Kommer, kritiek oor landbou se begroting

Die begroting plaas veral groot klem op voedselsekerheid. (Argieffoto: Du Preez de Villiers/Maroela Media)

Die minister van landbou, grondhervorming en landelike hervorming het Donderdag die departement se begroting van R17,3 miljard in die parlement ter tafel gelê en ook aangekondig dat die meesterplan vir landbouverwerking (AAMP) nou onderteken is.

Die begroting plaas veral groot klem op voedselsekerheid – maar nie almal is ingenome nie.

Tammy Breedt, die VF Plus se woordvoerder oor landbou, sê die departement se begroting is gerig op die verkeerde prioriteite, waar belangrike programme onderbefonds bly, terwyl niksseggende programme en projekte groter toewysings kry.

Sy sê die administrasieprogram ontvang ʼn groter begroting as die landbouproduksieprogram wat ten doel het om toesig te hou oor veeproduksie, wildboerdery, diere- en plantgesondheid, natuurlike hulpbronne en rampbestuur. Dié program kry egter slegs sowat 14% van die algehele begroting.

“Ondanks die program se belangrike rol in die bevordering van landbouproduksie en die bestuur van biosekerheid en sektorverwante risiko’s, waaronder rampe en plae, het sy begrotingstoewysing gestagneer en sal dit met ʼn gemiddeld van 1% oor die mediumtermynbestedingsraamwerk (MTBR) afneem.”

Breedt bestempel dit as ʼn bron van kommer, veral in die lig van bek-en-klouseeruitbrekings wat gelei het tot ʼn verbod op uitvoere. China het onder meer weens die uitbreking die invoer van wol uit Suid-Afrika verbied.

“Die wolbedryf is ʼn R5 miljard-bedryf en kan hierdie soort verbod nie bekostig nie,” sê sy.

“Entiteite soos die landbounavorsingsraad (LNR) word onderbefonds en onderbenut en die departement maak eerder van eksterne diensverskaffers gebruik. Die navorsing van die LNR rakende klimaatsverandering, weerspatrone aan kuslyne en verskeie ander faktore, kon gehelp het om moontlik die ramp in KwaZulu-Natal af te weer of die skade te beperk – as die departement maar net sy eie entiteit vertrou het.”

Breedt sê dit is duidelik uit die begroting dat dit nie vir die regering ʼn prioriteit is om na sy landbouers om te sien nie.

“Grondhervormingsprojekte, die landbou- en landbouverwerkingsmeesterplan (AAMT), die kannabis-meesterplan en al sy fasette, die AgriSEB-fonds en die nasionale landelike jeugdienskorps (Narysec) is ʼn paar voorbeelde van projekte wat glad nie vorder nie,” sê sy.

Annette Steyn, die DA se woordvoerder oor landbou, sê die departement bestee 20,6% van sy begroting aan administrasie – die naasgrootste toewysing vir die 2022-’23-boekjaar. Tog is die administrasie van grond steeds “chaoties” en leef miljoene swart Suid-Afrikaners steeds as tweedeklasburgers wat veg om besitreg te bekom.

Steyn sê die mislukking met grondhervorming is nie die gevolg van enige grondwetlike tekortkoming of die regering se gebrek aan geld om eienaars vir grond te vergoed nie, maar eerder ʼn gebrek aan politieke wil.

Noko Masipa, ʼn DA-lid van die portefeuljekomitee oor landbou, sê die begroting pak ook nie bedreigings soos dieresiektes, plantpeste of mislukkings by instellings soos Onderstepoort Biologiese Produkte nie.

Kritiek oor meesterplan

Die departement is gekap vir sy besteding aan niksseggende programme, terwyl belangriker projekte steeds onderbefonds word. (Foto: Du Preez de Villiers/Maroela Media)

Die ondertekening van die veelbesproke landbou- en landbouverwerkingsmeesterplan (AAMT) het ook kritiek veroorsaak. Dit is nooit aan die parlement – behalwe lede van die ANC se studiegroep – voorgelê nie, sê Masipa.

“ʼn Gevaarlike presedent word geskep deur die lede van portefeuljekomitees te reduseer tot ʼn rubberstempel-rol van die ANC-kaders se studiegroep.”

Masipa waarsku ook dat verskeie ander programme misluk het omdat die jaarlikse begrotingsplan en beleid nooit in ooreenstemming daarmee gebring is nie.

Die landbouorganisasie TLU SA het dit betreur dat hy ondanks verskeie versoeke die geleentheid ontneem is om ʼn bydrae te lewer tot die daarstel van ʼn ekonomiese landbouplan tot voordeel van alle boere.

“[Die minister] het groot aandag aan die afteken van die AAMP gegee tydens landbou se begrotingsdebat. Dit is egter na ons oordeel gestoomroller, aangesien ondernemings teenoor ons nie nagekom is nie,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA.

“Transformasie is ʼn kernfokuspunt, maar ná ʼn jaar kry TLU SA steeds geen antwoorde oor wat dit behels nie. Vennootskappe word voorop gestel. Dit kan egter net plaasvind tussen partye wat albei bydra tot die verhouding. Dit moet ʼn vrywillige keuse wees.”

Wat grond betref, moet die regering eerder fokus op grond wat reeds in die mark is, of wat hy self besit. “Dit moet gegee word aan nuwe toetreders wat bereid is om die verantwoordelikheid te aanvaar en hulle ʼn billike geleentheid bied om te kan boer.

Nes Masipa waarsku Van Zyl ook dat ander planne vir die landboubedryf vantevore al klaaglik misluk het.

“Volgens TLU SA is die rede elke keer dat daar meer politiek en ideologie in die planne vervat is, in plaas van ekonomiese planne.

“Met die AAMP kan niemand regtig sê wat die transformasie – waarna deurentyd verwys word – alles insluit nie, maar wat tot dusver ervaar was, is ʼn sterk sosialisties en kommunisties gedrewe agenda.

“Daar moet ook kennis geneem word van besprekingsdokumente waaroor tydens die ANC se konferensie besluit gaan word, soos dat wit boere byvoorbeeld grond moet skenk, asook punte soos onteiening sonder vergoeding.”

Agri SA verwelkom plan

Agri SA het die ondertekening van die meesterplan verwelkom.

Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur, sê die ondertekening is die kulminasie van jare lange onderhandelings en is tekenend van ʼn gedeelde toewyding tot die sukses en groei van die belangrike bedryf.

Agri SA het ʼn aktiewe rol in die opstel van die AAMP gespeel en Van der Rheede sê die organisasie is trots op die uitkoms.

“Onder die leierskap van dr. John Purchase het die landboubedryf ʼn meesterplan geskep wat omvattende steun aan ontluikende en kommersiële boere gee. Die plan het ʼn holistiese beskouing van die sektor en pak kwessies van grondhervorming en infrastruktuur tot werksomstandighede op plase en maatskaplike sekerheid vir werkers,” sê Van der Rheede.

Hy sê Agri SA is tevrede dat die plan ʼn gebalanseerde benadering tot die primêre kommer van die sektor se talle rolspelers volg. Dit sluit in die versekering van voedselsekerheid, die bevordering van die volhoubare transformasie van die sektor, die verbetering van Suid-Afrika se mededingendheid en die skep van ʼn gunstige beleidsomgewing.

Van der Rheede sê sommige toewysings wat in die begroting gedoen is, pak sommige knelpunte wat ook in die meesterplan uitgelig word.

Dit sluit in toewysings vir die verbetering van infrastruktuur.

Van der Rheede benadruk dat die AAMP ʼn teoretiese raamwerk is waaraan daar nog gewerk word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Althes ·

Verskaf asseblief opleiding aan die minister van landbou dat wanneer hul nie mooi kyk na die boere kyk nie, dat hul gunstelingkos nie meer op die rakke sal wees nie. Eish!

Kokerboom ·

Kry ek die indruk dat AGRI SA en TLU SA nie in dieselfde span trek???

H.A. ·

Die anc wil van die boere ontslae raak. Hulle het n plan om alle vleis, groente en vrugte invoer vanaf rusland, china, cuba en indie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.