Kommentaar oor gesondheidsregulasies ‘uitgewis’

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die organisasie Freedom of Religion South Africa (FOR SA) en die DA beweer dat die departement van gesondheid tientalle e-posse met lede van die publiek se kommentaar oor die konsepregulasies wat ná die ramptoestand moet intree, uitgewis het. Dít sonder dat die e-posse glo eers oopgemaak of gelees is.

FOR SA en die DA het in hierdie verband aan dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid, geskryf om die departement van die situasie in kennis te stel.

Albei organisasies sê hy het talle bewyse daarvan dat e-posse uitgewis is (sonder dat dit gelees is) in die vorm van outomatiese terugsendings via e-pos aan diegene wat kommentaar ingestuur het.

In FOR SA se brief vra die organisasie die departement hoe hy sal verseker dat elke geskrapte kommentaar teruggekry en behoorlik oorweeg sal word.

Lede van die publiek het kans tot Vrydag om kommentaar te lewer op die regering se nuwe gesondheidsregulasies wat verlede maand in die Staatskoerant gepubliseer is. Die regulasies sal die veronderstelde tydelike gesondheidsmaatreëls wat tydens die ramptoestand van krag was, permanent vervang.

Die DA vra dat Phaahla ʼn onafhanklike en deursigtige oudit van alle kommentare moet doen en dat die regulasies nie in werking tree voordat hierdie oudit uitgevoer is nie.

Michele Clarke, die DA se woordvoerder oor gesondheid, sê die oudit moet ʼn assessering insluit van die stelselvermoëns van die platform wat die departement gebruik om kommentare te ontvang. “Dit kan ʼn geval wees van daardie platform wat sukkel om die aantal e-posse wat inkom te hanteer. Hoewel dit ʼn tegniese kwessie kan wees, verdien Suid-Afrikaners duidelikheid en ʼn kans om hul besware weer in te dien,” het Clarke gesê.

Volgens Michael Swain, uitvoerende hoof van FOR SA, is die beweerde uitwissing van die e-posse ʼn growwe skending van lede van die publiek se reg om vertoë te rig. “Dit is ʼn buitengewone optrede wat lei tot ʼn onbillike proses van openbare deelname wat noodlottig gebrekkig is en wat ongetwyfeld die regulasies oopstel vir geregtelike hersiening,” het Swain gesê.

AfriForum het Woensdag ʼn aanmaningsbrief ingedien wat ook as die organisasie se geskrewe kommentaar dien oor die wysigings van die konsepregulasies. Die aanmaningsbrief is ook ʼn waarskuwing aan die regering dat AfriForum regstappe sal doen indien hierdie regulasies van krag word.

Reiner Duvenage, AfriForum se veldtogbeampte vir strategie en inhoud, sê indien die inwerkingstelling van die nuwe voorgestelde gesondheidsregulasies nie met ʼn interdik voorkom kan word nie, sal AfriForum regstappe doen om die regulasies te hersien sodra dit in werking tree.

“AfriForum meen dat die voorgestelde regulasies buite die beoogde omvang van die wetgewing is. Dit was nooit die wetgewer se bedoeling dat hierdie wette sulke verreikende gevolge moet hê nie. Die konsepregulasies dupliseer ook sekere maatreëls wat voorheen deur die howe geskrap is, soos gedwonge kwarantyn. Laastens is hierdie regulasies ook irrasioneel en onwettig,” het Duvenage gesê.

“Die regering probeer ons nou ʼn rat voor die oë draai deur veronderstelde tydelike ramptoestandregulasies permanent af te dwing. Die konsepregulasies is duidelik niks anders nie as ʼn desperate poging van die regering om aan die onbeperkte mag te klou wat tydens die Covid-19-tydperk aan hulle toegeken is. Ons beloof om die inwerkingstelling van hierdie maatreëls in die belang van ons lede en die gemeenskap tot in die hoogste hof te beveg.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Friedrich ·

Ek dink koppe moet rol, of hulle dit terug kry of nie. ????

Christa ·

Die regering was nie van plan om van die begin af enige teenkanting te duld nie. Dit is n gruwelike miskenning van ons menseregte. Hulle is moedswillig en wil hulle voortgesette drakoniese magte en wette voortsit. Ek hoop werklik dat hierdie saak nie daar gelos gaan word nie. En dat elke landsburger wat sy sout werd sal opstaan en sê genoeg is genoeg, en dat dit op n eerlike en wetlike manier deur die howe opgelos gaan word.

Marius ·

Hoekom sal ‘n kommunistiese regering hul aan kommentaar of geregtigheid steur ?

Papsak ·

Ja Kyk net hoe skelm raak van goed onslae eerder as Om te luister Na publiek skande

Jacobus ·

As die regering hulle nie aan die burgers se kommentaar steur nie, hoekom moet die burger hulle aan die regering se regulasies steur?

Jaco ·

Daar moet net genoeg groepe mense van 500 of meer wees wat sonder maskers winkelsentrums binnegaan. Daar sal te min sekuriteitswagte en polisie wees om hulle te keer en te verwyder. Hou so ‘n maand met dié optrede aan en dan verdwyn die laaste simpel inperkingsreëls.

Jack ·

Jy het net een skelm met n wysvinger nodig om dit te doen. Wat n korrupte gemors.

Jacobus ·

Hulle het vinnig by kommuniste geleer en ‘n stywe dosis by Gestapo.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.