Komitee sloer jaar met groen lig vir nieroorplanting

Mario van Vuuren en sy dogtertjies. Van Vuuren wag op goedkeuring dat ‘n nier van ‘n lewende skenker oorgeplant mag word.

“Ons probeer ʼn lewe red, maar dit voel of ons eie regering teen ons is. Die proses is gebroke.”

Só het ʼn desperate Renee Sterkenburg vandeesweek gesê nadat sy reeds maande lank sukkel met die afhandeling van die administrasieproses om een van haar niere aan ʼn vriend te skenk.

Mario van Vuuren (44) het ernstige nierversaking en Renee (33) het in Oktober 2019 die proses begin om ʼn nier aan hom te skenk. Sy sê hoewel dit ʼn omvattende en langdradige proses is, het hulle só hard daaraan gewerk dat alle toetse reeds in Maart verlede jaar afgehandel en deur die betrokke mediese raad goedgekeur is.

Sy sê die laaste stap in die proses is vir ʼn oorplantingskoördineerder om alle dokumente na die departement van gesondheid te stuur waar ʼn mediese advieskomitee dan die oorplanting goed- of afkeur.

Die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, moet daarna self goedkeuring vir die operasie gee, waarna ʼn datum vir die oorplanting vasgestel word. Op 4 Maart is dié proses reeds ʼn jaar oud.

“Ons wag nog steeds,” sê Renee.

Sy sê hulle was self in verbinding met die departement van gesondheid. Die oorplantingskoördineerder het bevestiging ontvang dat die dokumente wel by die mediese advieskomitee lê, maar nog nie afgeteken is nie.

“Van daar af … stilte,” sê Renee.

“Om te sê dat ons moedeloos is, is nie eens die helfte van die storie nie. Ons weet eintlik nie meer watter kant toe nie.

“Ons doen alles reg. Ek eet groente! Ons probeer ʼn lewe red en die burokrasie staan in ons pad. Dit is ongelooflik frustrerend. Elke oomblik dat die proses sloer, word Mario swakker.”

In ʼn pleidooi aan die minister in November skryf Renee dat Mario se liggaam nie veel langer die stres van dialise – wat hy reeds langer as tien jaar ontvang – sal kan hanteer nie.

“Ek smeek jou, as dit enigsins binne jou mag is, om ons asseblief te help om die dokumente op te spoor en die proses sonder versuim – en voor dit te laat is – te laat vorder.”

Van die hoop dat die oorplanting reeds verlede jaar gedoen kon word, het niks gekom nie.

Vreemdelinge word familie

Renee Sterkenburg en haar gesin.

Renee,  ʼn onderwyseres van Centurion, sê sy het in 2019 van Mario se dilemma te hore gekom toe sy vir Carina (44) deur die skool ontmoet het. Die Van Vuurens se oudste dogter was ʼn leerder in Renee se klas.

“Ek het Mario nie geken toe ek besluit het om hom te help nie, maar dit het swaar op my hart gedruk.”

Renee, wat sê sy kan soms halsoorkop besluite neem, het summier begin navorsing doen en ook die saak met haar man, Renier, bespreek. Hulle het ook lank oor die kwessie gebid. Sy was oortuig dat dit die regte besluit is – en die toetse het dit bevestig.

Voordat Renee ʼn woord aan Mario oor die moontlikheid van ʼn skenking gerep het, het sy reeds sekere toetse laat doen om te bepaal of sy wel ʼn nier sal kan skenk. Toe dié toetse aandui sy kan, het hulle vir Mario betrek.

“Ons het baie navorsing gedoen en ek kon nie nié probeer nie. Die proses het al die pad gewerk. Ons bloedgroepe het saamgewerk, die kruispassing het gewerk.”

Sedertdien stap die twee gesinne ʼn hegte pad saam.

“Hulle is nou vir ons soos familie,” sê Renee.

Renee het sedertdien amper elke toets onder die son ondergaan. Mario ook.

Renee was onder meer by ʼn ginekoloog, ʼn sielkundige, ʼn kardioloog … “Dit was ʼn magdom toetse om te verseker ek is gesond genoeg om te skenk en dat daar nie agterna voorsienbare kwessies opduik nie.”

Sy sê sommige mense bevraagteken dalk haar besluit, maar vir haar was die skenking uit die staanspoor ʼn uitgemaakte saak. Daar is ook mense wat vra wat as haar eie kinders, Emily (6) en Leila (5), dalk eendag ʼn nier benodig. Renee sê ʼn wat-as-vraag gaan nie in haar pad staan nie.

“Ek glo, indien nodig, sal iemand eendag presies dieselfde vir my kinders doen.”

Sy sê terwyl Renier aanvanklik die stem van rede was – en die een was wat die moeilike vrae oor die skenkingsproses gevra het – het hy later gesê as Renee om die een of ander rede nié ʼn skenker kan wees nie, sal hy self die toetse ondergaan om te bepaal of hy in daardie geval ʼn nier kan skenk.

Kind se pleidooi aan Jesus

Carina sê Mario het goeie en slegte dae, maar is vir ʼn dialise-pasiënt baie gesond. Sy kan egter sien hoe sy gesondheid verswak – en die dialise, drie keer per week vir vier uur lank – eis ʼn tol.

“Hy is ʼn superheld. My man is ʼn rots. Jy kan nie glo iemand is so siek, voel so sleg en kry steeds die krag êrens vandaan om vir ʼn dogtertjie en haar maats broodjies te smeer nie.

“Mario verdien nie hierdie las nie en die kinders ook nie.”

Carina sê een van hul dogtertjies het een aand gebid en gevra of “Liewe Jesus die minister sy werk sal laat doen sodat pappa sy nier kan kry”.

“Dit is verskriklik vir ʼn kind om só ʼn gebed te bid. Ek besef die saak is ernstig en dat daar wetgewing is wat die proses beheer. Geen siek mens verdien egter om hierdeur te gaan nie. Mario het ʼn kans om te leef …”

Hoe langer die proses egter sloer, hoe meer toetse wat reeds afgehandel is, sal herhaal moet word. Dit beloop duisende rande, wat die mediese fonds nie altyd bereid is om te betaal nie.

“Wat moet ons doen? Ek weet regtig nie meer nie. Dit is nie net ons wat in hierdie bootjie is nie. Ek praat, ek vra hulp, bel, skryf briewe vir die minister.

“Snags lê ek en dink wie ken ek wat iemand ken wat dalk kan help. My man se gesondheid gaan agteruit en ons moet maar almal daarmee vir lief neem.

“Ek dink nie hulle besef wat hulle aan ʼn pasiënt en almal betrokke by die proses doen nie. Dit is net die Vader se genade dat ons almal die afgelope jaar nog hoopvol gebly het.

“Wat meer moet ons doen om mense te kry om hul werk te doen? Hoe sou jy gevoel het as dit jou man of kind in die posisie was, of as dit jy was met nierversaking en ʼn tweede kans op lewe kry, maar dit word jou ontneem?”

  • Maroela Media het navrae aan die departement van gesondheid, asook aan die minister se woordvoerder oor die saak gerig. Geen terugvoer is tot dusver ontvang nie. Die berig sal bygewerk word sodra die departement reageer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

katerinadiekat ·

Wel hulle is blankes..so ja..hierdie ANC beheerde departement van gesondheid voel vere.

Dirk ·

Dit is hiper frustrerend dat ons as gemeeenskap geen mag het nie, geen verteenwoordiging het nie.
Ons het nie langer ‘n keuse as om onsself te wend tot meer radikale opsies nie.

Gert ·

Kan nie verstaan hoekom die departement moet besluit nie as als reg is en al die toetse is positief hoekom moet gewag word vir iemand wat geen belang daarby het nie as ‘n bekwame span dokters die operasie kan afhandel nie?

Chris dupreez ·

Al wat mkizi nou wil hê is dat die vet katte in die anc hulle covid inentings kry, verder gee hy nie om nie

Johanncb ·

Die finale besluit is tussen skenker en ontvanger! Is die regering nie veronderstel om lewens te help red nie? Ek hoop die medici kan die proses verhaas!

Sonia ·

die minister is heeltemal te besig om voor kameras te verskyn weens die virus

Mad Mike die Rhodesiër ·

Dis nou wit-rassisme hierdie. As hulle swart was, het hy lankal die nier gehad.

Eend Bessinger ·

Die regering gee nie om nie. Hulle is nie die regte kleur nie en die virus is nou belangriker as ‘n wit lewe…

Jack ·

Ongelukkig is onbevoegdheid en gebrek aan die wil om te help n kenmwerk van die staat in die algemeen. Gaan kry hulp in n eerste wereld land en die saak was lankal afgehandel sonder die moontlikheid om septisimia ook te kry.

BoepensVark ·

Ek wonder of wyle Manto Tshabalala-Msimang ook so lank gewag het….

Veronika ·

Gaan na Solidariteit of Afriforum toe, hul het afdelings vir al hierdie ou goedjies om die regering so bietjie aan te te help. Treurige goed. Daar was geen oponthoud toe daai vroulike minister destyds 2 leweroorplantings moes kry nie , dit was als baie vinnig gedoen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.