Kommer oor brandsterftes in Kaapstad

Argieffoto van treinwaens in ligte laaie by die Kaapstad-stasie (Foto: Verskaf)

Die Stad Kaapstad het Sondag ʼn donker prentjie geskets oor brande wat die afgelope drie en ʼn half jaar in die Moederstad voorgekom het, die aantal mense wat in hierdie brande gesterf het en die oorsake vir dié brande.

Die stad het in ʼn verklaring gesê alkoholmisbruik en nalatigheid is ʼn groot rede vir brande in die stad wat reeds honderde mense se lewe geëis het.

Luidens die verklaring het 511 mense tussen Januarie 2015 en Junie 2018 in brande in Kaapstad gesterf. Die meeste oorledenes (53%) was mans. Altesaam 46% van hierdie sterftes het oor naweke plaasgevind en 58% van die sterftes was tussen middernag en 06:00 die oggend.

“Ons het herhaaldelik al daarop gewys dat nalatigheid en drankmisbruik ʼn rol speel in talle brande waarop ons personeel al moes reageer,” sê JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit. “Ons statistiese ontleding van hierdie voorvalle ondersteun hierdie bewering, wat beteken ons sal nog meer moet doen om die publiek hiervan bewus te maak en te onderrig.”

Die stad se statistieke toon dat geboubrande en brande van voertuie met tussen 17% en 19% toegeneem het tussen die 2016-’17-boekjaar en die 2017-’18-boekjaar. “Hierdie brande hou direk verband met die toename in betogingsaksies wat ons die afgelope jaar gesien het, asook die brandstigtingsaanvalle op die Metrorail,” sê Smith.

Veldbrande het wel in hierdie tyd met 10,2% afgeneem.

“Wat interessant is, is dat brande by formele wonings toegeneem het (toename van 10,73%). Hoewel daar ook ʼn toename was in brande by informele wonings (toename van 5,51%), het die aantal wonings wat deur brande in informele gebiede geraak is aansienlik afgeneem (afname van 49%),” het Smith gesê.

“Ons glo daar is groter bewusmaking rakende brandveiligheid onder inwoners, maar soos die dodetal aandui, is daar nog baie werk om te doen. Ons inspekteurs doen soveel moontlik inspeksies van geboue en gevaarlike installasies as wat ons hulpbronne toelaat.

“Ons het doodeenvoudig nie die hulpbronne om elke liewe gebou individueel te inspekteer nie en daarom doen ons ʼn beroep op gebou-eienaars en inwoners om hulself te vergewis van die Gemeenskapbrandveiligheid-bywette sodat hulle hul brandtoerusting kan nagaan en bepaal of die gebou aan die vereiste veiligheidsregulasies voldoen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

IK ·

Ek wonder hoeveel word a.g.v. diefwering vasgekeer in hul gedwonge tronke?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.