Kom swem dié vakansie, nooi Kaapstad

Die Stad Kaapstad sê hy werk hard om openbare swembaddens betyds vir die Septembervakansie oop te stel. Vandale het groot skade by verskeie van die stad se swembaddens aangerig. (Foto: Stad Kaapstad)

Die Stad Kaapstad gaan 16 munisipale swembaddens betyds vir die komende skoolvakansie open, afgesien van die vier binnenshuise swembaddens wat reeds heel jaar lank oop is. As alle instandhoudingswerk volgens plan verloop, gaan nóg 10 swembaddens ook gereed wees dié somer.

Meer as 1,5 miljoen besoekers stroom jaarliks na die Moederstad se swembaddens.

“Ons swembaddens is gewilde plekke om te gaan ontspan en waar mense saamkuier, maar dit het ook die teiken van vandale en misdadigers geword,” het Zahid Badroodien, ʼn Kaapstadse raadslid, gesê.

“Die Trafalgarpark- en Elsiesrivier-swembaddens gaan weens misdadigheid dié somer nie betyds kan open nie en alle gebruikers word nou dié voorreg ontneem.”

Die Elsiesrivier-swembad en -pompkamer is al verskeie kere erg beskadig.

Die Trafalgarpark-swembad was geskeduleer vir groot opgraderingswerk. Sedertdien is die filtreeraanleg egter erg gevandaliseer, wat nou gaan lei tot ʼn veel langer sluiting. Hopelik gaan herstelwerk betyds vir die somer afgehandel word.

“Dié misdadigheid benadeel die gemeenskappe wat hulle veronderstel is om te bedien en dit word ten sterkste veroordeel. Ek pleit by gemeenskappe om eienaarskap van die geriewe te neem en enige verdagte bedrywighede aan te meld, omdat dit uiteindelik die gemeenskap se bates is,” het Badroodien gesê.

Waterbesparing en veiligheid van personeel en besoekers is die hoofoorweging wanneer besluit word hoeveel swembaddens om te open.

Watertenkwaens gaan water na die swembaddens van bronne aanry wat nie geskik is vir drinkwater nie. By elk van die stad se munisipale swembaddens is watertenks ook geïnstalleer om reënwater op te vang wat in die terugspoelstelsel gebruik word.

Omskakelings van die kusswembaddens by Muizenberg, Mnandi en Monwabisi is afgehandel en hulle maak nou gebruik van grondwater of boorgate.

Die Strand-swembad gaan in dié boekjaar nog voltooi word.

Afgesien van die kusswembaddens gaan die departement van ontspanning en parke ook alternatiewe waterbronne by meer van sy swembaddens gebruik.

Die Langstraat-, Strand-, Blue Downs- en Retreat- binnenshuise swembaddens is steeds oop.

Die Stad Kaapstad sê hy werk hard om openbare swembaddens betyds vir die Septembervakansie oop te stel. (Foto: Stad Kaapstad)

Die Seepunt-swembad, wat seewater gebruik, is reeds oop.

Afgesien van die vier binnenshuise swembaddens en die Seepunt-swembad gaan altesame 16 swembaddens dus vir die September-skoolvakansie oop wees. Dit bly oop tot ná Paasfees aanstaande jaar.

“Ons verwag dat groot getalle besoekers veral op warmer dae die swembaddens gaan besoek. Swemmers moet in gedagte hou dat swembadtye soms kan wissel om te verseker dat watergehalte op die hoogste vlak bly. Dit is baie belangrik vir besoekers se veiligheid,” het Badroodien gesê.

Die swembaddens by Trafalgar Park, Parow Valley, Ruyterwacht, Vulindlela, Browns Farm, Lentegeur, Wynberg, Morningstar, Khayelitsha en Delft sal vir die publiek oop wees as herstelwerk betyds afgehandel word.

Weens groot herstelwerk bly die swembaddens by Elsiesrivier, Newlands en Ravensmead gesluit.

Die swembaddens by Monwabisi, Kuilsrivier en Zandvlei-woonwapark gaan in Desember en Januarie oop wees.

Lewensredders word by al die swembaddens, asook by 26 strande en kuspoele ontplooi.

Bykomende personeel, soos kassiere en toegangsbeheerders, word ook ontplooi.

“Ons is reg vir ʼn stampvol seisoen en sien daarna uit om al ons besoekers te verwelkom,” het Badroodien gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

JohanR ·

Hier in die Kaap, soos maar oor die hele SA is daar haaie in die water, en haaie buite die water. Weet nie wie van die twee is die gevaarlikste nie? Miskien veilliger om die diep water in te vaar.

Yankee ·

As water nie geskik vir drink is nie, is dit dan okay om daarin te mag swem? Vra net.

wraggies ·

Indien vandale nie vasgevat word nie maak die spesifieke geriewe permanent toe.

ano ·

O neee dankie! Wie wil in water swem of speel waar soveel ander mense ook in dieselfde water is?

Maljan ·

Hoekom sal enige mens al die pad Kaap toe gaan om in n swembad te gaan swem?

francois ·

Hier is nie sulke munisipale swembaddens in Pretoria nie, dit is al amper Oktober en die helfde van die swembaddens is nie oop nie,die plekke lyk maar gehawend aai aai

KrokodilBotha ·

Vra die DA raadslid , hoor wat se verskoning daar is van hulle kant. Een Suid Afrika mos vir almal of hoe ?

Attie. ·

Alle swembaddens moet verbied word tensy bewys kan word dat die water gesuiwerde rioolwater is of sogenaamde gryswater. Ek het jare terug gehoor dat Windhoek Lager word van gesuiwerde riool gemaak en daardie gesuiwerde water was in 1965 reeds beter as ons drinkwater. Kan ons nie gaan leer by Namibië nie. Skoon water word nie in swembaddens gegooi nie want wat los mense alles in die water behalwe voetspore.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.