief as dwelmmiddels geïdentifiseer. Minstens 30 blokke saamgeperste kokaïen met ʼn geraamde straatwaarde van R14,1 miljoen is gekonfiskeer.”

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hennie J ·

Ten minste n wakker tegnikus! Die einde van die berig ontbreek……………die deel waarin berig word dat die dwelmfonds op onverklaarbare wyse in die niet verdwyn het!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.