Kombuise, kokkerotte, krag: Instandhouding by ministershuise ‘lyk na korrupsie’

Instandhoudingswerk by die huise van ministers en hul adjunkte kos belastingbetalers miljoene rande. (Argieffoto: pixabay)

Die DA gaan die enorme uitgawes wat aangegaan word om instandhoudingswerk by die 97 huise van ministers en hul adjunkte te doen by die Openbare Beskermer (OB) aanmeld.

Syfers van die departement van openbare werke wat in antwoord op ʼn parlementêre vraag van DA-LP Leon Schreiber verskaf is, wys dat die ANC-regering sowat R93 miljoen bestee het aan die instandhouding van die luukse huise.

“Die DA dien ʼn klagte by die OB in om te ondersoek wat lyk na skaamtelose korrupsie en tenderverhogings met die instandhouding van ministeriële herehuise,” sê Schreiber.

Luidens die syfers het die regering oor die afgelope twee jaar gemiddeld R1 miljoen op elke herehuis uitgegee. Die uitgawes sluit in opknappingswerk, herstelwerk en munisipale rekenings sodat ministers gratis water en krag kan kry.

In Kaapstad is sowat R52,7 miljoen hieraan bestee. In Pretoria staan die uitgawes op net meer as R40 miljoen.

“Baie van die uitgawes het kenmerke van massiewe tenderkorrupsie,” sê Schreiber.

Die vervanging van ʼn gordynreling by ʼn huis in Johann Rissik-rylaan in Waterkloofrif het die belastingbetaler R54 000 gekos. By dieselfde huis het die vervanging van stukkende gloeilampe net meer as R19 000 gekos.

Schreiber sê hoewel dit lyk of die tenderpryse opgejaag is, beantwoord dit minstens die vraag oor “hoeveel rand dit kos vir ANC-kaders om ʼn gloeilamp te vervang”.

ʼn Huis in Kaapstad se kombuis is opgeknap, die vloerbedekking herstel en daar is binne en buite geverf – met die rekening wat eindelik op R1,4 miljoen te staan gekom het.

Opwekkers vreet geld

(Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Van die grootste uitgawes is aan die instandhouding van kragopwekkers vir wanneer die ligte daagliks tydens beurtkrag afgaan. Groot moeite word egter gedoen om te verseker ANC-kaders word teen die ongerief van beurtkrag verskans, sê Schreiber.

Oor die afgelope twee jaar het die regering miljoene rande opgedok om diesel-kragopwekkers op te vul, die opwekkers in stand te hou of herstelwerk aan kragopwekkers by ministershuise te doen. In een geval is byna ʼn halfmiljoen bestee aan die installering van ʼn kragopwekker by ʼn huis in Moreletapark in Pretoria.

Gemiddeld word sowat R25 000 betaal om ʼn kragopwekker “op te vul”, aldus die departement se syfers.

Swembaddens, lugversorging

In minstens 388 verskillende gevalle het belastingbetalers ook gehoes vir herstelwerk aan die swembaddens by die grootkoppe se luukse huise.

“Dit was die algemeenste instandhoudingsuitgawes om te verseker dat ANC-kaders in die swembad kan afkoel ná ʼn lang dag se plundering.”

Die “instandhouding” van swembaddens beloop gemiddeld tussen sowat R6 900 en net minder as R7 800.

“Wanneer kaders klaar ʼn paar lengtes in weelde geswem het, word hulle verder afgekoel deur lugversorgers – met die komplimente van die Suid-Afrikaanse belastingbetaler,” sê Schreiber.

Op minstens 90 verskillende kere is Suid-Afrikaners se geld gebruik om lugversorgers te installeer, herstel en in stand te hou.

Omring deur heinings, kameras

(Argieffoto: pixabay)

En terwyl Suid-Afrikaners gebuk gaan onder sommige van die wêreld se hoogste misdaadvlakke, het die ANC geen koste ontsien om sy eie kaders te beveilig nie, sê Schreiber.

In een geval is R191 000 betaal om ʼn stukkende veiligheidskamera te herstel. Die elektriese heinings by ministerswonings kos maklik R25 000 per diens en minstens 84 keer oor die afgelope twee jaar het Suid-Afrikaners die rekening betaal om elektriese heinings te herstel.

Die diens van ʼn elektriese heining kos lag-lag enigiets tussen R7 700 en amper R38 000.

Gratis nutsdienste

Die res van die geld – meer as R43 miljoen – is bestee aan eiendomsbelasting, vullisverwydering, water en krag by die 97 herehuise.

“Die DA meld hierdie uiters opgeblase uitgawes by die Openbare Beskermer aan. Dit lyk of ANC-kaders selfs die luukse herehuise waarin hulle soos rock-sterre woon, gebruik om tenderkorrupsie te pleeg,” sê Schreiber.

Die DA het ook reeds ʼn wetsontwerp by die parlement ingedien om groter deursigtigheid en oorsig oor die Ministeriële Handboek te verseker.

“Die voordele kos belastingbetalers meer as R1 miljard per jaar. Ons land kan eenvoudig nie bekostig om aan te hou betaal vir die luukse leefstyl van ministers terwyl beurtkrag, werkloosheid en armoede op krisisvlakke is nie.”

  • Sihle Zikalala, minister van openbare werke en infrastruktuur, het reeds aangedui dat ʼn ondersoek na die uitgawes gedoen sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Hasie ·

Nou wat moet verwag word van ‘ n reeds korupte regering ? Dat hul eerlik sou wees ?

Isobel ·

Die land is al plat geslaan. …….. en steeds hou dit net aan en aan. Daar is net geen einde aan die bedrog nie. En ons gewone mense lui onder alles en die regering sit in weelde en oorvloed.

anko ·

Goeiste dis te lekker om die klas van weelde te kan geniet terwyl ons spartel om kop bo water te hou. Die wiel draai stadig maar seker

Papsak ·

Sies julle ministers lewe morsig is geen wonder SA lyk ook so nie nee kyk julle moet vinnig gelig word julle mors belastingbetaler se geld

Papsak ·

Hulle lewe in weekde terwyl ons moet krepeer onder hulle gemors maar eindlik lewe hulle morsig sies gagga

SjN ·

Die persoomlike uitgawes kan mos gemaklik deur hulself betaal word uit hul reuse salarisse,

Gerrie ·

Tydens Mandela en De Klerk se debat voor die oorgangsverkiesing het M gesê “The gravy train stops here!” Hy het net nie bygevoeg die soustrein vertrek nie weer nie, maar gaan bloot aanhou om kaders op te laai.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.