‘Komitee eerste stap om Zuma te laat vervolg’

President Jacob Zuma. Foto: GCIS

President Jacob Zuma. Foto: GCIS

Die DA sê die veelparty-parlementêre komitee wat opgestel is om die Nkandla-verslag te ondersoek is die eerste stap in die stryd om president Jacob Zuma te laat vervolg.

Max Sisulu, speaker van die parlement, het Woensdagaand amptelik aangekondig dat die komitee aangestel gaan word en dat dit uit 12 lede sal bestaan. Die komitee het tot 30 April om aan die parlement terug te rapporteer. Die komitee sal bestaan uit sewe ANC-lede, twee DA-lede, een Cope-lid, een IVP-lid en een lid wat die ander agt politieke partye in die parlement verteenwoordig.

Lindiwe Mazibuko, parlementêre leier van die DA, het die aankondiging verwelkom en gesê dis ʼn oorwinning vir die parlement, grondwet en verantwoordbaarheid. Die VF Plus het ook die aankondiging verwelkom. “Daar rus ‘n baie groot verantwoordelikheid op hierdie ad hoc-komitee om reg te laat geskied aan die bepalings van die grondwet, sowel as om toe te sien dat die parlement en wetgewende gesag hulle oorsigrol oor die president en die uitvoerende gesag behoorlik vervul,” het die party in ʼn verklaring gesê.

Zuma het vroeër tydens ʼn deur-tot-deur-veldtog in Gugulethu gesê hy is nie ingelig oor die opgraderings aan sy privaatwoning nie. “Hulle het dit gedoen sonder om vir my te sê…So hoekom moet ek betaal vir iets waarvoor ek nie gevra het nie?” het Zuma glo aan ʼn plaaslike televisiestasie gesê.

Sisulu het besluit om ʼn veelparty-parlementêre komitee aan te wys om Thuli Madonsela, openbare beskermer, se bevindinge oor opgraderings by Zuma se privaatwoning in Nkandla te ondersoek. Madonsela het haar finale verslag, genaamd “Secure in Comfort”, op 19 Maart vrygestel. Sy het bevind dat Zuma en sy familie onbehoorlik gebaat het by die opgraderings. Sy het ook bevind dat Zuma die land se Etiekwet vir Uitvoerende Lede oortree het. Madonsela het voorgestel dat Zuma ʼn persentasie van die geld moet terugbetaal.

Lees ook:
Amptelik: Parlement gaan Nkandla-verslag ondersoek

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Theresa ·

Nog ‘n klug! Dink hulle nou regtig die “komiteelede” sal enige iets negatiefs sê?
Kyk uit wie bestaan die “komitee” en wie is die mederheid. Ha ha. Nuwe vertoning van dieselfde sirkus begin.

HARRY ·

hoekom moet ons vir e-tol betaal waarvoor ons nie gevra het nie,as jacob zuma nie wil betaal vir wat hy nie voor gevra het nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.