Komitee steek stokkie voor Tottenham-ooreenkoms

Die Britse sokkerspan Tottenham Hotspur. (Foto: Twitter/ Tottenham Hotspur)

Die portefeuljekomitee vir toerisme in die parlement het Dinsdag tot SA Toerisme se spyt gesê die voorgestelde borgskap van R1 miljard aan Tottenham Hotspur moet met onmiddellike inwerktreding gekanselleer word.

Die komitee beplan ook nou om ʼn ondersoek te gelas na dié hoogs omstrede ooreenkoms met die Britse sokkerspan, en voor te stel dat die geld herprioritiseer word.

Dié stappe volg nadat dit Dinsdag tydens ʼn vergadering met SA Toerisme en Lindiwe Sisulu, minister van toerisme, aan die lig gekom het dat Johan van der Walt, waarnemende finansiële hoof van SA Toerisme, bande het met ʼn maatskappy wat na bewering by die ooreenkoms sou baat.

Van der Walt is so onlangs as Desember genader en op ʼn tussentydse basis vir slegs sewe maande by SA Toerisme aangestel. Die komitee eis nou ook Van der Walt se bedanking met onmiddellike effek.

Sisulu het egter tydens die vergadering gesê slegs die president is in ʼn posisie is om ʼn stokkie voor die ooreenkoms te steek.

Tandi Mahambehlala, voorsitter van die portefeuljekomitee, het van haar verskil en dit duidelik gestel dat die portefeuljekomitee die mandaat het om enige projek wat met geld wat deur die parlement bewillig word op die ys te plaas.

Komitee nie oortuig

Die komitee het tydens sy vergadering met SA Toerisme gesê daar is geen statistiese grondslag vir die bewerings dat die ooreenkoms 21 miljoen toeriste in 2030 sal lok nie. Die komitee sê daar is ook geen manier dat R1 miljard van Suid-Afrika se geld gebruik kan word om vir ʼn internasionale program te betaal wanneer armoede in Suid-Afrika seëvier nie.

Die komitee was óók nie beindruk met Themba Khumalo, die waarnemende uitvoerende hoof van SA Toerisme, se voorlegging nie. Die komitee sê dié voorlegging is vol teenstrydighede en skep meer vrae as antwoorde.

Luidens die voorlegging is die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging (SAFA) ook nie gelys onder die belanghebbendes wat oor die ooreenkoms geraadpleeg is nie. Mahambehlala het gesê SAFA se uitsluiting is “onverstaanbaar en belaglik”.

Die komitee het Sisulu ook gevra of sy van die ooreenkoms, sowel as die aanstelling en bedanking van sekere raadslede kennis gedra het. Die minister het geantwoord dat sy nie kennis gedra het van die ooreenkoms nie.1

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

domheks ·

Die minister van Finansies moet ook in die toekoms kyk aan watter mini-ster hy die swaar verdiende belasting geld aan toe ken – dan sal daar nie sulke probleme ontstaan nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.