Kollega vra vir seks; afdanking nie geregverdig

court-hammer_thumbDie arbeidshof in Kaapstad het bevind dat ‘n man wat sy vroulike kollega vir seks gevra het nie afdanking regverdig nie, berig The Times.

Adrian Simmers, ‘n installerder by Campbell Scientific Africa, is afgedank nadat hy tydens ‘n dissiplinêre verhoor skuldig bevind is aan seksuele teistering, onprofessionele gedrag en op aanklagte dat hy die maatskappy in oneer gebring het.

Volgens die berig is Simmers in 2012 saam met sy kollegas, Frederick le Roux en Catherine Markides, vir ‘n sakereis na Botswana. Die drie het glo een aand saam gaan eet. Simmers het glo na die ete vir Markides gevra of sy ‘n minnaar soek vir die aand. Markides het nee gesê waarna Simmers gesê het “indien jy van plan verander gedurende die aand kom na my kamer toe.”

Regter Anton Steenkamp sê Simmers het die saak nie verder gevoer nie en het ook nie aan Markides geraak nie. Hy sê dit was ‘n eerste oortreding. “Dit was nie ‘n eis vir seks nie. Om reguit te wees, hy het sy geluk probeer. Dit was nie gepas nie maar dit regverdig nie afdanking nie.”

Die hof het beveel dat Simmers ‘n finale waarskuwing ontvang wat vir ‘n jaar geldig sal wees. The Times berig dat Campbell Scientific Africa teen die uitspraak gaan appelleer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.