Kommer oor agterstand met toksikologieverslae

Dit is nog nie seker watter planne gereed is om die groot agterstand van duisende toksikologieverslae in te haal nie. Luidens ʼn parlementêre vraag van Michele Clarke, DA-LP en -woordvoerder oor gesondheid, is daar in die geheel ʼn agterstand van 38 974 verslae in die forensiese laboratoriums waarvan die polisie gebruik maak in Kaapstad, Johannesburg en Pretoria.

Clarke het haar vraag in Februarie aan dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid, gerig.

Van al die laboratoriums was dit slegs die een in Kaapstad wat ʼn afname van 33 agterstallige sake getoon het in die tydperk vanaf Oktober verlede jaar. In Johannesburg het sake toegeneem met 658 tot 15 358 en in Pretoria met 387 tot 16 824.

Clarke het haar kommer te kenne gegee oor die slakkepas waarteen die toetse afgehandel word.

Luidens die antwoord word daar net 15 sake per laboratorium-ontleder per maand toegewys. Daarbenewens word ʼn saak ná 90 dae op die agterstallige rooster geplaas.

Die party wou ook weet wat die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdiens (NHLS) tot dusver gedoen het om die kapasiteit uit te brei.

Volgens Clarke was die departement se antwoorde hierop heeltemal gebrekkig.

“Die waarheid is dat die NHLS se finansiering onvoldoende is, wat dit moeilik maak om kwessies soos onvoldoende en verouderde infrastruktuur te hanteer,” sê Clark.

Volgens die minister het die NHLS wel al stappe gedoen om die agterstand te verminder. By die Pretoria-laboratorium is daar bykomende ruimtes ingerig om die toksikologie- en bloedmonsters te verwerk.

Daar is glo ook poste geadverteer vir nuwe laboratorium-ontleders vir die nuwe laboratoriums wat in Pretoria op die been gebring moet word, aldus die minister. Soortgelyke planne is ook beraam om laboratoriumkapasiteit in Johannesburg en Kaapstad te vermeerder.

Die minister was egter vaag oor hoe hierdie planne vorder, asook watter vordering daar gemaak is om die dienste van die Durbanse forensiese laboratorium uit te brei.

“Dit is moeilik om te skat wanneer die agterstand ingehaal sal word, maar die NHLS bly steeds daartoe verbind om dienslewering by al vier forensiese laboratoriums te hanteer,” het die minister in sy antwoord aan die DA gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

skurweberg ·

Mag die wat vir die agterstande verantwoordelik is, vir engine rede ookal, getref word met die regverdige oordeel van die werkgewers. As laasgenoemde nie regverdig kan oordeel nie gee ons dit oor in die Hande van die EEN wat alles weet en Almagtig is en nie die ongeregtigheid. aanhou sal verduur nie.

Marous ·

En hulle kry elke maand salaris , medies , pensioen en ander voordele terwyl hulle die strate vo le . Dis hoekom NIKS gedoen word nie .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.