Kommer oor bouwerk wat brulpaddas by Heidelberg kan bedreig

(Foto: Facebook/Johan Marais – Herpetologist and Naturalist)

Die VF Plus in die Lesedi-munisipaliteit in Heidelberg, Gauteng, het verskeie voorstelle by die munisipale owerheid se departement van ontwikkeling en beplanning ingedien om die kwesbare brulpadda-bevolking van Heidelberg, die spesie se natuurlike habitat, te help beskerm.

Mari Boshoff, ʼn VF Plus-raadslid, sê inwoners van Heidelberg is gekant teen ʼn nywerheids- en kommersiële ontwikkeling in uitbreiding 24 weens vrese dat dit tot die uitwissing van die grootbrulpadda (Pyxicephalus adspersus), sowel as swak dienslewering in dié gebied kan lei.

Sy sê dié merkwaardige brulpadda-spesie, wat diep onder die grond woon en in die reënseisoen begin kop uitsteek, “is een van Heidelberg se mees besonderse toeriste-aantreklikhede”.

“Brulpaddas broei net een of twee keer per jaar, gewoonlik tussen Desember en Januarie. Hulle is selektief in hul teling en doen dit net wanneer weersomstandighede reg is. Dit, tesame met die gebrek aan monitering van die Afrika-brulpadda, maak hierdie spesie besonder kwesbaar en inwoners voel dat hulle ten alle tye beskerm moet word.”

(Foto: Verskaf)

Boshoff sê in 2021 het Heidelberg meer reën as gewoonlik gehad en sodoende het die grootbrulpaddas ná sewe jaar se afwesigheid in massas na die oppervlakte gekom.

“Wat hierdie spesie so spesiaal maak, is dat hulle ondergronds woon en daar vir sewe tot agt jaar sal bly totdat die weeromstandighede ideaal genoeg is om te broei.

“Verlede jaar was daar slegs een mannetjie en een wyfie wat na die oppervlakte gekom het om te broei.”

Volgens Boshoff is daar ʼn poel in Heidelberg waar die brulpaddas jaarliks uit die grond kom om te broei, en dat die gemeenskap sal baklei om dit te beskerm.

“Hierdie gebied is tans nie toegemaak en beskerm nie. Ons hoofplan is om die area veilig af te baken met ʼn heining wat die paddas steeds in staat sal stel om vrylik rond te beweeg.

“Daar moet duidelike padtekens en inligtingstekens opgerig word. Daar moet ook gekyk word na die spoedgrense in die gebied.”

Een van die voorstelle wat die VF Plus ingedien het om die beskerming van die brulpadda te verseker, is dat ʼn tweede behoorlike impakstudie vir die ontwikkeling gedoen moet word. ʼn Openbare deelname- proses moet ook volgens Boshoff plaasvind voordat die ontwikkeling goedgekeur kan word.

Sy sê ʼn impakstudie is in 2009 gedoen wat ʼn buffer en ʼn park tussen die brulpadda-bevolking en die nuwe ontwikkeling aanbeveel het. Die voorstelle is reeds uitgevoer.

Die tweede impakstudie, 14 jaar later, is om vas te stel of die brulpadda-bevolking verder in uitbreiding 24 inbeweeg het.

“Die mannetjies-brulpaddas bly in hierdie poel waar die beplande ontwikkeling gaan plaasvind. Hoewel die wyfies ongeveer ʼn kilometer verder daarvandaan woon, word hulle geroep deur die gekwaak van die mannetjies.

“Hierdie spesie kom altyd terug na die poel waar hulle gebore is en dit maak hervestiging onmoontlik. Dit is hoekom die impakstudie so noodsaaklik is,” sê Boshoff.

(Foto: Facebook)

“Die impakstudie moet ook vasstel of die Lesedi-munisipaliteit voldoende dienste aan die nuwe nywerheidsuitbreiding kan lewer en wat die impak van geraas en lugbesoedeling op die omliggende gebiede sal wees.

“Die departement van natuurbewaring sal die impakstudie hanteer en aanbevelings doen.

“Indien die brulpadda-bevolking se gebied vergroot het, kan die grense van uitbreiding 24 verskuif of die buffergebied vergroot word.”

Boshoff gee toe dat die gebied sukkel met ʼn hoë werkloosheidsyfer (52%) en dat die uitbreiding nuwe beleggers kan lok en ekonomiese vooruitgang kan verseker. Sy sê die streek kan nie bekostig om beleggers weg te wys nie.

“Die VF Plus is ten gunste van nywerheidsontwikkeling asook omgewingsbewaring en meen die twee moet – en kan – in simbiose bestaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johann ·

Vra vir Cerohl….hyt mos ‘n ding oor paddas stadig in ‘n pot kook.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.