Kommer ná ‘fluitjieblaser’ verdwyn

Noma Kunene. Foto: Via Twitter

Familie, vriende en kollegas van ʼn Gautengse kampvegter en “fluitjieblaser” is rasend van bekommernis nadat sy onder raaiselagtige omstandighede spoorloos verdwyn het.

Die vrou, Nomawethu Kunene (41), meer bekend as Noma, word sedert verlede Dinsdagmiddag vermis. Sy is ʼn inwoner van Randfontein aan die Wes-Rand.

Lisa Vetten, ʼn geslagsregte-aktivis verbonde aan Wits-universiteit, het in ʼn onderhoud met eNCA gesê Noma se motor is by haar huis gelos, al haar klere en haar beursie is agtergelaat en sy het spoorloos verdwyn met net haar selfoon en skootrekenaar. Niemand kon sedertdien met Noma in verbinding tree nie.

Noma is ʼn geliefde lid van die National Shelter Movement of South Africa (NSM), ʼn beweging wat dien as ʼn verenigde stem om vroue en kinders te beskerm wat slagoffers is van geslagsgebaseerde geweld.

“Noma is ʼn langstaande lid van die NSM en ons voormalige provinsiale verteenwoordiger van Gauteng. Sy is ook die adjunkdirekteur van A Re Ageng, ʼn nie-regeringsorganisasie wat ʼn veilige hawe bied vir vroue wat op een of ander manier misbruik is,” het Zubeda Dangor, ʼn lid van die uitvoerende komitee van die NSM, in ʼn verklaring gesê.

Dangor verduidelik A Re Ageng was in ʼn langdurige hofstryd met die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling gewikkel oor die verdwyning van R5 miljoen uit A Re Ageng se bankrekening aan die einde van 2016.

“Sedertdien het twee hofuitsprake ten gunste van A Re Ageng beslis en die hof het verder die departement se beskuldiging verwerp dat die skuilling vir die diefstal verantwoordelik was,” het Dangor gesê. Die hof het die kwessie na die Nasionale Vervolgingsgesag verwys vir verdere ondersoek.

“Die hofbeslissings was egter nie die einde van [Noma se] beproewings nie. In Desember verlede jaar is Noma onwettig in hegtenis geneem. Nie in verband met die verdwyning van die R5 miljoen soos wat die polisie aanvanklik op 9 Desember in ʼn persverklaring beweer het nie, maar op ʼn onverwante saak wat aan haar onbekend is en heeltemal ʼn ander saaknommer het. Noma was uit op borgtog in verband met dié saak toe sy verdwyn het.”

Joy Lange en Fisani Mahlangu, albei uitvoerende lede van NSM, het bygevoeg: “Dit is die feit dat sy so skielik verdwyn het terwyl sy besig was om vir geregtigheid vir haar organisasie te veg, wat ons so diep bekommerd oor haar welvaart maak,” het hulle gesê.

“Ons bid dat sy ongedeerd gevind sal word en voort kan gaan om te veg vir die onreg wat aan haar en die A Re Ageng-span gedoen is. Ons gedagtes en gebede is met haar familie, vriende en medewerkers.”

eNCA berig Nomsa was betrokke by die ontbloting van beweerde korrupsie by die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling, insluitend geldwassery rakende fondse wat glo verband hou met die Life Esidimeni-tragedie.

Volgens die Pink Ladies, ʼn organisasie wat hulle daarop toespits om vermiste persone op te spoor, is Noma groot gebou met bruin oë en lang, swart hare. Sy het ʼn rok met ʼn luiperdvelafdruk aangehad toe sy vir die laaste keer gesien is.

Sy is as vermis by die Randfontein-polisie aangemeld.

NSM het ʼn beroep op die publiek gedoen om inligting oor Nomsa se verdwyning wyd te versprei en die polisie by 011 767 2300 of 08600 10111 te bel as hulle enige inligting het wat die polisie in hul ondersoek kan bystaan.

Die Pink Ladies kan ook by 072 214 7439, 083 378 4882 of 072 620 7704 gebel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Eish ·

Sirrel innie mirrel is te lig vir die helhool.
Genade mense, atlete se bene word geamputeer sonder narkose, n bosjoppie, fluitjieblasers verdwyn?
Die plek bou nou ernstig momentum op met die afrdaende pad wat ingeslaan is.

PJC ·

Na haar onwettige arrestasie is dit te betwyfel of die polisie vreeslik hard na haar gaan soek. Hierdie laat ń mens ook wonder wat hulle moontlike betrokkenheid by haar verdwyning is.

Al ·

Die omstandighede is uiters verdag. Ek hoop werklikwaar sy is ongedeerd.
Dis boos.

BEE ·

ASB dat sy gevind word; die is soooo tragies! wys jou net; blaas die fluitjie en jy word of afgedank; verdwyn of netnou sommer selfs as skuldige genoem? ek hoop hul vlek die korupte spul oop; deesdae is daar korrupsie op alle gebiede!

Alida ·

En Dlamini? Dit was mos haar departement of hoe. Die plaat raak lekker warm vir die skelms.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.