Komitee vra SAUK-raad om te bedank

SABC-gebou in Kaapstad Foto: Maroela Media

SABC-gebou in Kaapstad Foto: Maroela Media

LP’s het Woensdag besluit dat die nie-uitvoerende direkteure van die SAUK-raad gevra sal word om te bedank en indien hulle versuim om dit te doen, sal ʼn parlementêre ondersoek na die raad se bevoegdheid om sy amp te beklee gedoen word.

Humphrey Maxegwana, voorsitter van die parlement se portefeuljekomitee oor kommunikasie, het gesê die besluit is geneem om ʼn ondersoek te doen en parlementêre prosesse sal behoorlik gevolg moet word. Die besluit is Woensdag geneem by ʼn lang en dramatiese vergadering van die komitee en die SAUK-raad.

“Ons sal aan die individue op die raad skryf oor die stand van sake binne die raad, hulle versoek om te bedank en dan kyk wat hulle sê, maar die besluit is dat ons ʼn ondersoek sal doen.” Maxegwana het gesê hy twyfel sterk of die oorblywende raadslede sal voldoen aan die komitee se versoek om te bedank.

Die komitee se besluit kom nadat Obert Maguvhe, die raadsvoorsitter, en James Aguma, die waarnemende bedryfshoof, Woensdag volgehou het om hul besluit om Hlaudi Motsoeneng in ʼn senior pos by die openbare uitsaaier aan te stel, te verdedig. Die aanstelling kom nadat ʼn appèlhofuitspraak Motsoeneng se vorige aanstelling as bedryfshoof ter syde gestel het.

Tydens die vergadering het twee raadslede hulself van die raad gedistansieer deur te bedank en daarop aangedring dat die raad moet ontbind. Krish Naidoo, ʼn raadslid wat deurentyd uitgesproke was teen die besluit om Motsoeneng weer aan te stel, het gesê die raad is disfunksioneel en moet geskrap word.

Naidoo het aan die komitee gesê die appèlhof het die laaste sê gehad oor Motsoeneng se toekoms by die openbare uitsaaier. “Dit is die finale deur. Jy is nie langer ʼn werknemer van die organisasie nie en dis so maklik soos dit. Die punt dat die appèlhof se besluit niks met Motsoeneng as werknemer te doen het nie is absoluut belaglik. Die persoon wat dié raad vir die SAUK gegee het moet geskiet word.”

Naidoo het ook na Aguma gekap en gesê hoewel hy inderdaad by magte is om Motsoeneng na ʼn ander, senior pos te skuif, gebruik hy nie sy mag op regverdige wyse nie. “Wanneer ek luister na ʼn uitvoerende hoof wat in sulke algemene terme praat maak dit eintlik ʼn saak uit oor hoekom die raad ontbind moet word.”

Nog ʼn raadslid, Vusi Mavuso, het met Naidoo saamgestem en bygevoeg dat hy en Naidoo uitgesluit is wanneer sleutelbesluite deur die raad geneem is. Hy het gesê hy is geen geleentheid gegee om die voorlegging wat Woensdag aan die raad gedoen is te sien of terugvoer daaroor te gee nie.

Hy het gesê die raad is disfunksioneel en dat “behoorlike prosedures” nie gevolg word tydens die neem van besluite nie. “Ek kan nie bekostig om deel te wees daarvan nie en aangesien my bydrae nie van veel waarde vir hierdie raad is nie, dien ek vandag my bedanking in,” het hy gesê.

Motsoeneng het deurentyd woordeloos gesit tydens die vergadering, maar is gekap oor uitsprake wat hy buite die komiteekamer gemaak het. Liezl van der Merwe, Inkatha Vryheidsparty LP, het aan die komitee gesê dat Motsoeneng buite die kamer gesê het dat enigiemand wat dink hulle kan van hom ontslae raak, is verkeerd. “Hierdie is maar net die begin, so ek wou vir julle sê, Mnr Motsoeneng bly astrant,” het sy gesê.

Floyd Shivambu, die adjunk-leier van die EFF, het gesê Motsoeneng wat “te kere gaan” sal nie LPs afsit van hul pogings om hom uit die SAUK te kry nie. “Ons sal nie deur Hlaudi geïntimideer word nie. Niemand in Suid-Afrika is onvervangbaar nie. Die tyd vir speletjies is nou verby. Hy moet nou maar realiteit in die gesig staar,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

GES ·

Dit sal wonderlik wees as die minister ook die ‘eerbare’ ding sal doen en ook bedank.

Koos1 ·

GES, eerbaar ja. Maar eerlik, opreg, nee, onthou, sy is aangestel deur Zuma, so maak maar jou eie afleidings oor die breinkrag en intregiteit.

Johann ·

The Untouchables…gaan kyk gerus die ou filmpie. So kom ons wees naief positief in ons verwagting dat al.is dit net vir korttermyn oë verblindery en n poging tot POST verkiesing ANC PR…dat die SAUK dalk n begin kan wees van tot hiertoe en nie verder nie. Maar dan is daar die kwessie van.ou Faith….en Zumpianisme.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.