Komediant se lang pad na sukses g’n grappie

Alfred Adriaan kuier by die KKNK. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch)

Wanneer dit by goeie humor kom, glo die voormalige Roer-aanbieder en grapjas Alfred Adriaan in twee dinge: Die grappe moet eg en geloofwaardig wees, en ʼn vloekwoord is nie ʼn punchline nie.

“Daar’s so baie dinge, veral in Suid-Afrika, waaroor ons saam kan lag en spot. Ek raak ook nie aan slaapkamerstories, politiek of geloof nie. My ma het my nie so grootgemaak nie en ek vind daardie onderwerpe boonop nie snaaks nie,” vertel Alfred aan Maroela Media tydens vanjaar se Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK).

Die afgelope twee jaar het hy gehore hier met sy skreeusnaakse eenmanvertonings bederf, maar nou was hy saam met Conrad Koch, Stuart Taylor en Lindsay Johnson in die fees se Kekkelkliniek-produksie te sien gewees.

“My nuwe vertoning is nog nie klaar verfyn nie, so ek het eintlik vanjaar net kom inloer by my mense,” sê hy met ʼn knipoog.

“Die KKNK is vir my baie spesiaal, want ek het baie ondersteuners hier. Ek word voorgekeer deur mense asof ons ou vriende of familie is en dis vir my so lekker. Dié fees het ook nog die gevoel dat die hele dorp daarby betrokke is – dis ware samesyn.”

Pad na sukses geen grappie

Diegene wat hom nie van die verhoog of televisie ken nie, het heel moontlik al Alfred se skreeusnaakse video’s op sosiale media teëgekom.

Met talle suksesvolle plaaslike en buitelandse produksies en toere, én meer as 100 000 volgelinge op sosiale media, is dit moeilik om te dink dat die grapmaker nie té lank terug gesukkel het om gehore van 40 mense te lok nie.

“Baie mense dink my sukses was oornag, maar dis daai tipe oornagsukses wat eintlik tien jaar lank gevat het om te bereik. So ek sien niks in my lewe as net vanselfsprekend nie.”

As boorling van Hankey in die Oos-Kaap was die idee van ʼn loopbaan as voltydse komediant ʼn verre droom, maar ʼn Marc Lottering-vertoning in sy studentedae het volgens Alfred alles vir hom verander.

Alfred saam met komediant Marc Lottering. (Foto: Facebook/Alfred Adriaan)

“Dit het my verbeelding so aangegryp, ek onthou selfs nog my sitpleknommer; nommer Q in ry 15. Dit was die eerste keer wat ek iemand gesien het wat soos ek lyk, wat nie die heeltyd vloek nie en wat net vreesloos was – ek het toe eers mooi besef hoe graag ek dit ook wou doen.”

Met ʼn B.Com-bemarkingsgraad aan die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit (NMMU) het hy jare lank vir verskeie groot name in die verbruikersgoederebedryf gewerk.

Tussendeur het hy die waters van televisiewerk en reklame getoets, maar die uiteindelike waagstuk om sy korporatiewe pos én goeie salaris vir sy droom van komedie prys te gee, sou eers later gebeur.

“Televisie was destyds maar hoe mens naam gemaak het, maar dis soos om te leer vir ʼn loodgieter terwyl jy eintlik houtwerk wil doen – dis amper in dieselfde rigting, maar eintlik leer jy niks nie.”

Gasoptredes vir gewilde komediante soos Barry Hilton en Hannes Brummer, asook sy suksesvolle solodebuutvertoning by die Pieter Toerien-teater, het in 2018 dinge in sy guns begin swaai.

Die hordes kykers wat weens die Covid-19-pandemie na hul fone vir vermaak gedryf is, het die finale kersie op die koek geplaas.

(Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch)

“Ek het omtrent twee jaar voor die pandemie ʼn kamera gekoop en hierdie video-dagboek-inskrywings gemaak van alledaagse grappies en simpelhede. Ek onthou hoe van my mede-komediante my daaroor geterg het, maar ek het net so ʼn gevoel gehad dat hierdie tipe inhoud lekker kan werk. Met Covid het die trefslae van 200 na 200 000 begin klim.”

Vandag tree hy landswyd én ook wêreldwyd in plekke soos Doebai, Londen en Australië op.

Om egter uiteindelik as gaskunstenaar vir Marc Lottering op te tree op die einste verhoog waarop hy hom in 2003 gesien het, was ʼn loopbaanhoogtepunt wat dié grapjas onbeskaamd tranerig maak.

“Ek dra my hart op my mou en tjank maklik, mense. Don’t judge,” sê hy tergend.

Komedie vir Alfred soos kunswerk

Aanhangers kan vanjaar uitsien na twee nuwe vertonings uit Alfred se pen. Nes kuns, glo hy daar moet mooi aan goeie humor geskaaf word.

“Ek skryf so twee jaar aan ʼn vertoning. Ek het party van my onlangse grappe al agt jaar terug uitgedink, maar het tot nou nie die regte vaardighede gehad om dit reg oor te dra en geloofwaardig te maak nie.”

Op sy sosialemediablaaie werk dinge wel anders.

Hier is hy en vroulief Natalie, wat danksy haar pittige sêgoed en eerlike gesigsuitdrukkings ewe geliefd onder sy aanhangers is, net hulself.

Die paartjie se video’s oor ouerskap, inkopies doen of debatte oor vuil wasgoed, dien as bewyse dat ware, herkenbare humor die hardste tref.

“Ek glo dís juis nog ʼn rede waarom my gehore die laaste paar jaar so divers geword het. Mense voel hulle ken ons en ons is net gewone mense. Daar’s nie ʼn draaiboek nie en as die gordyn in die agtergrond skeef is of daar’s ʼn vuil kol op my T-hemp, dan is dit nou maar so. Mense sien nie hulself in perfeksie raak nie.”

Hoewel hy geen voornemende komediant ontmoedig nie, waarsku hy dat sukses op dié sosialemediaplatforms nie alleen genoeg is om vir die verhoog voor te berei nie.

“Jy kan op kamera ongelooflik en skreeusnaaks wees, maar onthou daar’s nie ʼn redigeerder op die verhoog nie en jy kan nie gou stop en iets uitvee nie. As jy op die verhoog die aand ʼn slegte aand het, het jy ʼn slegte aand. Só leer jy gehore en jouself as kunstenaar beter ken.”

Feeste soos die KKNK help volgens hom om die  bedryf se hart kloppend te hou.

“Ons het nodig om te lag, mense wil bietjie asem skep van al die negatiewe goed waaraan ons elke dag blootgestel is. Op die einde van die dag wil ek wil vir mense ʼn lekker aandjie uit gee, waar hulle nie te hard hoef te konsentreer nie en net bietjie kan ontsnap.”

Hoewel die dae waar hy self die stoele by sy eie vertoning moes uit pak lankal verby is, bly die komediant ook nederig as hy terugdink aan elke fase van sy verhaal.

“Ek voel net baie geseënd om te kan doen wat ek vandag doen. Die idee dat mense kaartjies koop, mooi aantrek en ʼn aand daarvan maak om hulle volle aandag aan my vir ʼn uur of twee te gee … Nee man, mens kan mos nie anders as om dankbaar te wees nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.