Kommandowurms tref SA

Foto: Twitter via @landbou.

Foto: Twitter via @landbou.

Die departement van landbou, bosbou en visserye het die uitbreking van ʼn herfs-kommandowurmplaag in Limpopo bevestig.

Toetse deur die Landbounavorsingsraad (LNR), in samewerking met die instituut vir plantbeskerming, het die uitbreking bevestig.

Bomikazi Molapo, woordvoerder vir die departement, het gesê kommandowurms is ʼn kwarantynpes en val gewasse soos mielies, sorghum, sojabone, grondboontjies en aartappels aan. “Dié plaag (in motvorm) kan baie goed vlieg en is dus baie moeilik om te beheer,” het Molapo gesê.

Die skade is vir voorlopig nog beperk tot Limpopo en Noordwes. Die wurms het tot dusver weggelê aan geelmielies, soetmielies en mielies wat vir saaddoeleindes geplant is.

Skade aan mielieland in Dwaalboom. Foto: Twitter via @EngelbrechtPiet

Skade aan mielieland in Dwaalboom. Foto: Twitter via @EngelbrechtPiet

Die Suid-Afrikaanse noodplan vir plantplae is reeds in werking. Dié plan is spesifiek gemik op nuwe plae in Suid-Afrika. Die aksies wat geneem word hang af van die plaag, die verspreiding van die plaag asook die omvang van die skade. “Noudat daar positiewe identifikasie plaasgevind het, kan die departement voortgaan met die assesserings van die verspreiding en skade asook bewusmaking omtrent die plaag. Die departement sal boere ook voorsien van korrekte inligting en beheeropsies,” het Molapo gesê.

Feromoon-opvangers sal na Suid-Afrika ingevoer word om vas te stel watter spesifieke soort herfs-kommandowurm nou in Suid-Afrika kop uitgesteek het.

“Omdat die kommandowurm nuut is in Suid-Afrika is daar nie enige plaagdoders in die land geregistreer nie,” het Molapo gesê. Die departement het landbou-ondernemings genader om hul plaagdoders vir mielies spesifiek te registreer aangesien daar tans al plaagdoders is wat in staat is om hierdie plaag te beveg. Die vereistes vir die registrasie is 1) om die etikette te wysig om die herfs-kommandowurm in te sluit en 2) om nuwe produkte wat nog nie geregistreer is nie ook te registreer.

Molapo het beklemtoon dat daar dus reeds plaagdoders beskikbaar is vir die herfs-kommandowurm, maar dat die etikette van die produkte dit net nie noodwendig so aandui nie. Die departement sal vandeesweek begin om bykomende plaagdoders te registreer.

Die departement het ook ʼn plaagbeheergroep gestig wat gereeld sal vergader om proaktiewe maniere te vind om die plaag te beheer. “Ons sal die voorkoms van die wurm aanmeld by die internasionale plantbeskermingskonvensie. Ons sal ook die lidlande van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap in kennis stel en voorkomingsmaatreëls bespreek,” het Molapo gesê.

Boere wat vermoed dat herfs-kommandowurms op hulle plase besig is, moet die departement in kennis stel by 012 3196384/0723488431 of [email protected].

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Ou Kommandowurm Vlakvark ·

@ Bomikazi Molepo en Maroela Media: Ek, OU Kommandowurm Vlakvark, onthou hoe die kommandowurms reeds in ongeveer 1955 ons grasperke in KwaZulu-Natal op groot skaal opgevreet het. Hulle was KOMMANDOWURMS! Wat het geword van enige en al die navorsing en dokumentasie oor die kommandowurmplae in Suid-Afrika?

Liza ·

Ek onthou baie goed hoe my oupa vertel het van die pes van kommandowurms jare gelede, nee jong hierdie gaan ook apartheid se skuld wees….

Justice ·

Die Feromoon opvangers is nog nie hier nie? Is seker nog op die boot want die vliegtuig was te duur. Indien ek so na die Dwaalboom mielielande op die foto kyk kon jy die wurms en motte met die hand vang om dit te kon identifiseer. Ek kan nie dink dat die wurm gif so spesiaal moet wees nie dat niks gedoen kan word voordat die kommandowurms positief as ‘n wurm spesie geidentifiseer is nie.

More ·

Geen haas Justice, more is nog ‘n dag. Lees die berig deur “kommandowurms” te vervang met “plaasmoordenaars”.

Kosie ·

Miskien kan Taaltoffie vir ons duidelikheid gee: Is die regte woord uitbraak of uitbreking? Uitbraak klink darem vreeslik ongemaklik.

Janie Monsieur ·

Dagsê Kosie,

Dankie vir jou kommentaar. Jammer vir die oorsig, die artikel is reeds gewysig.

Groetnis
Janie nms. Maroela Media

John ·

Na al die konsternasie en gedoentes en bestellings en wysigings en vergaderings en voorleggings en besprekings en terugvoer en planne van aksie bly net die stingels oor soos in die foto hierbo. En ons dog Monsanto en Syngenta se gm-saad was nou al so goed gedokter met gif dat die tv aanskakel sodra ‘n mieliepit uitspruit. Nou moet ons nog gif spuit ook… Weet die medici hiervan sodat hulle weer teenmiddels kan bekook vir die siekes wat die mieliepap geeet na al die baie planne en konsternasie en… o, ek het dit al gese…

Johan ·

Die berig is ook misleidend, dis die HERFS kommandowurm (“Fall Army Worm”), dit is iets anders as die “gewone” kommando wurm. Dis die eerste keer dat die herfs kommandowurm hier gevind word.

Landi Slatter ·

Dagsê Johan

Dankie vir jou kommentaar. Jy is inderdaad reg. Ons vra om verskoning, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

Alida ·

Ja en die slim mense het al die goeie gif van die mark afgehaal. In die 70’s was DDT nog beskikbaar vir malaria muskiete vandag sterf mense aan malaria.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.