Komitee aangestel om veiligheid van staatsgeboue na te gaan

Die gebou in die Johannesburgse sakesentrum wat Donderdagoggend (6 September 2018) nog in ligte laaie was. Foto: Twitter via @CoJPublicSafety

Die Gautengse provinsiale regering het ʼn hoëvlak bestuurskomitee op die been gebring om geboue waarin regeringsbeamptes werk en wat nié aan die nodige veiligheidsregulasie voldoen nie, te ontruim.

Die komitee is ook opdrag gegee om te sorg dat die betrokke staatsamptenare na gepaste geboue verskuif word.

Dit kom nadat ʼn brand Woensdag ontstaan het in ʼn gebou in die Johannesburgse sakesentrum wat die departement van gesondheid, die departement van menslike nedersettings en die Bank van Lissabon huisves. Brandbestryders het twee dae lank gestoei om die vlamme geblus te kry en drie brandbestryders het tydens die voorval gesterf.

Thabo Masebe, hoof van kommunikasie van die Gautengse regering, het in ʼn verklaring gesê die werk van die bestuurskomitee begin reeds vandag. Die komitee moet verseker dat al die geboue van die provinsiale departement voldoen aan veiligheidsregulasie en dat al die staatsgeboue in die provinsie veilig is vir die werknemers wat daar werk.

“Die vestiging van hierdie komitee is in ooreenstemming met die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid wat veiligheid as ʼn sleutelverantwoordelikheid stel vir al die hoofde van die departemente as werkgewers,” sê Masebe.

Die komitee sal funksioneer onder die voorsitterskap van Jacob Mamabolo, LUR vir infrastruktuurontwikkeling, en sal saamgestel word uit hoofde van departemente.

“Deur hierdie funksie te sentraliseer, word verseker daar is samewerking en volledige oorsig vir die nakoming van veiligheidsregulasies binne al die departemente. Die sentralisering van die funksie beteken nie dat die wetgewende verantwoordelikheid van die departementshoofde om die veiligheid van hul departement te verseker weggeneem word nie. Dit het bloot ten doel om te verseker dat die funksie gestabiliseer word en op die mees effektiewe en doeltreffende manier funksioneer.”

Hy sê die bestuurskomitee sal ook aandag gee aan die huidige praktyk waardeur beroepsveiligheid nie sentraal ondersteun word nie, maar aan departementshoofde oorgelaat word, “in ag genome dat dit duidelik is dat hierdie praktyk nie doeltreffend werk nie”.

Volgens Masebe sal die geleidelike ontbinding van die bestuurskomitee oorweeg word sodra hy sy rol gespeel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

honourable member ·

Daar is dit nou. Die staat huur altyd die vrotse geboue om kwansuis geld te spaar. Kon nog nooit verstaan hoekom die staat nie hulle eie geboue kan bou nie en so miljoene rande huurgeld spaar nie. Iemand smile al die pad bank toe met die vrot geboue wat aan die staat verhuur word.

Daan Erasmus ·

Miskien huur die staat die goedkoopste geboue, maar beslis nie teen ‘n goedkoop prys nie. En die familie by wie dit gehuur word maak ekstra wins deur minimum of geen instandhouding. Vir maksimum wins.

piper ·

wat n mors van tyd e n geld. oor n maand of wat is alles vergeet en daar word niks daaraan gedoen nie.

Joshua ·

Hoekom weer horde geld mors met komitee?:Daar is baie gekwalifiseerde OHS (Ocupational, Health & Safety) lede in Weermag,SAPD en Gevangediens wat dit verniet kan doen

Rooikop ·

Nog n komitee aangestel ?????????? En almal is op die soustrein en doen niks …………

lvh ·

Dalk kan hulle Metro P laat saamspeel in die sogenaamde kommitee? Dan werk hulle ook vir ‘n slag, waarvoor hulle betaal word

Karolis ·

Maak nie rêrig saak in watter toestand die gebou was voor die brand nie, hoe het die brand ontstaan of wie is verantwoordelik vir die begin daarvan.

Al ·

Ek beskou hierdie kultuur vannet salaris ontvang, onbevoegdheid en luiheid wat al dekades lank duur, as die oorsaak waarom gevalle soos hierdie voorkom.
En skouers optrek en nie verantwoordelikheid neem nie.
Hierdie was voorkombaar.

henk ·

Die komitee gaan minder as niks weet nie.
Dit gaan nog ‘n groter gemors afgee. Hulle weet nie nie opgradeer of instand hou nie – net van afbreek en niks doen nie.

Ag help my asb ·

Daar moet alweer ‘n KOMITEE aangestel word om die veiligheid van geboue te ondersoek. DAAR WAS REEDS WAARSKUWINGS uitgereik oor hierdie gebou en NIEMAND HET GELUISTER NIe, nou skielik word daar weer ‘n KOMITEE aangestel teen BETALING om te doen wat REEDS Gedoen is ..

Johann cb ·

Ek wonder hoe goed die gebou se strukturele toestand is! Bestaan daar ‘n moontlikheid van inploffing?

Marinda ·

Why must there always first be a tragedy like this, before people realize how important certain action, procedures and maintenance is?
It’s a little too late now, and how long before you have your ducks in a row? Another century or 25 years? This could have been prevented.

My condolences to the family and friends of the deceased.

Pikkewyn ·

Ek hoop regtig hulle kom kyk ook na die Fidel Castro gebou in Bloemfontein….daardie gebou “staan” op genade en daar is honderde mense wat elke dag daar moet werk

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.