Kommentaar op wysigings aan Skolewet heropen

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Belanghebbendes het nou geleentheid om skriftelike kommentaar op die voorgestelde wysigings aan die Skolewet, oftewel die Bela-wysigingswetsontwerp, te lewer.

Mense wat kommentaar wil lewer, moet dit teen 15 Junie om 16:00 by die parlement indien. Voorsiening kan ook gemaak word vir mondelinge voorleggings.

Die portefeuljekomitee oor basiese onderwys het in Februarie aangekondig dat hy ʼn uitgebreide openbaredeelnameproses sal begin om belanghebbendes die kans te gee om insette oor die wysigings te lewer. Dit nadat ʼn proses vir openbare kommentaar reeds vroeër onderneem en afgehandel is.

Die wetsontwerp beoog om die Suid-Afrikaanse Skolewet (SASA) en die Wet op Indiensneming van Opvoeders (EEA) te wysig om dit “te laat strook met ontwikkelings in die onderwyslandskap”.

Volgens die portefeuljekomitee sal hierdie wetsontwerp onder meer toesien dat skoolbywoning van gr. R-leerders verpligtend gemaak word, voorsiening gemaak word vir stelselverbeterings in terme van die toelating van leerders tot openbare skole en sal sekere definisies in die sektor gewysig word.

Verder wil dit voorsiening maak vir ʼn finansiële en openbare aanspreeklikheidsraamwerk vir beheerliggame en provinsiale departemente. Die wysigings sal ook verseker dat die minister bykomende regulatoriese magte het en dat die besluitneming en toesighoudende magte van departementshoofde en lede van die uitvoerende rade verbeter word.

Kritici meen egter dat dié wysigings bloot ʼn manier is van die regering om die mag uit die hande van skole se beheerliggame te neem en in die hande van die staat te plaas. Sommige kenners het dit boonop as “die grootste aanval nóg op Afrikaanse onderwys” bestempel.

Die vakbond Solidariteit het vroeër vandeesweek gesê dat hierdie voorgestelde wysigings die staat se manier is om die land se skole te probeer kaap.

“Deur hierdie wysigingswetsontwerp wil die staat die regte van die beheerliggaam, dus die ouers, wegneem en in die hande van politici plaas,” het Johnell van Vollenhoven, beleidsontleder by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), gesê.

Solidariteit het onderneem om sy kommentaar oor wat nou bekend staan as die Bela-wysigingswetsontwerp in te dien.

AfriForum het vroeër aangekondig dat hy al sy hulpbronne mobiliseer in ʼn poging om hierdie voorgestelde wysigings teen te staan.

Die DA het ook sterk standpunt hieroor ingeneem en, nes AfriForum, ʼn petisie teen die wetsontwerp van stapel gestuur.

Die DA voer aan indien hierdie wysigings aanvaar word, dit katastrofiese gevolge vir moedertaalonderrig in die land sal inhou.

“Die wetsontwerp poog om die nasionale departement van basiese onderwys, gelei deur minister Angie Motshekga en [Gautengse LUR Panyaza] Lesufi, onbeperkte mag te gee om onder andere skole se name te verander soos hulle goeddink,” het Baxolile Nodada, die DA se skaduminister vir onderwys, gesê.

“In wese sal ʼn gelaaide wapen aan hierdie ministers gegee word om die langdurige oorlog teen moedertaalonderrig voort te sit.”

Hoe om kommentaar te lewer

Volgens die portefeuljekomitee kan enige individu of organisasie kommentaar lewer op die voorgestelde wysigings deur dié kommentaar aan Llewellyn Brown, die komiteesekretaris, te rig.

Alle kommentare hierop kan na die e-posadres [email protected] of Whatsapp 060 550 9848 gestuur word, asook aanlyn ingedien word.

“Brown kan ook by 083 709 8450 vir navrae bereik word,” sê die komitee.

Alle korrespondensie moet aan mev. B P Mbinqo-Gigaba, voorsitter van die komitee, gerig word en vir aandag aan Llewellyn Brown gerig word.

“Verskaf asseblief ook die naam, van, telefoonnommer en e-posadres van die persoon of organisasie wat die kommentaar indien.”

  • Lees hiér oor die voorgestelde wysigings aan die Skolewet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Swerwer ·

Laat die wesens hul kindertjies opvoed in hul taal en kultuur en basta die res, ons kinders kan nog steeds goeie Christelike skole bywoon sonder al hierdie kommunistiese politiek. Ons moet net saamsstaan en skouer aan die wiel sit. Ongelukkig het die kommunis soos kanker die wêreld deurwortel. Kry Godsdiens en dissipline terug in skole en siedar, dinkge sal beter loop.

Renier johannes ·

Hou politiek uit die skole dan sal dit beter gaan en bring godsdiens terug

Marius ·

Nog iets wat deur hierdie onkundige regering in ‘n groot gemors omskep gaan word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.