Komitee kap na OB oor staatskaping-uitsprake

Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer. Foto: ANA

Die parlementêre portefeuljekomitee oor justisie het Vrydag sy ongelukkigheid uitgespreek oor Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer, se uitsprake dat die verwysingsraamwerk van die geregtelike ondersoek na staatskaping uitgebrei moet word, ʼn voorstel wat wyd gekritiseer is as ʼn vertragingstegniek om diegene wat by staatskaping betrokke is te beskerm.

Mathole Motshekga, die ANC-veteraan wat die voorsitter van die komitee is, het Mkhwebane aangemoedig om die aanbevelings rakende die kommissie van ondersoek wat deur haar voorganger, Thuli Madonsela, uiteengesit is, te respekteer.

“Die regstellende stappe beperk die kwessies wat moet deel vorm van die ondersoek. Dit is nie haar plek om te versoek dat die verwysingsraamwerk van die staatskapingondersoek uitgebrei moet word nie. Inteendeel, dit is net die howe wat by magte is om die regstellende stappe te wysig of te verander.”

Motshekga het gesê Mkhwebane se uitsprake is verwarrend vir die algemene publiek en sy moenie “inmeng” by die regstellende stappe of die omvang van die ondersoek nie.

“Die integriteit van die regstellende stappe moenie bevraagteken word nie aangesien die howe vroeër beslis het dat die regstellende stappe van die openbare beskermer bindend is.”

Motshekga het gesê die komitee sal die kwessie direk met Mkhwebane opneem.

Pres. Jacob Zuma het die kommissie van ondersoek, onder leiding van regter Raymond Zondo, verlede week op die been gebring nadat hy ʼn regsgeding verloor het om Madonsela se staatskapingverslag te betwis. Dié verslag het ondersoek ingestel na bewerings dat openbare geld gebruik is om die sakeryk van die Gupta-familie te bevoordeel.

Zuma het egter steeds nie die verwysingsraamwerk van die ondersoek vasgestel nie.

Die DA en adj.pres. Cyril Ramaphosa het albei gesê die verwysingsraamwerk moet beperk wees tot dit wat deur Madonsela uiteengesit is sodat die ondersoek betyds afgehandel kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Eish ·

Eish, die meerderheidsregering werk presies volgens Bybelse voorskrifte oor wanneer jy goeddoen aan ander. Hul pas dit sommer op alles toe. Die linkerhand moet nie weet wat die regterhand doen nie.

christa ·

Blitz weet jy wat almal wat hul nou so uit haal is sy korrupte maatjies.

PJC ·

Dit is darem reg van die begin af duidelik dat hierdie OB haar eie agenda het en dat sy ook alles in haar vermoë sal doen om JZ te beskerm.

Justice ·

Thuli Madonsela is op rekord dat sy gese het dat haar kantoor nie oor die befondsing of mannekrag beskik het om die staatskaping tot die been oop te vlek nie. Ek het geen twyfel dat daar meer agter staatskaping uit die privaatsektor sit nie. Mkhwebane se versoek het moontlik substansie en pas die skuldiges wat nog aangespreek gaan word glad nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.