Kom wind, kom weer… Jóú huis is veilig

Argieffoto

Die komende reënseisoen kan huiseienaars duur te staan kom indien hulle nie vroegtydig hul huise nagaan, die nodige aanpassings maak en herstelwerk doen nie.

Volgens die versekeringsmaatskappy Virseker kan weerverwante faktore wat met die reënseisoen gepaardgaan groot skade aan eiendom aanrig en daarom moet huiseienaars nóú proaktief optree om dit te voorkoms. Boonop moet huiseienaars ook tydens die reënseisoen feitlik dubbeld meer aan versekeringseise opdok.

Luidens ʼn verklaring uitgereik deur Virseker kan die getal eise wat huiseienaars tydens die reënseisoen – van Oktober tot Maart – indien, met tot soveel as 97% toeneem, in vergelyking met ander seisoene. Dit kan hoofsaaklik aan weerverwante faktore toegeskryf word.

“Water-, hael- en weerligskade of bome wat val is tipies die grootste sondebokke. Iets wat kommerwekkend is, is dat dit in meeste gevalle deur goeie, proaktiewe inspeksies en -onderhoud voorkom kon word,” sê Ricardo Coetzee, woordvoerder van Virseker.

Virseker bied die volgende wenke om die kanse vir skade te verminder:

  • Blaargevaar: Maak alle geute en rante van die dak gereeld skoon – blare en ander plantoorskot kan verhoed dat water effektief dreineer.
  • Dakslim: Gaan die dak na en wees op die uitkyk vir teëls wat geskuif het, waterdigting wat verweer en dele van grasdakke wat nie meer dig gebind is nie. Doen ook ’n inspeksie van die binnekant van jou dak om seker te maak dat dit dig seël. Geen sonlig behoort sigbaar te wees nie, want as sonlig kan inkom, kan water ook.
  • Vat krake vas: Gaan alle deur- en vensterrame, veral dié wat van hout gemaak is, sowel as mure, vloere en fondasies deur vir krake waar water kan deursypel.
  • Pyn in ’n drein: Maak seker dat alle dreineringsslote, -pype en -gate in ’n goeie toestand is en hou ’n ogie oop vir water wat opbou wanneer dit reën. Die opbou van water in jou erf of om jou huis kan stygende vog en probleme met die fondasie veroorsaak. Gebruik skoonmaakmiddels – verkieslik omgewingsvriendelik – selfs al is daar nie dreineringsprobleme nie.
  • Verf wat afdop: Let op vir verf wat afdop. Wanneer jy jou huis verf, gebruik ’n goeie seëlaar.
  • Druktoets: Die druk van sterk wind, swaar hael of ’n oormaat water kan bome en strukture maklik laat meegee. Takke, tuinmeubels- en gereedskap of dele van strukture wat loskom kan ook in dodelike projektiele ontaard. Gaan items wat aan die elemente blootgestel word deeglik na en gee dadelik aandag aan enige risiko’s.
  • Versterkings: Indien jy in ’n area woon wat geneig is tot oorstromings of ander uiterste weerstoestande, is jou eie voorraad sandsakke en ander versterkings ’n goeie idee.
  • Vermy die skok: Installeer muurproppe wat toestelle kan beskerm teen kragstuwings wat deur weerlig veroorsaak word.
  • Hou dop: Kyk uit vir veiligheidsrisiko’s naby jou huis, soos swak dreinering, gekraakte strukture en grondverskuiwings.

“Net omdat jou huis die laaste reënseisoen goed deurstaan het, beteken nie alles is steeds klopdisselboom nie. Doen eerder die moeite om dit weer noukeurig na te gaan of professioneel te laat nagaan, neem proaktiewe stappe en vermy sodoende moontlik duisende rande se skade, en dalk selfs ernstige beserings,” sê Coetzee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Phillip ·

Nou hoekom betaal ons dan verseekering dan om niks teeis nie . en maar net om hulle selaarise tebetaal

Swerwer ·

Klink sò of daar iets aan die kom is waaroor daar nie nou gepraat mag word nie.
In elk geval glo ek dat almal wat wettige eiendom besit(self gekoop en daarvoor betaal het, en nie mahala ontvang het nie), dit in elk geval onderhou en oppas want ons weet wat herstelwerk en die eiendom ons uit die sak jaag.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.