Komitee waarsku oor ‘fopnuus’ rakende onteiening

land-lugfoto-grond-landbou

Foto: Magda Ehlers/Pexels.com

Die parlementêre grondwethersieningskomitee het hom uitgespreek teen “sekere groepe” wat “vrees saai” met ’n Afrikaanse SMS wat die ronde doen oor die proses van grondonteiening sonder vergoeding.

Volgens die komitee beweer die SMS dat die bestuur van ’n landbou-organisasie in Muldersdrif tydens ’n onlangse vergadering gesê het dat die wysiging van art. 25 van die Grondwet tot gevolg sal hê dat enige besittings onteien sal kan word.

Die SMS gaan verder om te sê dit beteken voertuie, los items, wapens, geld in die bank “en jou pensioen” sal onteien kan word. Die proses wat tans gevolg word, word vergelyk met die situasie in Zimbabwe en daar word gesê dat burgers “net ’n kort tydperk sal kry om hul grond te verlaat”.

Vincent Smith, medevoorsitter van die komitee, het die publiek gewaarsku teen fopnuus. “Dit is definitief nie die bedoeling van die parlement nie. Die mandaat is om art. 25 van die Grondwet te hersien om dit moontlik te maak vir die staat om grond te onteien in openbare belang en om die nodige grondwetlike wysigings voor te stel.”

Julius Malema, die leier van die EFF. Foto: ANA.

Lewis Nzimande, die ander medevoorsitter van die komitee, het ’n beroep op Suid-Afrikaners gedoen om hulle daarvan te weerhou om afbreuk aan die komitee se werk te doen. “Indien die SMS eg is, is ons baie bekommerd oor die boodskappe wat sekere groepe in die landbousektor versprei.”

Die komitee se uitsprake kom kort nadat Julius Malema, leier van die EFF, aan die media gesê het “ons gaan die grond nasionaliseer en alles wat ondergronds saam met die grond kom”.

Volgens Times Live het Malema verder gesê: “Indien jy ’n verband het, sal ons met die bank praat en sê ons het die grond gevat. [Ons sal die bank vra] hoeveel die grond [werd] was en hulle sal vir ons sê, en ons sal dan sê dit is nou weg sonder vergoeding. Jy sal net die verband oorhou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

bgj van der westhuizen ·

jy praat groot maar dit is nie net van vat nie

christa ·

enigiets is moontlik van die “smash & crab regering. Is liewer voorbereid daarop as om soos Zim op die einde te sit hande in die hare.

Griki ·

As TimesLive die waarheid praat, het Malema rêrig niks, maar níks verstand nie.

Robert ·

@Griki: Hy het nie veel nie. Hy wil die huise en die erf los van mekaar maak, nog nooit gehoor jy koop ‘n huis en erf los van mekaar nie. Dis soos om ‘n kar met die wiele apart te koop. Hy is verslaaf aan aandag en sal nie ophou solank die media hom voer nie en andersom.

AmY ·

Fopnuus? Ek wonder… Hulle mag dalk alles vat wat ons het. Ons gaan net met die klere aan ons lyf vlug. Waarheen, weet ek nie…

Kannaland ·

Dit is presies wat gaan gebeur as eiendomsreg eers uit die deur uitgesmyt gaan word, eers ‘net sekere eiendom’, dan ons almal se alle vorme van eiendom. Die taktiek is om stelselmatig ons uit te druk. Kyk maar, eers sou ons na 1994 veilig wees, toe val die een universiteit na ander, die een diskriminerende wet na die ander, so gaan dit net aanhou skuif tot ons niks meer het nie.

GM ·

Ha, ek wil die persoon sien wat gaan aanhou betaal aan ‘n verband as die regering die grond gevat het. Dis van als verniet wil hê, dat die land in so ‘n gemors is. Onteien maar eerste jul president se plaas.

Mrs H ·

Dis gn fopnuus nie! Dis die waarheid! Hulle kry nou te skaam om dit te erken OF hulle word bang vir die reaksie van ander lande en verdere verswaking van SA ekonomie op CR se horlosie.

Ander Annie ·

Mnr Smith, dan het dit tyd gehou dat u vir mnr Malema adviseer om op te hou met sy opstokery. Die grond kwessie moet met groot versigtigheid hanteer word, en mnr Malema moet liefs sy mond toe hou.

Oom Koos ·

Dit sal my geensins verbaas as daar beslag op witmense se grond, eiendomme en ander besittings gelê word nie. Witmense word mos nie as burgers beskou nie maar word net geduld omdat hulle belasting betaal vir sogenaamde dienste wat glad nie gelewer word nie.

Edd ·

Dit is nie fop nuus nie. Dit is ‘n opinie of vermoeding. Fop nuus sou wees om te sê dat die regering alles pers as blou klasifiseer as hulle besluit het om blou as pers te geklasifiseer het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.