Komatipoort-plaasmoord: ‘Ons is dit aan Deon verskuldig’

Deon de Bruyn.

Die gesin van Deon de Bruyn (25), wat verlede maand tydens ʼn plaasaanval doodgeskiet is, het hul verligting uitgespreek nadat sy vermeende moordenaars besluit het om nie om borgtog aansoek te doen nie.

“Dis ʼn groot verligting dat hulle nog agter tralies is. Ons as gesin is baie verlig daaroor,” het Susan de Bruyn, Deon se ma, aan Maroela Media gesê.

Die Laevelder berig Derrick Makamo (24), Rawun Mhlanga (28), Sifiso Madonsela (33), Solomon Msimango (33) en Oscar Chauke (36) het Vrydag in die Komatipoort-landdroshof verskyn waar hulle besluit het om nie om borgtog aansoek te doen nie.

Die beskuldigdes word van moord en poging tot moord aangekla en moet weer op 7 September in die hof verskyn.

“As gesin sal ons elke hofsaak tot die vonnisoplegging bywoon. Ongeag hoe swaar dit is, is ons dit aan Deon verskuldig. Bowendien is dit in belang van die gemeenskap om die boosdoeners in die tronk te hou,” het De Bruyn gesê.

Deon is op 17 Junie op ʼn plaas naby Komatipoort in Mpumalanga doodgeskiet. Hy het saam met Estelle Jansen (59), wat vir hom soos ʼn “tweede ma” was, op die plaas Simonsvlei met suikerriet, mango’s en groente geboer.

Estelle was in haar kamer toe ʼn man skielik te voorskyn gekom het. Volgens De Bruyn het Estelle met die aanvaller begin stoei en is hulle by die kamerdeur uit. Deon is net bokant die hart getref en Estelle is drie keer geskiet.

Die vyf beskuldigdes is kort ná die voorval in en om Tonga in Mpumalanga vasgetrek.

De Bruyn het vroeër gesê Deon was ʼn “jong boer in murg en been”. “Hy was ʼn familiemens. Hy het nie regtig gekuier nie en sy huismense was vir hom baie belangrik. Hy het ʼn passie gehad vir landbou en was mal oor visvang.”

Deon laat ook sy pa, Deon sr., broer, Dirk (24), suster, Amerelda Pohl (27), en ouma, Alida Coetsee, agter.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hannelie ·

Ek hoop Ramaphosa kan Afrikaans lees, of ten minste al hierdie berigte oor mense wat vermoor word in Engels dan. Want IETS moet hy nou drasties begin doen.

Jane ·

Dit bly ‘n opsetlike aanslag op blankes op kleinhoewes en plase . om hulle te probeer verwilder. Hierdie het verseker nie net ‘n rassetoon nie, maar ook ‘n haat en politieke agenda. So jammer oor die groot verlies, ongelukkig in geen Afrika land het hierdie sinnelose moorde opgehou nie … hoe meer wetteloos en hoe minder mense gestraf word en verantwoordelikheid aanvaar vir hulle dade, hoe meer moorde, hoe meer hulle aangese word hoe groter ‘achievement’ is dit vir hulle om mee te spog. Dit is verskriklik dat onskuldige mense wat niks aan swartes gedoen het nie so uitgemoor word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.