Kommer ná pypleiding in Alberton ontplof

Talle inwoners is gevra om hul huise te ontruim. (Foto: Twitter)

Inwoners van Verwoerdpark in Alberton, Ekurhuleni, het Dinsdagoggend geskarrel ná ʼn pypleiding daar ontplof het.

Besonderhede oor die oorsaak en omvang van die ontploffing is in die stadium nog onbekend, maar verskeie mense het op sosiale media gesê hulle moes vanoggend inderhaas hul huise ontruim.

Die pypleiding behoort glo aan Transnet.

Tiaan Kotzé, ʼn wyksraadslid, het op Twitter gesê alle pypleidings is gesluit. “Hulle het dit in die stadium veilig verklaar.”

Volgens Kotzé word die situasie fyn dopgehou en sal inwoners op hoogte van enige veranderinge gehou word.

(Foto: Twitter)

Eric Maloka, woordvoerder van die Ekurhuleni-nooddienste, het aan eNCA gesê die brand is in bedwang gebring.

“Brandbestryders spuit nou skuim daarop.”

Hy het gesê daar is wel nog heelwat rook waar ʼn sekondêre brand uitgebreek het.

Volgens Maloka is geen beserings tot dusver aangemeld nie.

(Foto: Twitter)

Die gebied is volgens ʼn ingeligte egter nog nie veilig verklaar nie en inwoners wat tussen 500 m en ʼn kilometer van die brande bly, word steeds gevra om die gebied te ontruim.

Een van die probleme is glo dat die kragdrade in die gebied nog nie afgeskakel is nie en dat die vlamme gevaarlik naby aan dié drade is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.