Komitee gaan toesig hou oor rampreaksie

Oorstromings in die Durban-gebied het reeds meer as 400 lewens geëis en groot skade aan infrastruktuur aangerig. (Foto: Rajesh Jantilal/AFP)

Die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) het ʼn gesamentlike ad hoc-komitee oor vloedramphulp en herstel op die been gebring om die opruiming- en heropbouproses ná die rampspoedige oorstromings in KwaZulu-Natal te monitor.

LP’s van albei huise het hul volle steun vir die stigting van die komitee gegee nadat die omvang van die vloedskade duidelik geword het. Pres. Cyril Ramaphosa het verlede Maandag ʼn nasionale ramptoestand afgekondig en hulpmaatreëls ingestel om die provinsie se mense weer op hul voete te help.

Die Nasionale Vergadering en die NRP het saamgestem dat die parlement ʼn grondwetlike verpligting het om toesig te hou oor die inwerkingstelling van die voorgenome regeringshulp. Die hoofdoel van die komitee sal wees om met die betrokke staatsdepartement te skakel oor die algehele uitwerking van die skade, die reaksie daarop en die hulpmaatreëls wat die regering ingestel het.

Die inwerkingstelling van hulpmaatreëls sal ook dopgehou word en die ad hoc-komitee sal skakeling bewerkstellig met alle ander komitees wat ʼn regstreekse belang by die proses het.

Die komitee bestaan uit ʼn algehele 11 lede van die Nasionale Vergadering, met verteenwoordiging deur onder meer die ANC, DA en EFF, asook nege lede van die NRP.

Sommige politieke partye het die afgelope ruk skerp aangedring op behoorlike parlementêre oorsig oor die regering se besteding om te verseker die proses is nie, soos met die Covid-19-bestedingsproses, deurspek met korrupsie nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
Swerwer

Waarom word die name van die komitee lede van hierdie “ad hoc-komitee ” oor vloedramphulp en herstel” om die opruiming- en en heropbouproses ná die rampspoedige oorstromings in KwaZulu-Natal te monitor wat op die been gebring is nie openbaar gemaak nie.

Vernon

Wie gaan oor die komitee toesig hou? Seker n ander een….

Kokerboom

Gemagtigde boewe! NIKS wat ANC doen veral as dit by fondsmonitering kom kan vertrou word. Hul leer net nooit maar wil ook nie leer. Monitering MOET deur ‘n onafhanklike privaatoinstelling sonder ANC konneksie gedoen word! So? “Watch this space”

Mariana

Ag nee nog ‘n komitee om oor iets te besluit. Vertrou net eenvoudig nie die mense nie, nie waar geld betrokke is nie en die herstelwerk gaan ook nooit klaarkom nie. Die ANC behoort mos ook nou al te weet dat mense hulle nie vertrou met enigiets nie.

Anel

Hoekom is daar nie iemand van die VF+nie? Mens kan nie die ANC en die EFF met enigiets vertrou nie!!!