Komitee hoor OB het nog R110 miljoen nodig

Die Openbare Beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane. (Foto: Siyabulela Duda/GCIS)

Die portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste het Vrydag gehoor die Openbare Beskermer het nog R110,9 miljoen oor die volgende drie jaar nodig om haar mandaat te vervul.

Busisiwe Mkhwebane het voor die komitee verskyn om verslag te doen oor dié instelling se 2018/19-jaarverslag.

Die komitee het gehoor die kantoor het 72% van sy doelwit bereik – ʼn 22%-verbetering op die teikens in die 2017/18- finansiële jaar. Bulelani Magwanishe, voorsitter van die komitee, het gesê dit is ʼn goeie teken. “Tevore het jy aangedui dat jy tegnies insolvent is. Nou het julle dit oorkom. Dit is ʼn groot verbetering. Jou kantoor moet geloof word.”

Dit het ook aan die lig gekom dat die kantoor van die OB nie veiligheidsdienste het by 18 van sy 19 kantore landswyd nie. Slegs die hoofkantoor het veiligheidsdienste. Volgens Mkhwebane was daar verskeie inbrake in die aand en personeel is beroof wanneer hulle laat gewerk het. “Dit hou ʼn bedreiging in vir die personeel van die OB, kliënte, bates en dokumente. Veiligheid in ons kantore is dus baie belangrik en vereis onmiddellike finansiering. Dit kom neer op R19,4 miljoen oor die mediumtermynbegroting,” het sy gesê.

Tydens die 2017/18 en 2018/19- finansiële jare het 33 poste vakant geraak weens bedankings. Weens begrotingstekorte kon die OB nie weer die poste vul nie. Die getal noodsaaklike poste waarvoor Mkhwebane finansiering versoek, beloop R49,7 miljoen in die begroting.

Mkhwebane het haar ook uitgespreek teen staatsinstansies wat versuim om op te tree ná haar kantoor hulle op administratiewe probleme gewys het. “Dit is ondanks ʼn uitspraak in die konstitusionele hof wat bepaal het dat my regstellende aksie bindend is, tensy dit tersyde gestel word deur ʼn hof.” Sy het gesê haar kantoor het nie geld om telkens hof toe te gaan om seker te maak die regstellende aksie word uitgevoer nie.

Magwanishe het namens die komitee die uittredende adv. Kevin Malunga, adjunk- Openbare Beskermer, bedank. Sy termyn verstryk aan die einde van Desember 2019. “Baie dankie vir die sewe jaar van diens aan die Suid-Afrikaanse publiek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

jongste oudste gewildste
Ekke

Tot dusver is ‘n paar kleiner, minder belangriker sake afgehandel. Maar nog niks waarvoor al die regdenkende mense voor wag nie.

Hennie

Die soustrein loop!

Ben

Ag nee, daai geld is seker nodig om haar eie rokke vol te prop, vóór die regering haar afdank!

Spook op thaba

Miskien moet sy vergeet hoe lyk die pad hof toe

Ben

Nog geld om op hofsake wat sy en haar kantoor verloor, te spandeer.Raak eerder van haar ontslae.