Komitee gaan ‘intelligensie-gebreke’ tydens onluste ondersoek

(Foto: RAJESH JANTILAL/AFP)

Die gesamentlike staande komitee oor intelligensie gaan met ’n ondersoek begin na die bewerings van intelligensie-gebreke deur die intelligensiedienste tydens die onlangse onluste in Gauteng en KwaZulu-Natal.

Volgens Jerome Maake, voorsitter van die komitee, is vergaderings op 15 en 16 Julie met die intelligensiedienste gehou nadat die geweld en plundery wat in die twee provinsies plaasgevind het deur sommiges toegeskryf is aan die mislukking van intelligensie.

By die vergaderings het die behoefte aan ʼn ondersoek na vore gekom nadat die komitee volledige inligtingsessies oor die onrus van intelligensiedienste ontvang het. Die komitee het hierna ’n aansoek by die parlement ingedien vir ’n ondersoek en dit is intussen goedgekeur.

“In teenstelling met ander parlementêre komitees, voer die gesamentlike staande komitee oor intelligensie sy aktiwiteite agter geslote deure uit en nie alle inligting rakende die werk van die komitee mag aan die publiek bekend gemaak word nie,” het Maake daarop gewys.

’n Gesamentlike sitting van die Nasionale Vergadering en Nasionale Raad van Provinsies word vir later die maand beplan om die onluste en plundering te debatteer.

Portefeuljekomitees geskok oor omvang van skade

Die parlementêre portefeuljekomitees oor kleinsake-ontwikkeling, handel, nywerheid en mededinging, ekonomiese ontwikkeling, toerisme en arbeid en indiensneming het intussen hul skok uitgespreek oor die omvang van skade aan sakepersele tydens die onlangse onluste.

Die komitees het van 3 tot 6 Augustus ’n tweeledige feitesending in KwaZulu-Natal en Gauteng onderneem. Die komitees het benadruk die verskillende regeringsdepartemente en -entiteite moet saamwerk om ondernemings wat geraak word, te help om weer op hul voete te kom.

Die komitees het ook die betrokke munisipaliteite opdrag gegee om gekonsolideerde en omvattende verslae op te stel oor die skade wat aangerig is sowel as die geraamde herstelkoste en die impak op werksgeleenthede. Hierdie inligting sal deel uitmaak van die komitees se verslag wat ook finale waarnemings en aanbevelings sal bevat.

Die onluste het die lewens van minstens 337 mense geëis en skade van meer as R50 miljard is aangerig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Kokerboom ·

Teen hoë koste en ‘n verslag saamstel deur kaders sonder gevolge vir skuldige kaders..dit bêre en … dan is probleem opgelos!!

Jan Seerot ·

Smyt die lêer met die verslag daarin bo-op die hysbak se dak. Lêer 13.

Werner ·

Hulle sal eers moet vas stel of hulle n intelegensie agentskap het.

Persheks Adri ·

Uh, jy’t ‘n brein nodig vir intelligensie pffft… Mors van tyd en geld

JM ·

Nè?! Hoop dat die ondersoekers met ‘n hoër persentasie geslaag het as die breindooies. Red ‘n land!

Nie Verbaas ·

En beskik die komitee oor die nodige kennis en ondervinding om dit te ondersoek? Ek twyfel.

Anton ·

Die laaste kommisie van ondersoek wat iets beteken het was Anton Goosen se band :-)

annie ·

Die vreeslike geheimhouding, hoekom? Die misdrywe het voor die hele wêreld afgespeel maar die uitslag is privaat. Wie almal vermoor is en die omstandighede bly geheim. G’n polisie-bystand wat bosoorlogtoestande laat gedy maar nou geld net wettige aksies. Wie gaan geglo word? Uiteindelik gaan net haat oorbly.

Anoniem ·

Wat wil hul debateer? Gryp in teen jul broeders en suster, oom’s en tannie’s en EFF en dan behoort daar iets te gebeur. Ongelukkig in die Regering nie in staat om dissipline toe te pas nie want hulself is nie gedissiplineerd nie.

Misky ·

Jy het intelligensie nodig vir ‘n “intelligensie ondersoek”. Die integrale komponent ontbreek, so los maar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.