Komitee bevind US-student skuldig aan seksuele wangedrag

Die Majuba-manskoshuis by die Universiteit Stellenbosch. (Foto: Facebook)

Die manstudent van die Universiteit Stellenbosch (US) wat vroeër vanjaar van verkragting aangekla is, is Donderdag deur die universiteit se onafhanklike sentrale dissiplinêre komitee (SDK) aan seksuele wangedrag in die Majuba-koshuis skuldig bevind. Hy is ook uit die universiteit geskors.

ʼn Vrouestudent aan die US het in Mei ’n klag van verkragting by die polisie aanhangig gemaak nadat sy glo op die universiteit se kampus seksueel aangerand is.

Martin Viljoen, die US se woordvoerder, het Vrydag in ʼn verklaring gesê die betrokke student het ook ’n klag by die US se eenheid vir gelykwaardigheid ingedien wat die saak vir ondersoek na die kantoor vir studentedissipline verwys het. ’n Studentedissipline-ondersoek het gevolg en die SDK het daarna ’n verhoor oor die saak gehou.

Die komitee het Donderdag onder meer beslis dat die student, wie se identiteit nie bekend is nie, uit die universiteit geskors word.

Die sanksies wat deur die komitee opgelê is, moet ook “aan die studentegemeenskap bekendgemaak word op ’n wyse wat vir die kantoor vir studentedissipline aanvaarbaar is”.

Die identiteit van die partye mag verder nie bekendgemaak word nie, asook geen inligting wat dit moontlik sal maak om enige getuies in die saak te identifiseer nie.

Ingevolge die US se dissiplinêre kode vir studente het die manstudent vyf werksdae om teen die SDK se bevinding en sanksies te appelleer.

Die strafregtelike saak duur intussen voort.

“Die universiteit staan daarby dat geen geslagsgebaseerde geweld enigsins geduld sal word nie,” het prof. Deresh Ramjugernath, viserektor van leer en onderrig, in die US se verklaring gesê.

“As bestuur herhaal ons weer eens ons diepe kommer oor voorvalle van seksuele wangedrag. Die universiteit veroordeel alle vorms van misdaad en enige skending van menseregte, ook geslagsgebaseerde geweld, ten sterkste.”

Ramjugernath sê die universiteit sal voortgaan om geslagsgebaseerde geweld op sy kampusse te beveg in ooreenstemming met die universiteit se beleid oor onbillike diskriminasie en teistering.

“Die US se bestuur respekteer die onafhanklikheid van die dissiplinêre proses en heg groot waarde aan die kundigheid van die SDK,” voeg Ramjugernath by.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Christine ·

Gelykwaardigheid? Gelyk aan wat? Aan vrouens of is kleur weer hier ter sprake?. Dankbaar die mannetjie het nie weggekom om te skuil agter ‘n klag van gelykwaardigheid nie. Vat gerus wat jou kant toe kom vir verkragting.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.