Komitee wat Covid-19-korrupsie bekyk ‘net lippetaal’

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Die interministeriële komitee wat deur pres. Cyril Ramaphosa in die lewe geroep is om korrupsie met Covid-19-fondse te bekyk, is soos alle vorige interministeriële komitees net lippetaal om die illusie van optrede te skep.

“Hierdie tandelose samekoms van ANC-kaders het geen werklike kapasiteit om die betrokkenes te ondersoek en te vervolg nie. Maar nog belangriker, dit het ook geen motivering om dit te doen nie,” het John Steenhuisen, DA-leier, in reaksie op die komitee gesê.

Die komitee bestaan uit Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, Jackson Mthembu, minister in die presidensie, Toti Mboweni, minister van finansies, Bheki Cele, minister van polisie, Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, en Senzo Mchunu, minister van staatsdiens en administrasie. Lamola is die voorsitter van die komitee.

In die 26 jaar wat die ANC aan bewind is, het die party nog nooit een van sy eie lede skuldig bevind aan enigiets nie, voer Steenhuisen aan. “En die party gaan dit ook nie nou begin doen nie. Hierdie interministeriële komitee gaan in dieselfde doodloopstraat eindig as die interministeriële liggame wat Nkandla en die Gupta-landing by Waterkloof ondersoek het, asook elke hoëprofiel-ANC-kader vrygespreek het.”

Suid-Afrikaners is moeg vir leë gebare en wil optrede van die president sien. “Hulle wil sien dat skelm kaders hul luukse klerehandelsmerke en Duitse sportnutsvoertuie verruil vir oranje oorpakke en tronkbeddens. Maar in plaas daarvan het ons ʼn toeskouerpresident wie se beste aanbod aan die land is om net te praat, nuusbriewe uit te stuur en betekenislose interministeriële komitees te stig.”

Steenhuisen wil weet hoekom die komitee in die presidensie gesentraliseerd is, hoe onafhanklik dit is, wie oorsig daaroor sal verskaf, watter magte dit regtig het en hoekom die president nie eerder die parlement versoek het om ʼn komitee op die been te bring wat by magte is om die korrupsieplaag te ondersoek nie.

Die DA-leier John Steenhuisen. (Foto: Courtney Africa/ANA)

Die DA het vroeër voorgestel dat Tito Mboweni, minister van finansies, ʼn spesiale inspekteur-generaal aanstel om die plundering van Covid-19-fondse te verhoed.

Dié persoon moet by magte wees om inligting te versoek van enige regeringsdepartement, agentskap of entiteit op nasionale, provinsiale of plaaslike regeringsvlak. Versuim om binne sewe dae inligting bekend te maak, moet as ʼn strafregtelike oortreding beskou word.

“Die persoon moet ook kan keer dat geld aan enige individu of entiteit betaal of herroep kan word in gevalle waar daar tekortkominge gevind, prosesse nie nagekom is nie of magsmisbruik of korrupsie vermoed word.”

Die spesiale inspekteur-generaal moet verder by magte wees om die toeken van tenders en kontrakte nietig te verklaar, die legitimiteit van enige onderneming te ondersoek wat enige staatsondersteunde Covid-19-finansiering ontvang, asook aankope kan voorkom of beëindig waar buitensporige pryse opgemerk word.

“Die dolle, vraatsugtige winsjag tydens die verkryging van persoonlike beskermende toerusting deur ANC-kaders en hul gesinne was heeltemal voorspelbaar vir almal wat die ANC-regering al ooit in aksie gesien het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

28 Kommentare

jongste oudste gewildste
Willem

Ek wil deel wees van hierdie komitee.

Nie Verbaas

As ANC DA en VF lede aangestel het om korrupsie ondersoek te loods sou ons hom geglo het. Ek wonder of geagte Mnr Ramaphosa dink dat die hele wereld so onnosel is om hom te glo. ANC sal weer net klein vissies aan die pen laat ry om ons te laat dink hulle doen iets. Die wat saakmaak sal skotvry daarvan wegloop.

Maria

Stem heeltemal saam met John Steenhuizen. Die regering is hopeloos en daar is niks wat ooit sal verander nie. Alles wat hulle enigsins goed gedoen het in die verlede word verswelg deur hul korrupsie, leuns, magsbehep en wreedheid, veral teenoor armes. Ons mense is deel van hierdie land en in honderde jare het ons baie gedoen om dit beter te maak. Dit is my land ook. Daarom doen ek my eie ding, in alles wat ek aanpak.

Remlut

Stem 100% saam.

Sobymykoolkop

Net gister sê die hoofrower van die Vrystaat en sekretaris van die anc ( Ace) dat daar GEEN anc leier is wat NIE met belastingbetaler( lees regering) besigheid gedoen het en steeds doen nie