Komitee bevraagteken polisie se vermoë

Argieffoto: Kent Williamson

Die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie het Vrydag gesê hy is ernstig besorg oor SAPD se operasionele gereedheid ná vier voorvalle die afgelope week wat gedui het op swakplekke. Die nasionale kommissaris word ontbied om die gebeure te verduidelik.

Francois Beukman, voorsitter van die komitee, het verwys na ’n voorval waar twee amptelike polisievoertuie in Botrivier aan die brand gesteek is; die gebruik van skerp ammunisie deur polisiebeamptes in Gauteng en die Wes-Kaap; die gebrek aan voldoende polisie-eenhede om openbare orde te handhaaf; en ’n rooftog by die Elspark-polisiestasie in Gauteng waar ’n R5-geweer gesteel is.

Beukman het gesê die komitee het onlangs die behoefte aan beter veiligheidsmaatreëls by polisiestasies benadruk en die nasionale polisiekommissaris, Khehla Sitole, sal nou moet verduidelik waarom die bestuur van die SAPD nog nie hierop reageer het nie.

“Daar is duidelik ’n gebrek aan dringendheid om die saak as ’n prioriteit te hanteer en die nasionale kommissaris sal aan die parlement moet verduidelik waarom die bestuur nog nie hierop reageer het nie, ondanks versekering dat dit gedoen sal word,” het Beukman bygevoeg.

“Ons verwag dat die nasionale kommissaris gevolglikheidsbestuur sal toepas. Die verlies aan ’n R5-geweer by ’n polisiestasie tydens ’n rooftog dui op ’n gebrek aan beheer en werp die lig op die toenemende verlies van SAPD-vuurwapens aan die onwettige vuurwapenpoel wat uiteindelik in die hande van rowers beland.”

Beukman het gesê die gebruik van skerp ammunisie is die gevolg van die polisie se versuim om die eenheid vir openbare orde te ontbied wanneer nodig.

In die geval van Botrivier het die plaaslike bevelvoerder in die openbaar erken hulle het “te min lede om die situasie te hanteer”. “Reaksietye en die interaksie tussen sigbare polisiëring, misdaadintelligensie en gespesialiseerde eenhede is nie op ’n bevredigende vlak nie.”

Hy het gesê die komitee is van mening dat Khehla weer na ontplooiingspatrone moet kyk om seker te maak dat daar maksimum operasionele gereedheid is. “Dit sal tot die optimale veiligheid van alle burgers te alle tye lei.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Chris Ws ·

Maar intussen “monitor” die polisie die situasie!ha-ha-ha!Wat ‘n grap.

Marinda ·

Dit gaan nie net in die polisie so nie, gaan kyk maar by al die staats departmente. Geen haas nie. Niemand wil verantwoordelikheid neem nie. More is nog ñ dag.

Dink net ·

Dink net wat gaan van daardie vuurwapens word wat nou volgens die hofbeslissing ingehandig moet word. Weet ‘Ver links’ dalk?

nancy ·

francois beukman, die anc het verpleging, onderwys, weermag tot n beroep verlaag, dis vir niemand meer n roeping nie

Michael ·

Ja kyk nou, Jare Jare gelede het die publiek respek vir n polisieman gehad, want hy het sy werk reg gedoen. Vandag is daar net nie meer respek nie dit is hoekom die rowers ook so maklik n polisie stasie beroof hulle hoef nie te vrees nie want hulle weet die polisie is nie opgelei om terug te veg nie . Dit is mense wat van die straat af kom soek jy werk ok kom hier is vir jou n wapen en n uniform nou is jy n polisie man of polisie vrou. Kan jy dit oor vertel polisie word in hulle eie selle toe gesluit. Kerels was Leon Shuster nie besig om n movie te skiet nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.