Kommer oor aanvalle op media

Senior verslaggewer Ziniko kaMhlaba van Newzroom Afrika is vroeër vandag in hegtenis geneem (Foto: Skermskoot)

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) het sy teleurstelling te kenne gegee nadat drie verslaggewers van die SAUK in Limpopo geteister en geïntimideer is.

Pimani Baloyi, Mahlatse Phaladi en kameraman Mpho Masela was naby ʼn stemlokaal in Tsabeng, in Tzaneen, toe ʼn groep inwoners van ʼn hostel in die omgewing hulle geteister en geïntimideer het.

Die verslaggewers is beledigings toegesnou en inwoners het geëis dat hulle die omgewing dadelik verlaat omdat die media nie daar welkom is nie.

Baloyi sê Masela, wat die SAUK-voertuig bestuur het, het kalm gebly en die motor stadig deur die skare probeer stuur terwyl die woedende inwoners met hul hande op die motorkap geslaan het.

“Ons het kalm gebly en stadig weggery om ʼn konfrontasie te vermy. Ons is nie fisiek beseer nie,” het Baloyi gesê.

Sanef het opnuut die belang van openbare steun en begrip van die media se rol in ʼn demokrasie benadruk. Die organisasie sê sonder joernaliste wat stories oor die lot van gemeenskappe vertel, sal hul stemme nie gehoor word nie.

Sanef het ook sy kommer gelug oor die hardhandige optrede van die polisie wat die Newzroom Afrika-joernalis Ziniko kaMhlaba in Soweto aangekeer het.

Maroela Media het vroeër berig kaMhlaba was by ʼn skool toe hy daarvan beskuldig is dat hy ingemeng het met die uitvoering van ʼn beampte van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se pligte.

Hy is aangekeer, maar die Gautengse polisiehoof, Elias Mawela, het kort daarna opdrag gegee dat kaMhlaba vrygelaat word. ʼn Polisie-ondersoek na die voorval is ook van stapel gestuur.

Sy Mamabolo, die OVK se hoofkiesbeampte, het gesê die kommissie is ook besig met ʼn ondersoek na die verloop van gebeure.

Volgens kaMhlaba het hy probeer om die voorsittende beampte by die stemlokaal te vra om met party-agente en kiesers buite die lokaal te praat, maar sy het geweier om met hom te praat. Sy het hom en die kameraman ook beveel om die lokaal te verlaat.

kaMhlaba het daarna met die Gautengse OVK se mediawoordvoerder gepraat sodat dié kon ingryp, maar die voorsittende beampte wou ook nie met dié amptenaar praat nie. Volgens Sanef wou ʼn polisiebeampte op die perseel kaMhlaba nie uitskop nie omdat hy geen wet oortree het nie, waarna die voorsittende beampte die Orlando-polisie ontbied en aangevoer het kaMhlaba ontwrig die verkiesing.

“ʼn Senior beampte wat haarself as stasiebevelvoerder Kubheka voorgestel het, het gedreig om my in hegtenis te neem as ek nie ophou om met mense te praat oor kwessies soos ʼn gebrek aan elektrisiteit wat hulle raak nie.

“Ons was nooit binne die gebou waar stemme uitgebring is nie, maar die voorsittende beampte het oënskynlik aan die beamptes gesê dat ons binne was.”

Die verslaggewer se regstreekse uitsending is onderbreek en mense wat die voorvalle op fone afgeneem het, is agternagesit en die fone gevat.

kaMhlaba sê hy en die kollega is nooit in hegtenis geneem nie, maar is geteister, geïntimideer en gedwing om op te hou met hul video-opname. kaMhlaba is eindelik twee uur lank in ʼn sel aangehou, waarna beamptes hom ondervra het en hy vrygelaat is sonder dat ʼn klag teen hom aanhangig gemaak is.

Sanef sê hy is bekommerd dat voorvalle soos dié steeds plaasvind, ondanks al die opleiding voor die verkiesing oor die regte van die media.

Sbu Ngalwa, voorsitter van Sanef, het die voorval as ʼn misbruik van mag deur die polisie bestempel. “Geen joernalis mag in hegtenis geneem of geteister word net omdat hy sy werk doen nie. Joernalistiek is nie ʼn misdaad nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
JM

Gebrek aan behoorlike opvoeding. Alles word op die bullebak-manier gedoen.

Vanessa

Dis onaanvaarbaar dat mense hulle so gedra.

Pablo

Wat n wettelose land danksy die ANC

Adriaan

Ek dink sommige media organisasies probeer nuus skep en/of hulle gehoor beinvloed om gebeure op sekere maniere te interpreteer. Mense gee uiting aan hulle gevolglike frustrasie op verskillende maniere.

Pietertjie

Afrika-mentaliteit. Waarvoor ek al só dik is.