Kommer oor diarree-uitbreking in Mpumalanga

Argieffoto (Foto: Parentingupstream, Pixabay)

Meer as 1 300 gevalle van diarree is die afgelope week in die Ehlanzeni-streek in Mpumalanga aangemeld.

Zibonele Mncwango, woordvoerder van die provinsiale regering, het gesê die uitbreking word as ʼn ernstige bekommernis bestempel aangesien dit nou voorkom of dié infeksie van een omgewing na ʼn ander versprei.

“Meer as 1 300 gevalle is die afgelope week by verskeie gesondheidsinstansies veral binne die Mbombela-munisipaliteit aangemeld,” het Mncwango gesê.

Die Ehlanzeni-streek bestaan onder meer uit Mbombela, Lydenburg, Barberton, Hazyview en Sabie Park.

Dit is in dié stadium nog nie duidelik presies wat die oorsaak van die diarree-uitbreking is nie.

“Watertoetse word herhaaldelik op ʼn daaglikse basis deur die Ehlanzeni-distriksmunisipaliteit, die departement van water en sanitasie sowel as die Stad Mbombela uitgevoer,” het Mncwango gesê.

Mncwango het bygevoeg dat die provinsiale regering tevrede is dat daar ten spyte van gerugte wat die ronde doen geen sterftes aan dié uitbreking verbind kan word nie en het ʼn beroep op inwoners gedoen om kalm te bly en gehoor te gee aan voorkomingsmaatreëls terwyl hulle met die uitbreking klaarspeel.

Inwoners word verder aangemoedig om gereeld hande te was voor hulle eet, en ook ná hulle die badkamer gebruik het, vullis weggegooi het of babadoeke omgeruil het. In terme van voedselvoorbereiding word mense aangemoedig om vrugte en groente af te skil en behoorlik te was, kos, veral vleis, ordentlik gaar te maak en om voedsel in ʼn skoon, koel plek te stoor.

Inwoners word ook aangemoedig om veilige water te gebruik of water vir drie minute lank te kook voor dit gebruik word.

“Mense word aangemoedig om onmiddellik na die naaste gesondheidsfasiliteit te gaan as hulle simptome soos diarree, naarheid en braking asook maagkrampe ervaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Neewat ·

OMDAT AL DIE DAMME EN RIVIERE SE WATER VROT is, want niemand wil luister nie . niemand wou luister toe daar gese is hulle moet meer opgaardamme bou omdat die Kaap uit water gaan hardloop nie, nou luister niemand as daar gese word mense gaan SIEK raak agv vuil DAMME nie . die regering weet altyd van beter.

Phillip ·

Ek en my suen was in lipopo provins hy het daar die simtome wat mm hier bo gee gehaad eers naar heid toe braaking en daar na maagwer erg was bekommerd oor hom dwaalboom omgewing in die bosveld

Adri ·

Phillip, probeer weer, asseblief. Ek verstaan nie wat jy probeer sê nie.

Susan ·

Ook in Gauteng. Gewone diarree is binne 3 dae weg, maar die kiem nou vat so 7 plus dae en kan slegs met baie sterk antibiotika behandel word. Ek drink slegs gekoopte water en was alles, maar die kiem is lugdraend en dokters het geen benul waarvan almal siek word nie.

Katerina ·

Een van my dogters werk by n apteek in Nelspruit en sy se baie mense is siek. Dis kommerwekkend.

Riaan ·

Stuur julle rek vir die Staat hulle is verantwoordelik daar voor.Maak soos hulle pak die skuld op iemand.

Lucy ·

Ek, my seun (26) en twee dogters 13 en 8 jaar oud het hierdie virus gekry, ons woon in Witrivier. Dit slaan net skielik toe, hierdie oorweldigende naarheid en dan bly jy opgooi, mens kan nie glo hoeveel jy kan opgooi nie tot jy hierdie virus het nie. Dit het (natuurlik) so nege uur die aand begin, gelukkig het ek al geleer om altyd medikasie vir die tipes virus in die huis te hou. Dit het regdeur die nag aangehou en die volgende oggend het ons gaan Buscopan en Energizer koop want toe is ons fut geheel en al uit.

Weet nie wat dit veroorsaak nie maar ek kry babas en jong kinders en bejaardes jammer as hulle dit moet kry want dit is die afstootlikste gevoel wat jy jou kan voorstel….

Snaaks dat niemand kan uitvind wat dit veroorsaak nie…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.