‘Kom haal jou kind’, hoor ma van ontvoerde leerder

(Foto: SAPD/Facebook)

Die ma van die ontvoerde 11-jarige leerder van die EP Baumann Primary School in Mayfair, Johannesburg, het Woensdagoggend ’n oproep van die polisie ontvang waarin sy meegedeel is dat sy haar kind by ’n polisiestasie kan gaan haal.

Die oproep volg byna twee maande nadat die meisie op 17 November verlede jaar glo deur drie onbekende mans voor die skoolhek ontvoer is.

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, sê hy is “verheug” oor die gr. 5-kind se tuiskoms. Die departement het, nes die polisie, ook nie veel meer inligting rakende die kind se vrylating bekend gemaak nie.

Dit is dus onduidelik waar, hoe, of in watter toestand die kind gevind is. Dit is ook nie duidelik of daar ’n losprys vir haar vrylating geëis of betaal is nie.

Lesufi sê die departement sal berading aan die kind verskaf.

Maroela Media het vroeër berig dat die meisie die betrokke dag van die ontvoering omstreeks 07:11 voor haar skool gewag het om teen Covid-19 ontsmet te word toe die mans haar met ’n vuurwapen gedreig en ontvoer het.

Brig. Brenda Muridili, polisiewoordvoerder, het destyds in antwoord op Maroela Media se navraag oor die voorval gesê die polisie kan geen inligting in verband met ontvoerings gee nie aangesien dit moontlik die lewe van die slagoffer in groter gevaar kan stel.

Die skool het op sy beurt benadruk dat dit ’n beplande en geïsoleerde voorval was en dat veiligheidsmaatreëls opgeskerp is om al die ander leerders by die skool te beskerm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

My siening ·

Ag lishufi waar val jy nou uit, so gehoop jy is ver weg maar toe verskyn jy nou weer in die nuus, jy is soos julius het nog nooit iets positief vir die land beteken!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.