Kom bid saam vir boere

(Argieffoto: Lorraine Claasen)

Die burgerregte-organisasie AfriForum en die radiostasie Pretoria FM hou Vrydag van 17:00 tot 18:00 ’n biduur vir boere wat toenemend teikens van plaasmoorde en -aanvalle is. Dié biduur gaan op Pretoria FM en verskeie gemeenskapradiostasies uitgesaai word.

“Plaasaanvalle is nie net ʼn fisieke aanslag nie, daar is beslis ook ʼn geestelike komponent waarvan ʼn mens nie kan wegskram nie,” het Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapveiligheid, aan Maroela Media gesê.

“Ek besef mense sal sê ons moet daagliks hieroor bid en voorspraak by God vra, maar dit was tog vir ons belangrik om ʼn spesifieke tyd hiervoor opsy te sit waar ons die gemeenskap kan vra om saam hieroor te bid, want ons kan nie die aanslag sonder geloof oorwin nie.”

Volgens Cameron het plaasaanvalle aan die begin van die afsonderingstyd afgeneem, maar skielik in die laaste weke van vlak 4 weer begin toeneem.

“Vlak 3 was eenvoudig verskriklik. In Julie alleen het ons tot dusver dieselfde hoeveelheid plaasaanvalle gehad as wat Suid-Afrika vir die hele maand [Julie] in 2019 opgeteken het,” het hy gesê.

Die TLU SA het verlede week gesê daar was vanjaar reeds 26 plaasmoorde en 141 plaasaanvalle.

Vir Cameron is dit belangrik dat mense besef plaasaanvalle is nie net ʼn misdryf wat eenmalig plaasvind en daarna keer alles weer terug na normaal nie.

“Dit is regtig die soort misdryf wat in die meeste gevalle gesinne en families uitmekaar ruk, en daarom moet ons plaasaanvalle op alle vlakke beveg.”

Cameron sal Vrydagmiddag op Pretoria FM ʼn inleiding gee oor AfriForum se veldtog teen plaasaanvalle en -moorde. Hy sal ook ʼn brief bespreek wat aan pres. Cyril Ramaphosa gestuur is.  Maroela Media het berig dat Ramaphosa Woensdagaand gedurende die tweede presidensiële imbizo uiteindelik die regering se kommer oor plaasaanvalle uitgespreek het.

Daarna gaan Hennie Human, ’n predikant en traumaondersteuningsbeampte by AfriForum se trauma-ondersteuningseenheid, vertel watter impak ’n plaasaanval op slagoffers en hul gesinne het en hoe dit hulle geestesgesondheid beïnvloed. Human gaan ook oor die eenheid se betrokkenheid by slagoffers gesels, waarna hy die gebed sal lei.

AfriForum doen ’n beroep op Suid-Afrikaners om hierdie uur af te staan om saam vir boere in die land te bid. Die biduur kan reg oor die land op Pretoria FM se webtuiste geluister word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Adeline ·

Wel… wel hierdie is seker nuus veral van die ANC se korrupte leier se vertraagde kompromie erkenning uiteindelik vanaf voor 1991 oor plaas moorde. Ek bid vir onse boere en die bedrog en misdaad wat in die land gebeur, maar ek bid nie soos ‘n “Christeen” nie. Ek het een gebed vir almal voor my Hemelse Vader se Troon in die Hemel want ons staan in ‘n oormag van korrupte regering wat korrupsie, moord, geweld, misdaad en diefstal vanuit die regering bedryf op alle vlakke en gebiede van waaruit hulle regeer tot die misdadiger in die straat van die kultuur. My gebed is kort en maklik en vol geloof… “Hemelse Vader ek bid en vra dat U, U oë sal sit op elke krimineel (Hy ken die hart -gees van elkeen). Sal U asb elkeen wat misdaad pleeg hetsy teenoor ‘n mede-mens of U, in sy/haar pleging van die misdaad – U as skepper ontmoet. In Jesus (Y’shua) se naam vra ek dit, Amein.” ek staan verwonderd oor antwoord van gebed wat ek in die nuus lees!!! Dankie Hemelse Vader vir Antwoord op gebed!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.