Kom wind, kom weer…Geloftefees gaan voort

Die Voortrekkermonument in Pretoria. (Foto: Carla van der Spuy)

Ten spyte van ’n 80%-kans vir swaar reën en donderbuie wat vir Donderdag voorspel word, gaan die Voortrekkermonument voort met sy verrigtinge ter viering van Geloftedag.

Volgens Gerhard Pretorius, woordvoerder van die Voortrekkermonument, sal vanjaar se Geloftedagvieringe in die Amfiteater by die Voortrekkermonument aangebied word. Sou dit swaar reën, sal die verrigtinge onderdak skuif.

Volgens Pretorius het honderde mense reeds aangedui dat hulle die verrigtinge gaan bywoon, ten spyte van die weerdiens se voorspelling van swaar reën en donderbuie in Gauteng. Pretorius het feesgangers wel aangemoedig om ʼn sambreel saam te bring.

“Die hoofhek sowel as die Noord-hek in Pretoria Main-weg sal reeds om 06:00 vir die publiek open, waarna die voorsang om 08:00 begin,” bevestig Pretorius.

Die Geloftediens begin amptelik om 09:00, waartydens professor Alwyn Swanepoel die skriflesing en preek sal behartig. Die bekende kunstenaar Ghapi sal daarna optree en “Die Gelofte” voorsing.

“Die diens sal om 10:00 eindig waarna die publiek welkom is om die historiese trekroetetuin te besoek en heerlike lekkernye te nuttig by Skool op Wiele-restaurant.”

Die verrigtinge sal om 12:00 in die Senotaafsaal van die Voortrekkermonument afsluit, waar die lig deur die koepeldak van die monument op die senotaaf sal skyn.

Toegang tot die terrein en die monument is gratis.

“Die publiek sal ’n parkeerkaartjie by die ingang ontvang, maar dit sal gratis gestempel word wanneer hulle by die Covid-19-tafel registreer. Geen voertuig mag die terrein verlaat sonder dat die parkeerkaartjie gestempel is nie.

“Daar sal geleentheid gebied word om kollekte op te neem en daar kan ook gebruik gemaak word van die QR-kodes op die terrein om deur middel van SnapScan ’n donasie te maak. Alle fondse word aan die Voortrekkermonument geskenk om te verseker dat ons kultuurtuiste met trots in die toekoms bevorder kan word.”

Besoekers wat aan die verrigtinge wil deelneem, moet hul eie stoele en gazebo’s of sambrele saamneem.

Daar is nie vanjaar gedrukte programme en sangboekies beskikbaar nie, maar die publiek kan ’n e-boekie vooraf op hul selfone aflaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Papsak

Pragtig onthou julle GOD ons sal die dag soos n sondag deur bring het obs GOD dit belowe

Anel

Nou verstaan ek nie. Toegang is gratis maar dit moet by die virus tent gestempel word en dit gebeur slegs as jy registreer. Waarvoor? Vir die spuit? So as jy nie registreer nie mag jy nie die terrein verlaat nie? Of verstaan ek nou verkeerd? Of is die berig net nie reg geskryf nie? Vra maar net

Nico

Ek verstaan dit nie want hier kom covid 19 alweer gebruik. Wat is voortrekker monument anders as ‘n vrymesselaars tempel, die oorspronklike Gelofte Kerk in Pietermaritzburg is aan die ANC munisipaliteit verkoop, die inhoud van die Kerk is seker ook verkoop vir vuur maak hout. Die kinders ken nie meer daardie blanke volks geskiedenis nie, alle geskiedenis boek is herskryf. Dit is verstommend dat die boerevolk so minagtend optree teenoor die Gelofte Kerk in Pietermaritzburg, is dit nou ‘n ander manier hoe hierdie historiese dag vernietig gaan word.

JM

Nico, ek is GESKOK oor jou opmerkings! Wie gee vir jou die reg?!