Kommer dat matrieks nie ‘eksamenfiks’ is nie

(Argieffoto ter illustrasie: pixabay)

In afwagting op die matriekeindeksamen wat Woensdag 27 Oktober afskop, het die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) Dinsdag aangedui dat daar kommer oor matrikulante se “eksamenfiksheid” heers.

Dít word onder meer aan die tweede ingeperkte skooljaar sedert die aanvangs van die Covid-19-pandemie toegeskryf, wat verskeie verlore eksamengeleenthede tot gevolg gehad het.

Die SOS is ook bekommerd oor die gehaltebeheer van vanjaar se vraestelle, aangesien praktiese eksamens en vraestelle wat reeds afgelê is glo verskeie druk- en skryffoute bevat het.

“Matrieks het, soos verlede jaar, nóg ʼn ingeperkte skooljaar beleef.

“Skole is bekommerd dat matrieks nie eksamenfiks is nie, omdat hulle sedert die pandemie verskeie eksamengeleenthede misgeloop het.”

Dít, sê die SOS, kan tot gevolg hê dat leerders se konsentrasie nie deurgaans volgehou kan word nie en moontlik ook hul tydsbeplanning tydens die eksamen beïnvloed.

“Rekeningkunde, ekonomie en besigheidstudies word vanjaar in twee vraestelle geskryf, in plaas van net een elk, soos in die verlede. Die impak van hierdie besluit is nog onseker en sal eers ná die eksamen duidelik word.

“Die skryf van twee vraestelle (twee uur elk) maak wel elke eksamenvraestel se tydsduur korter en deel die werk op, maar eksamenroosters raak só ook voller en die indeling van werk is nie noodwendig gebalanseerd nie,” het die instansie in ’n verklaring gesê.

Hugo Vermeulen, hoof van opleiding by die SOS, sê daar is ook kommer oor die gehaltebeheer van vanjaar se eindeksamenvraestelle.

“Vraestelle van praktiese eksamens wat reeds afgelê is, was vol errata [druk- en skryffoute].

“Hierdie foute van die departement van basiese onderwys (DBO) plaas onnodige druk op leerders wat reeds gespanne is.”

Die SOS sê hy is egter vol vertroue dat hul ledeskole, soos in die verlede, goed sal presteer ondanks die uitdagings wat deur die pandemie geskep is.

“Die veerkragtigheid van suksesvolle skole is weer eens tydens die Covid-19-inperkings bewys. Onderwysers het alles in hul vermoë gedoen om die matriekgroep op hierdie belangrike eksamen voor te berei.

“Ten spyte van Julie-eksamens wat deur die DBO gekanselleer is, het baie skole tog voortgegaan met die skryf daarvan en slypskole is tydens die vakansie aangebied. Aanlyn klasse was voortdurend aan die orde van die dag.”

In die lig hiervan is die SOS van mening dat die belangrikheid van ʼn digitale strategie opnuut bevestig is.

“Die goeie vordering wat skole hiermee gemaak het, sal verseker dat vervlegte leer in die toekoms deel van suksesvolle skole se onderrigstrategie bly.

“Die SOS wens elke leerder sterkte toe met die eksamen. Ons glo dat leerders, ouers en onderwysers die vrugte van hul toewyding sal pluk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Buck ·

Kommer oor die “anc” niks kan reg doen nie. Hier by ons skryf die matrieks vandag hul eerste vraestel in n donker saal. LOADSHEDDING. Miskien moet hulle maar weer die “Boere” aanstel om toesig oor die “anc” te hou. Toe het als mos nog gewerk

Dirk Mostert ·

Niks om oor bekommerd te wees nie. Die slaagsyfer sal laasjaar s’n oortref. Die onderwysdepartement sal daarvoor sorg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.