Kommer oor beoogde forensiese ballistiese register

ballistiese-register-ballistiek-vuurwapen-01

Hoofkonstabel Brits, wat in 1948 die hoof van die Suid-Afrikaanse polisie se ballistiese eenheid was, vuur skote in ‘n watertenk af. Foto: Verskaf.

Die Suid-Afrikaanse polisiediens (SAPD) se planne om ʼn nasionale “ballistiese vingerafdruk”-register van alle wettige vuurwapens in Suid-Afrika te vestig, word deur kenners as ʼn verkwistende en nuttelose oefening bestempel.

Dr. David Klatzow, ʼn forensiese wetenskaplike, het verlede week ʼn elektroniese boek bekendgestel waarin hy die geldigheid van ballistiese beelding ondersoek het. Sy bevindinge was dat daar min bewyse is wat kan bevestig of ʼn sekere koeël of patroon uit ʼn bepaalde vuurwapen afgevuur is.

Klatzow het in sy boek, Defective Science, wat deur vuurwapeneienaars befonds is, ook tot die gevolgtrekking gekom dat vergelykende ballistiese wetenskap subjektief is en ruimte vir bevooroordeeldheid laat.

Die vuurwapeneienaars het Klatzow gevra om die geldigheid van ballistiese vingerafdrukke as ʼn forensiese instrument te ondersoek en om te probeer bepaal wat die moontlikheid is om ʼn nasionale ballistiese register te vestig. Dit volg op die SAPD se planne om eersdaags met die ballistiese toetsing van wettige vuurwapens te begin.

Klatzow het uitgebreide, beheerde ballistiese toetse uitgevoer waar hy ʼn verskeidenheid vuurwapens en ammunisie van verskillende vervaardigers gebruik het om skote in ʼn ballistiese tenk af te vuur. Hy het die gebruikte patrone en koeëldoppies vir unieke merke bestudeer. Hy het ook gekyk of eenvoudige prosedures en die gebruik van algemene materiaal die “ballistiese vingerafdruk” van ʼn vuurwapen kan verander.

Sy bevindinge is na forensiese deskundiges in die Verenigde Koningryk en Nederland gestuur vir verdere insette en kommentaar. Kundiges van albei lande het saamgestem met soortgelyke studies wat in die VSA gedoen is, wat die duur ontwikkeling van ʼn ballistiese databasis as ʼn doeltreffende en betroubare forensiese instrument verwerp het.

Klatzow het tot die volgende gevolgtrekkings gekom:

  • Vuurwapens laat nie altyd unieke merke op ammunisie wat dit afvuur nie. Daarom is ballistiese vingerafdrukke onbetroubaar as ʼn forensiese instrument.
  • Die ballistiese vingerafdruk van ʼn vuurwapen kan verander word met behulp van eenvoudige prosedures en algemene materiaal.
  • Die ballistiese vingerafdruk van ʼn vuurwapen kan oor sy leeftyd verander.
  • ʼn Doeltreffende nasionale ballistiese register is nie haalbaar nie, aangesien die veranderlikes van ballistiese vingerafdrukke te groot is.
  • Die moontlikheid van vals passings vermenigvuldig hoe groter die ballistiese register word.
  • Die koste-en-voordele-verhouding van ʼn nasionale ballistiese register is buitengewoon hoog. Te veel geld gaan aan te min voordele vir misdaadbekamping spandeer word.
  • Die gebruik van ballistiese vingerafdrukke kan ʼn voorloper van regsdwaling wees en onskuldige mense in die tronk laat beland.

Volgens Wollie Wolmarans, ʼn forensieseballistiek-deskundige, is die idee van ʼn nasionale forensiese ballistiese register nog altyd aanloklik, maar in praktyk net onhaalbaar, veral in ʼn land soos Suid-Afrika waar daar ʼn paar miljoen vuurwapens in privaat besit is.

Hy het gesê die Geïntegreerde Ballistiese Identifikasiestelsel (IBIS) wat die polisie beoog om te gebruik, verskaf net moontlike passings tussen vuurwapens en afgevuurde ammunisie, maar maak nie spesifieke identifikasies nie.

“Die soort identifikasies moet deur ʼn deskundige gedoen word, en kan jy jouself indink watter fiasko dit sal afgee as die IBIS ʼn honderd moontlikhede in ʼn saak uitgooi en elke wapen moet nou vir verdere toetsing afgehaal word?

“Die wapens sal boonop verniel en dit gaan maande neem voordat die wapens aan die eienaars terugbesorg word. Met die ekstra lading van onnodige werk gaan die afdeling só ver agter raak met hulle werk.”

Hy meen die miljoene rande wat in so ʼn projek gestort word, sal net die polisie se werkslading verhoog, sonder enige werklike positiewe resultate vir misdaadbekamping.

ballistiese-register-afgewys

Foto: Verskaf.

Wolmarans het ook aan Maroela Media gesê die Suid-Afrikaanse polisie het al in 1948 ʼn soortgelyke voorstel om ʼn nasionale ballistiese register te skep van die hand gewys.

In ʼn brief uit die nasionale argief het ene hoofkonstabel Brits, wat in daardie stadium die hoof van die polisie se ballistiese eenheid was, ook gesê vuurwapens se ballistiese vingerafdrukke verander met tyd soos wat die wapen gebruik word, wat passings bemoeilik. Hy het gesê so ʼn register sal goed geadministreer moet word om te verseker koeëls van ʼn bepaalde vuurwapen word nie met dié van ʼn soortgelyke vuurwapen gemeng nie. Boonop het die polisie in daardie tyd ook nie veel uitstaande sake gehad waarin vuurwapens en koeëls nog geïdentifiseer moes word nie.

Ian Cameron, hoof van gemeenskapveiligheid by AfriForum, het gesê hy kan nie kommentaar lewer op die forensiese wetenskap nie, maar voorsien wel die SAPD gaan vir hulleself ʼn verdere administratiewe nagmerrie skep met dié ballistiese register.

“Die tyd en geld kan veel beter spandeer word om basiese beginsels van goeie polisiëring te verbeter,” het hy gesê.

Cameron meen die register sal net weereens wettige wapeneienaars penaliseer. Hy het veral talle vrae oor hoe die polisie die proses vir die opstel van die register sal hanteer.

“Gaan elke wettige vuurwapeneienaar hulle wapens moet invat? Hoe lank gaan hulle wag vir hulle wapens om aan hulle terug besorg te word en wie neem verantwoordelikheid vir die wapens terwyl dit nie by die eienaar is nie? Sal die dienste aan privaat instansies uitgekontrakteer word? Sal die vertroulike hantering van vuurwapeneienaars se persoonlike inligting deur die diensverskaffers gewaarborg kan word?”

Cameron meen wetgehoorsame burgers behoort bevoordeel te word deur wette wat rondom vuurwapenbesit ingestel word, maar tot dusver het die las om die wette te gehoorsaam net swaarder geword terwyl talle misdadigers steeds vry rondloop.

Fred Camphor, uitvoerende hoof van die SA Jagters en Wildbewaringsvereniging, het Klatzow se bevindinge verwelkom. Hy het gesê Suid-Afrika se wettige vuurwapengemeenskap staan dikwels aan die ontvangkant van die SAPD se talle irrasionele besluite terwyl die polisie skaars hulle eie huis in orde kan hou.

“Ons hoop Klatzow se onlangse bevindinge sal die SAPD aanmoedig om eerder ander sinvolle en haalbare maatreëls oor vuurwapenverwante misdaad in die land te oorweeg, as om wettige vuurwapeneienaars te vervolg,” het Camphor gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Eish ·

Baie interressante en nuttige artikel.
Voorwaar n deeglik nagevorste stukkie werk.
Eienaardig dat die ballistiese kenners in die SAPS nie insette gelewer het tot dié strekking tydens die besluit nie.

Alida ·

Niks gaan werk nie. So vinnig as wat die SAPD “beslag” le op ‘n wapen word dit aan die misdadigers verkoop. Wys ons waar word dit vernietig !!!!

Carel 2 ·

Ek dink in 99.9% van die misdaad wat met vuurwapens gepleeg word is dit met onwettige wapens, of met SAPS wapens so hoekom ons wettige wapens toets? Ek gee nie om as hul my wapens toets nie maar reel dan afspraak met my ek bring hom na SAPS per afspraak, hul vuur hom in my teenwoordigheid en ek vat hom huis toe maar om hom in te stuur dink nie so nie Ek sal Hof toe gaan om dit te keer want hul sal hom verloor, verhuur of beskadig.

Hendrik ·

Laat die SAPS eers vir ons n toetslopie doen met al die wapens in die staat se besit. As dit werk, kan hulle dit maar by privaat eienaars implementeer.

PJC ·

Hierdie is net nog een van hulle skematjies om hulle hande op ons vuurwapens te lê. Dit laat my net weereens wonders wat hierdie ANC regering beplan dat hulle ons so dringend ons vuurwapens wil ontneem. Dit lyk eintlik asof iets hulle jaag.

LB S ·

Eers die planne om die Noodtoestande-wette te verander, bv Internet te mag blok, en nou diè?
Ek vertrou die klomp gladnie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.