Komatipoort-gemeenskap red mense uit brandende gebou

komatipoort brand 2

Twee voertuie wat voor die gebou in Komatipoort gestaan het, het ook aan die brand geslaan. Foto: Securicon Lowveld.

Boere en inwoners van Komatipoort in Mpumalanga het Donderdag mense wat in ʼn brandende gebou in die dorp vasgekeer was gered, en gehelp om die brand te blus.

Gerhard Coetzer, eienaar van Securicon Lowveld, het Donderdag aan Maroela Media gesê veiligheidswagte was omstreeks 06:00 op die toneel waar die gebou op die hoek van Lawrence- en Louwstraat in ligte laaie gestaan het.

“Die gebou is sowat 15 jaar oud en word deur Chinese besit,” het Coetzer gesê. “Daar is ʼn kroeg wat 24 uur oop is en ander Chinese winkeltjies in die gebou.”

Dit wil voorkom of die brand omstreeks 05:40 in die kroeg ontstaan en vinnig na die res van die gebou versprei het. Twee voertuie wat naby aan die gebou geparkeer was, het ook aan die brand geslaan.

“Van die Chinese het soos oudergewoonte in die agterkant van die winkels geslaap en is vinnig deur omstanders uit die brandende gebou gered,” het hy gesê.

Boere met waterkarre en inwoners van die dorp het in hul massas na die toneel opgeruk om te help om die brand onder beheer te kry. Die brand het nie na ander geboue versprei nie. Die brandweer het later by die toneel opgedaag en die brand is onder beheer gebring.

“Gerugte dat die brand met xenofobie verband hou, is onwaar,” het Coetzer verduidelik. “Die Chinese doen al nagenoeg 12 jaar lank daar besigheid en daar het nog nooit so iets plaasgevind nie.”

Na wat vasgestel kan word, het slegs een persoon, ʼn Chinees, geringe brandwonde aan sy arms opgedoen.

Konst. Mashiane, woordvoerder van die Komatipoort-polisiestasie, was nie vir kommentaar beskikbaar nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

bittergal ·

……..en daar doen die “slegte” boere dit weer. Seker ook apartheid se skuld dat daar nie minder skade was nie. Ek is bitterbek oor wat in ons land aangaan!

Charlene ·

Bittergal, dis war wat jy sê alles is mos ons boere se skuld!
Maar hier is bewyse dat ons boere goeie mense is, hulle kom stil gestaan en toe gekyk is. Dis nie eens “ons mense” nie maar daar sal nie stil gestaan word nie.
Dis goed om te weet dat ons boere nog so kan saam staan. Ons moet dit meer probeer.

bittergal ·

…onse boere is TE goed. Maar vanaand kyk niemand, maar niemand na ons nie, dan bly ons weer in ‘n selfgemaakte tronk. Ek haal my hoed af vir die mense wat gehelp het! Julle is ware helde!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.