Soorte resepte:

‘Kokkedoor’ se sjef Pieter floreer in Wes-Afrika

Sjef Pieter Malan. (Foto: Verskaf)

Deur Leonie Bezuidenhout

Pieter Malan, die Laeveldse sjef wat bekendheid verwerf het as deelnemer aan die TV-kosprogram Kokkedoor, het vroeër vandeesmaand sy staal agter die kospotte by die internasionale kulinêre Olimpiese Spele gewys, en met die brons medalje weggestap.

Hy het vroeër vanjaar ʼn soloreis aangepak na Messe Stuttgart, ʼn kosfees in Duitsland, waar hy aan die 26ste jaarlikse IKA (Internationale Kochkunst Ausstellung) kulinêre Olimpiese Spele deelgeneem het.

Oor dié gesogte toekenning is hy uiters opgewonde en dit beteken vir hom soveel op ʼn persoonlike en professionele vlak, sê hy.

“Dit is vir my iets waarvoor ek as sjef al lank werk en voorberei, nes ʼn atleet, en ek dink so ʼn toekenning bring baie verantwoordelikheid daarmee saam,” sê Pieter.

Hy het voorheen ook gesogte toekennings in die gasvryheidsbedryf ingeoes en is sedert Februarie verlede jaar die uitvoerende sjef by die vooraanstaande Fiesta Hotels and Residences in Accra, Ghana.

“Ek is reg om saam met Afrika te groei en te help waar ek kan om ons kookkuns op ʼn uitnemende vlak te hou. Ek kompeteer as ʼn sjef al vir jare en dit het moed geverg om die reis onafhanklik aan te pak. Nou is ek slaggereed vir die goud in 2028!”

Volgens Pieter was dit aanvanklik ʼn groot aanpassing om in Ghana te werk, aangesien die klimaat en die inheemse bestanddele soveel verskil van dié in Suid-Afrika.

Pieter het die brons medalje op die kulinêre Olimpiese Spele in Duitsland verower. (Foto: Verskaf)

“Ons is in Suid-Afrika bevoorreg met soveel goed wat ons nie elke dag raaksien nie. Ghana is ʼn warm, tropiese land en ek moes leer om die hitte gewoond te raak.

“Ek moes ook leer hoe om met tropiese kosse soos plantaine [meelpiesang] en hibiskus te werk. Soos wat maroelas in die Laeveld van die bome af val, val kokosneute hier van die bome af. Die mense is warm en vriendelik en het my sommer gou welkom laat voel.”

Pieter se vrou, Michélle, en hulle drie jong seuns, Zion, Samuel en Albertus, het in Suid-Afrika agtergebly terwyl hy sy kontrakwerk in Ghana doen.

“Hulle is nog al die pad in Nellies [Mbombela, Nelspruit], wat altyd huis sal bly. Ek mis die huis en my mense baie, en ʼn goeie braai en boerekos bly maar my hart se punt,” sê Pieter.

Pieter is ʼn invloedryke figuur in die Suid-Afrikaanse kulinêre bedryf en is steeds die streeksvoorsitter vir die Suid-Afrikaanse sjefsvereniging in Mpumalanga.

Hy het tans ʼn ellelange lys van verantwoordelikhede in sy kombuis in Wes-Afrika waar hy die leier van ʼn groot span mense is.

“Gevolglik is ʼn mens iets van alles – van ʼn dokter of ʼn sielkundige tot ʼn skouer vir iemand om op te huil. ʼn Mens moet onthou jy werk met mense agter die skerms en ek begin altyd die dag deur te dink waar kan ons verbeter, nie net vir onsself nie maar ook vir ons kliënte.”

Hy is by die hotel in beheer van twee groot kombuise: ʼn Onthaalkombuis wat daagliks vir sowat 600 mense ʼn internasionale buffet voorberei, en ʼn kombuis waar geregte vir fynproewers geskep word.

Sjef Pieter sê die mense in Ghana is warm en vriendelik en hom dadelik welkom laat voel. (Foto: Verskaf)

“Dit is die plek waar ons die grense toets met innoverende Afrika-geregte, waarvoor ons ook verlede jaar twee wêreldtoekennings ingeoes het. Die een kombuis word met militêre presisie beheer en in die ander een dink ons buite die boks.

“Elke dag is anders en ek moet gereeld op my voete dink om aanpasbaar te bly en om skielike versoeke onmiddellik te kan uitvoer.”

In die buffet-restaurant word ʼn groot verskeidenheid van geregte uit Wes-Afrika bedien, asook ʼn rits internasionale geregte soos afval, Japanse soesji en daar is selfs ʼn hele Amerikaanse gemakskosafdeling.

“In Grill Room, my ‘fine dining’-baba, maak ons moderne kos en gebruik gereeld Heston Blumenthal se navorsing om met geregte te speel.

“Ek wil regtig kyk hoe ons geregte van Wes- en Suidelike Afrika op ʼn wêreldvlak kan bedien.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.