Kommer oor dreigende medisynetekorte in Mpumalanga

Die departement hou vol daar is nie ‘n tekort aan voorraad nie. (Argieffoto: Ibrahim Boran/Unsplash)

Die departement van gesondheid in Mpumalanga hou voet by stuk dat daar geen tekort aan medisynevoorraad in die provinsie is nie.

Dít ondanks deurlopende bewerings dat pasiënte gereeld by klinieke of hospitale weggewys word weens ʼn gebrek aan voorraad.

Dumisani Malamule, woordvoerder van die departement van gesondheid in die provinsie, sê daar was wel verlede maand uitdagings nadat die departement na ʼn nuwe diensverskaffer oorgeskakel het.

ʼn Stryd tussen die vorige diensverskaffer, Vikela Healthcare Logistics, en die nuwe verskaffers, Bongani Rainmaker Logistics en Osiris Healthcare, het boonop in die hof gedraai nadat Vikela die aanstelling van die nuwe kontrakteurs betwis het.

Luidens berigte het Vikela in die hof onder meer aangevoer die nuwe kontrakteurs het nie die vaardighede om die medisynedepot vir die provinsie te bestuur nie.

Malamule sê Vikela se aansoek om die aanstelling van die nuwe kontrakteurs te betwis is egter van die hand gewys en die oorgangsprobleme is sedertdien uitgestryk.

Hy sê die nuwe verskaffer is boonop aangesê om enige plekke waar tekorte of probleme ondervind is, dringend te prioritiseer. Volgens hom is daar in dié stadium geen tekorte nie.

ʼn Bron wat op voorwaarde van anonimiteit met Maroela Media gepraat het, hou egter vol dat daar nie genoeg voorraad by die Middelburg-depot, van waar medisyne na die provinsie versprei word, gehou word nie.

“Daar is tans nog genoeg voorraad, maar as hulle dit nie binne die volgende drie weke behoorlik gaan aanvul nie, kan die hele stelsel inmekaarstort.”

Hoewel daar voorraad by die depot is, is dit volgens die inligtingsbron nie genoeg om deurlopend in die vraag na medisyne te voorsien nie.

Waar hospitale of klinieke vantevore groot hoeveelhede voorraad kon bestel, word hulle glo nou beperk tot 20 of 30 items per keer.

Die LUR vir gesondheid in die provinsie, Sasekani Manzini, het die depot vroeër besoek. (Skermgreep: YouTube)

Werner Weber, VF Plus-leier en lid van die provinsiale wetgewer in Mpumalanga, sê ook die party is bekommerd dat talle hospitale en klinieke pasiënte, veral dié wat medikasie vir MIV/vigs, TB, hoë bloeddruk of ander chroniese siektes benodig, steeds wegwys weens ʼn tekort aan voorraad.

“Ondanks die feit dat die LUR vir gesondheid in Mpumalanga, Sasekani Manzini, belowe het dat al die provinsie se gesondheidsgeriewe teen einde verlede maand genoeg chroniese medikasie sou hê, blyk dit dat sommige klinieke steeds ʼn tekort aan medisyne het,” sê Weber.

“Dit sluit ook ʼn tekort aan kritiek noodsaaklike mediese items, soos broodnodige persoonlike beskermende toerusting, in.”

Die party het reeds vrae aan die LUR oor die situasie gerig en Weber sê hulle gaan daarop aandring dat ondersoek ingestel word na die tekorte. Die VF Plus eis ook dat die betrokke amptenare verantwoordelik daarvoor gehou word.

Die EFF in Mpumalanga het verlede maand ʼn saak van bedrog en korrupsie teen agt amptenare van die departement aanhangig gemaak omdat hulle glo deel was van die proses om die tender na bewering onreëlmatig aan die nuwe diensverskaffer toe te ken.

Die EFF beweer die maatskappy voldoen nie aan die verpligte vereistes vir die tender – ten bedrae van R648 miljoen – vir die uitkontraktering van verkrygingsbestuur, die bestuur van pakhuise en die verspreiding van medisyne en farmaseutiese benodigdhede, óf die bestuur van inligting vir die departement van gesondheid nie.

Die kontrak is drie jaar lank geldig.

Collen Sedibe, die EFF se provinsiale voorsitter, het vroeër die erns van die situasie benadruk en gesê die Middelburg-depot is die hartklop van die stelsel in die provinsie omdat alle medikasie van daar af na klinieke en hospitale versprei word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.