‘Komitee moet Phala Phala-voorval ondersoek’

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: STEFAN HEUNIS/AFP)

Die Vryheidsfront Plus het Dinsdag in ʼn verklaring gesê hy steun versoeke aan die speaker van die parlement dat ʼn spesiale komitee op die been gebring moet word om die Phala Phala-voorval en pres. Cyril Ramaphosa se aandeel daarin te ondersoek.

Die DA het ook Sondag in ʼn verklaring gesê indien die president nie sy stilte oor die aangeleentheid verbreek nie, ʼn parlementêre ad hoc‑komitee dit wel moet doen.

“Pres. Ramaphosa het reeds gesê hy is bereid om voor die ANC se integriteitskomitee te verskyn om antwoorde te verskaf oor wat rakende die diefstal van geld op sy plaas gebeur het,” het dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, gesê.

“Om hierdie rede is daar ʼn groter verpligting op hom om ook voor ʼn parlementêre komitee te verskyn om antwoorde oor die aangeleentheid te verskaf.”

Groenewald sê indien Ramaphosa dit nie wil doen nie en so ʼn komitee nie aangestel word nie, dit eenvoudig beteken dat die president die belange van die ANC hoër ag as die belange van Suid-Afrika.

“Daar moet onthou word dat pres. Ramaphosa as president van die land verantwoordbaar is teenoor die parlement aangesien hy ʼn begroting kry van belastingbetalers se geld.

“Die parlement het ook die vermoë om ʼn mosie van wantroue in die president te stel en daarom is dit belangrik dat so ʼn komitee aangestel word om sy eie ondersoek te doen. Die aanbeveling van die Zondo-kommissie na staatskaping dat ʼn parlementêre portefeuljekomitee vir die presidensie aangestel word, sluit hierby aan.”

Die VF Plus steun ook hierdie voorstel om ʼn groter oorsigrol aan die parlement te verskaf.

Maroela Media het vroeër berig dat Ramaphosa daarvan beskuldig word dat hy ʼn inbraak in 2020 op sy plaas waar diewe na bewering $4 miljoen gesteel het, probeer geheim hou het.

Namibië se polisiehoof het intussen ontken dat dié land enigsins gehelp het om die rooftog by Ramaphosa se luukse plaashuis toe te smeer.

Sebastian Ndeitunga, Namibië se polisiehoof, het in ʼn verklaring gesê die owerhede het in 2020 bankrekeninge, lodges, huise en voertuie wat na bewering met die gesteelde kontant gekoop is, gevries. Imanuwela David, die vermeende baasbrein agter die rooftog, is glo deur die hoof van ʼn groot vissersmaatskappy en ʼn polisiebeampte van die grens af Namibië ingebring, het Ndeitunga gesê.

“Ná die onlangse onthullings in die Phala Phala‑rooftogskandaal, wat die beweerde gebruik van ʼn geheime misdaadintelligensiefonds insluit, asook die beweerde betrokkenheid van die adjunkminister van staatsveiligheid, het ek aan die speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, geskryf,” het John Steenhuisen, leier van die DA, gesê.

“Ek het versoek dat sy dringend ʼn ad hoc-komitee saamstel om die saak te ondersoek. Dit is bykomend tot die nege stappe wat die DA verlede week aangekondig het om agter die kap van die byl te kom oor wat werklik by Phala Phala gebeur het.”

Die DA het aan die Amerikaanse Federale Speurdiens (FBI) in die VSA geskryf om te versoek dat hulle bewerings van moontlike geldwassery deur pres. Cyril Ramaphosa ondersoek.

Steenhuisen sê dit is uiters belangrik dat die parlement ʼn komitee saamstel, onder meer gegewe hul versuim om oudpres. Jacob Zuma destyds vir die Nkandla-skandaal verantwoordbaar te hou.

Hy sê die jongste aantygings oor Phala Phala het die omvang van die skandaal aansienlik vergroot. Dit sluit die beweerde gebruik van ʼn geheime misdaadintelligensiefonds in, asook ʼn nie-amptelike operasie om die gesteelde geld en die oortreders op te spoor, en die ontplooiing van ʼn elite‑taakmag na die president se plaas teen ʼn bedrag van R2 miljoen per maand.

Dit beteken dat baie staatsdepartemente nou by die skandaal betrek word.

Die DA sê in die lig hiervan sal een portefeuljekomitee nie deug nie, en is die instelling van ʼn ad hoc‑komitee nodig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

annie ·

Die miljoen dollar vraag is: Waarom is die ANC so inskiklik om die saak te versluier? Sou Cyril dalk gesê het die geld was geoormerk vir die ANC-hoofkantoor om met hul geldelike probleme te help. Dit sou tyd wen. Die waarheid sal wel voor Desember uitkom. Selfs Lesufi is al op die wa om die prez se situasie uit te buit; nog een wat aspireer om vinnig bo uit te kom… een van omtrent 20 opportuniste wat reeds voor hul badkamerspieëls oefen.

twaalfboor ·

Nòg ñ kommitee…… Wat van ñ amptelike klag lê en dat strafregtelike ondersoek deur “Commercial Crime” ondersoek word?

pieter ·

Die probleem is dat hulle korrup is , met hulle tipe is daar altyd n slang in die gras.
ons hoor ook baie min die waarheid op die einde van die dag .
Ons kan nie so aanploeter nie , wat gaan van ons word!!. Ons moet saam staan en die klomp verwyder .
SO KAN DIT NIE AANGAAN NIE , ONS ALMAL LY ONDER DIE REGERING .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.