Kommer dat seismiese opname aan Weskus voortgaan

The Green Connection en bestaansvissermanne het hulself onlangs tot die hof gewend. (Foto: Verskaf)

Die niewinsgewende organisasie The Green Connection en die bestaansvissermanne wat hulle vroeër vandeesweek tot die hof gewend het om ʼn seismiese opname aan die Weskus te staak, is nou bekommerd dat die maatskappy wat verantwoordelik is vir die opname steeds sy bedrywighede voortsit.

Dít ten spyte daarvan dat die Kaapstadse hooggeregshof Maandag beslis het dat Searcher Geodata UK, die Australiese maatskappy wat dié opname fasiliteer, dadelik sy bedrywighede moet opskort.

Regter Daniel Thulare het The Green Connection en die 14 ander applikante – almal bestaansvissers – se tussentydse interdik teen Searcher toegestaan totdat die meriete van die saak op 7 Maart aangehoor kan word.

Dit het vroeër vanjaar aan die lig gekom dat nog ʼn seismiese opname aan die Suid-Afrikaanse kus beplan word. Vissers het hulle dadelik tot die hof gewend in ʼn poging om die oseane vir toekomstige geslagte te bewaar. Die hofstappe volg nadat omgewings- en burgerregtegroepe kort tevore ʼn interdik teen die olie-en-gasreus Shell bekom het om sy eksplorasiepogings te stuit.

Hoewel die applikante die interdik verwelkom het, vermoed hulle dat Searcher moontlik die beslissing verontagsaam.

Maria Welcome, woordvoerder van The Green Connection, sê volgens sekere bewyse en bronne lyk dit of Searcher moontlik steeds met sy soektog na gas en olie aan die seebodem voortgaan.

“Dit wil voorkom asof die vaartuig nog langs die dwarslyne vaar soos dit destyds op sy voorafbepaalde roete aangedui is. Dit is as deel van sy omgewingsbestuursprogram (EMPr) ingedien,” sê Welcome.

Dít, saam met die vaartuig se status van sogenaamde beperkte maneuvreerbaarheid, wat vereis dat dit op die voorafbepaalde roete moet bly, dui glo daarop dat die vaartuig steeds met die opname besig is.

Boonop beweeg die vaartuig baie stadig – tussen vier en ses knope – soos die vereiste is wanneer seismiese opnames gedoen word. Die skip se ondersteuningsvaartuig volg ook kort agterna.

“Searcher se regspan het nie ʼn duidelike, skriftelike bevestiging gegee dat sy vaartuig werklik alle verwante aktiwiteite gestaak het nie,” sê Neville van Rooy, The Green Connection se gemeenskapsuitreikkoördineerder.

Eers nadat die organisasie se prokureurs aan Searcher ʼn brief van minagting gestuur het, het die onderneming glo gereageer.

“Van wat ons kan agterkom, is die vaartuig en sy ondersteuningsvaartuig op pad na internasionale waters, waar niemand skynbaar jurisdiksie het nie. Dit is uiters swak van die Australiese onderneming.”

ʼn Aantal bestaansvissermanne deel Van Rooy se standpunt.

“Sou daar bevind word dat Searcher wel die hofbevel verontagsaam het, moet ons regering gedwing word om beslissend op te tree en hulle swaar te straf,” sê die vissers.

“Indien dit wel waar is, ontbloot dit net die buitelandse onderneming se blatante oneerbiedigheid vir die Suid-Afrikaanse regstelsel en sy mense.

“Ons troos ons egter daaraan dat die reg aan ons kant is en dat ons regspan sy bes doen om te verseker dat die gemeenskap die geregtigheid kry wat hulle verdien.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
H.A.

S.A. se regstelsel is n mislukking. 3/4 van die mense is half geskool. 3 de wereld land.

Marius

Die regering sal niks hieraan doen nie want iemand is besig om geld te skep uit die hele gedoente uit.